Vyf slim maniere om krag te bespaar

(Foto: Pixabay)

Te midde van voortdurende beurtkrag en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se goedkeuring van kragtariefverhogings elke jaar vir die volgende drie jaar, was dit nog nooit belangriker as nou om krag te bespaar nie.

Nersa het vroeër vandeesmaand Eskom goedkeuring gegee om ʼn 9,4%-verhoging in 2019/2020 te implementeer. ʼn Verhoging van 8,1% is vir 2020/2021 goedgekeur en 5,2% in 2021/2022. Intussen het Suid-Afrikaners die afgelope paar dae onder fase 4-beurtkrag gebuk gegaan en is daar nog geen aanduiding dat beurtkrag binnekort tot ʼn einde sal kom nie.

“Baie Suid-Afrikaners krap kop om hul huishoudelike begroting self verder te rek as wat hulle reeds doen. Net vanjaar sien ons reeds ʼn 10%-toename in ons elektrisiteitsrekeninge,” het Susan Steward van Budget Insurance gesê.

Steward raai mense aan om hierdie stappe te volg om energie te bespaar in dié strawwe finansiële tyd:

  1. Skakel oor na energie-doeltreffende gloeilampe as jy dit nie reeds gedoen het nie. Hoewel hulle duurder is as tradisionele gloeilampe, sal jy op die langtermyn bespaar. Dié gloeilampe hou ook langer.
  2. Slim-muurproppe is ʼn maklike en doeltreffende manier om jou te help om jou energieverbruik in jou huis met min moeite te verminder. Slimproppe kan gestel word om toestelle soos ʼn televisie of musiekstelsels af te skakel eerder as wat dit op bystandsmodus is. Slimproppe kom gewoonlik saam met ʼn gerieflike app wat dit maklik maak om al jou toestelle te beheer.
  3. Tydhouers kan help om elektriese toestelle soos swembadpompe, geisers en veiligheidsligte doeltreffend te bestuur, deur dit slegs krag te laat gebruik wanneer dit nodig is.
  4. Om van groot toestelle soos ʼn yskas ontslae te raak kan dalk teenproduktief voel wanneer jy geld probeer spaar, maar nuwer yskaste is verreweg meer energie-effektief as dié wat al vir jare in die familie is. Toestelle word van A tot G gegradeer in terme van hul energie-doeltreffendheid. A is die meeste energie-doeltreffend en G die minste.
  5. ʼn Langtermynplan is altyd meer effektief as ʼn korttermynoplossing. Deur byvoorbeeld sonpanele te installeer, gasstowe te gebruik in plaas van elektriese stowe en om van lugreëling na waaiers oor te skakel, sal ʼn groot impak op jou elektriese rekening hê. ʼn Voorafbetaalde elektriese meter is ook meer effektief omdat jy jou huis se verbruik beter kan monitor en daarom ook beter kan begroot op ʼn maandelikse basis.

“Die beste manier om te spaar is om seker te maak dat almal in die huishouding op dieselfde bladsy is. Weet jou kinders, ouers en lewensmaat hoeveel geld elke maand op elektrisiteit bestee word? Deur ʼn spanpoging aan te wend kan die beste uitkomste behaal word,” het Steward gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andries Visagie ·

Gaats, vriende, wat is ‘n “tydhouer” – julle bedoel seker “tydskakelaar”, of hoe?

Ingrid ·

Ons het gasstoof en geysers, maar sien GEEN verandering op ons rekening nie.
Munisipaliteit is SLIM en SKELM

Sonja ·

ingrid self ook pre paid en het d afgelope weke n daadwerklime poging aangewend ons het gas stoof kyk bitter min tv sit net 1 lig aan en snaaks my krag bly op 10 eenhede per dag geyser op timer so ek verstaan nie?

Karin ·

Calamarie! Ek wou nou net presies dieselfde sê! Hulle spaar mens elke dag krag… Sommige dae 2 of 3 keer per dag… ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.