Vrystaat dokters draf kontinente plat

Foto: Facebook/Leonie Stander

Foto: Facebook/Leonie Stander

Sonja Viljoen (50) en Leonie Stander (50), albei dokters van Kroonstad, het pas lid geword van die Marathon Grand Slam-klub (hardlopers wat ‘n marathonafstand van 42,195 km of langer op elk van die sewe kontinente en die Noordpool-marathon afgelê het). Dié twee kranige drawwers het vandeesmaand ʼn marathon in die Noordpool voltooi, wat hulle die eerste vroue van Suid-Afrika op dié gesogte klub se lys maak.

“Dis vir ons spesiaal – ons het vanaf einde 2012 begin werk in dié rigting,” het die twee vroue aan Maroela Media gesê. “Ons eerste marathon van dié Sewe Kontinente-wedloop was in Maart 2013. Ons het in ʼn tydperk van drie jaar alles deurgewerk.”

Hulle het soveel wedlope voltooi dat hulle nie eintlik weet hoe ver hulle al gedraf het nie, maar Sonja meen dis baie kilometers. “As marathonhardloper moet jy eintlik jou kilometers (wat jy hardloop) neerskryf, maar ons doen dit nie. Dis ʼn hele paar hardloopskoene later – my kinders sê ek het meer hardloopskoene in my kas as klere.”

Leonie sê hulle doen ook moeite om die land waar hulle gaan draf, te verken. “Ons toer en ons doen die marathon. Wanneer ons besig is met beplanning, kies ons gewoonlik ʼn wedloop in ʼn interessante plek en wat inpas by ons skedule. Toe ons byvoorbeeld die Ocean View-wedloop, suid van New York, gaan hardloop het, het ons terselfdertyd die Grand Canyon besoek.”

Die twee vroue vertel van al die wonderlike plekke wat hulle al saam gesien het, maar Sonja meen die wedlope was elkeen só uniek en spesiaal dat dit eintlik moeilik is om ’n gunsteling te kies. Leonie sê twee het vir haar uitgestaan, maar veral die wedloop in Suid-Amerika. “Die Inca Trail-marathon was ongelooflik, maar ook moeilik want die hoogte bo seespieël is erg. Ek het dit vreeslik geniet!”

Om ʼn marathon in normale omstandighede te voltooi is reeds ʼn prestasie op sigself, maar om so iets in die Noordpool aan te pak, moet ʼn perd van ʼn ander kleur wees. Dit het hulle sewe uur en 30 minute geneem om dié wedloop te voltooi, en Leonie meen jy kan nie eintlik die tyd met ander marathons vergelyk nie. “Dis ʼn heel ander tipe wedloop.”

Sonja sê sy en Leonie het tydens dié strawwe wedloop bymekaar gebly om seker te maak hulle sien die eindstreep. “Die temperatuur was nie so sleg toe ons begin draf het nie – dit was net so oor die -20 grade Celsius. Maar soos die dag gevorder het, het die temperatuur gedaal tot -40 grade Celsius. As jy daardie temperature haal, kan jy nie bekostig dat selfs ʼn klein stukkie van jou vel uitsteek nie.”

Hoewel hulle hul nie net oor die koue moes bekommer nie, maar ook oor ysbere en ander uitdagings wat net die Noordpool kan bied, het hulle volhard en die wedloop voltooi. “Dit was ʼn ongelooflike ervaring, veral om te weet ons het dit nou gedoen,” sê Leonie.

Wat is die volgende uitdaging wanneer jy die wêreld oorwin het? Dié twee het reeds planne vir die volgende wedloop. Hulle het boonop gehoor daar is nou ʼn wedloop in die ruimte ook…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Paul ·

Die noordpool is nie op ‘n kontinent nie – dis in die see, meestal met ys bedek.

Vir watter kontinent “tel” dit dan?

Soos ek gou in ander berigte kon agterkom, het hulle nie sopas deel geword van die “Sewe Kontinente-klub” nie. Hulle was reeds deel daarvan. Hulle is nou lid van die sogenaamde “Grand Slam”-klub, wat die sewe kontinente EN die noordpool insluit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.