Vrouwees vandag

Foto: Maroela Media

Liesel Krause-Wiid. Foto: Maroela Media

deur Liesel Krause-Wiid

Wat ʼn voorreg is dit om ʼn vrou te wees! Ek glo dat vroue vandag ʼn reuse-rol in die samelewing en wêreld speel. Internasionaal is vroue soos Hillary Clinton, Theresa May, Angela Merkel en nog meer besig om hul merk te maak.

Maar ek glo waar ons die grootste verskil kan maak is binne ons eie gesinne. Die manier waarop ons optree binne ons gesin, hoe ons ons kinders grootmaak en toerus, het ʼn enorme impak op die wêreld. Ons voorbeeld en woorde word húlle optrede en dit bepaal die toekoms.

Ek het agtergekom dat selfs iets so gering soos my gemoedstoestand my gesin se houding vir die dag bepaal. As ek af en negatief is, smeer dit af op hulle.

Dit bly ʼn uitdaging om al die verskillende rolle van vrouwees met grasie te hanteer. Jy moet huweliksmaat wees, mamma wees, kind van God wees, jou loopbaan bevorder, betrokke wees by die kerk en nog vele meer.

Vroue voel gereeld skuldig wanneer hulle nie voldoende aandag aan van hierdie fasette van hul vrouwees gee nie.

Ek worstel self daarmee om gebalanseerd te leef. Tog is daar goed wat ek deur die jare gevind het my telkens ʼn nuwe asem gee. Ek deel dit graag met jou.

Rus gereeld by God

By God se voete kry ek nuwe asem en nuwe energie om voort te gaan. Hy rus my toe en maak my bekwaam. Hy hou my staande en help my om druk te hanteer. Jesus sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matteus 11:28).

Moenie iemand anders probeer wees nie – word die vrou wat God bedoel het jy moet wees

Ons leef in ʼn samelewing waar mense hulself gedurig met ander vergelyk. Sosiale media bevorder dié neiging. Ek glo God het elkeen van ons uniek geskape en ek en jy moenie probeer om iemand anders te wees nie. Net jy kan 100% jy wees. Moenie iemand anders se resies probeer hardloop nie. Ek vra myself gereeld af: Wat gee my energie en wat roof my energie? Wanneer ek goed doen wat strook met die gawes en die talente wat God my gegee het floreer ek. Wanneer ek my talente uitleef geniet ek my lewe soveel meer. Wanneer jy jou passie volg, loop jy jou vas in die doel en plan wat God met jou lewe het.

Leef aandagtig

Proe die lewe, moet dit nie net haastig afsluk nie. Ruik die vars lug, kyk in jou geliefdes se oë, neem die oomblik in. Die Engelse praat van die huidige as “the present” en dit is inderdaad ʼn geskenk. Ek glo God wil hê ons moet elke dag aangryp en voluit leef. Moenie oor sy genade hardloop nie.

Omhels jou vrouwees, jy hoef nie soos ʼn man op te tree wanneer jy jou in ʼn manswêreld bevind nie. Jou vrouwees is juis dit wat jou anders maak, dit wat jou uniek maak. Wees verseker jy maak ʼn impak en ʼn verskil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

lynette ·

Ai dit is darem die mooiste mooi wat ek hier lees . Om n vrou te wees is alles wat ons van God ontvang het . En dit net reg moet gebruik . Dankie vir die mooi

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.