Waarom verloor jy jou eetlus wanneer jy siek is?

siek1

Foto: Pixabay.com

Onderdruk ons een van Moeder Natuur se oudste en effektiefste bakterie-bevegtende meganismes deur pasiënte te forseer om te eet nadat hulle hul eetlus verloor het tydens ʼn infeksie?

ʼn PhD-student in fisiologiese wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), Gustav van Niekerk, argumenteer dit mag wel die geval wees en hy pleit ook dat hierdie standaard mediese praktyk herondersoek word.

In ʼn artikel wat die afgelope week in die vaktydskrif Autophagy gepubliseer is, argumenteer Van Niekerk en medenavorsers van die departement fisiologiese wetenskappe aan die US, verlies aan eetlus tydens infeksie of siekte verrig ʼn baie belangrike funksie.

Hierdie funksie sluit die vermoë van selle in om hulself bloot te stel aan autofagie, wat letterlik beteken dat die sel “homself kan eet”.

Onder normale omstandighede gebruik selle autofagie (ʼn soort herwinningsprosesserings-fabriek) om afvalprodukte te herwin nádat seldele afsterf of beskadig word. Deur autofagie is die sel dan in staat om hierdie afgeweerde seldele te herwin, wat andersins die sel skade kon berokken.

Die gedegradeerde materiaal word dan as energie gebruik om nuwe seldele te vervaardig.  Met ander woorde, alle selle in die liggaam word gedurig geregenereer om sodoende optimaal te funksioneer.

Van Niekerk en sy mede-outeurs argumenteer dat ʼn tydelike vastende periode tydens infeksie die sel van noodsaaklike voedingstowwe ontneem en daardeur die sel stimuleer om te herwin (autofagie). Daarbenewens kan bakterieë en viruse, wat die sel binnedring, ook afgebreek word deur dieselfde herwinningsproses (sien Figuur 1).

Van Niekerk verduidelik: “Die immuunstelsel word soms as die ‘weermag’ gesien, terwyl ʼnormale’ selle soos lewerselle en neurone as ‘burgerlikes’ beskou word. Volgens hierdie manier van dink, beskadig die indringer-bakterieë en -virusse die ‘onbeskermde burger’, terwyl die weermag (die immuunstelsel) toegewyd is om die infeksie te beveg.

Maar ‘normale’ selle is nie noodwendig so hulpeloos nie.

“Ons dink die stimulering van autofagie is die sel se selfbeskermingsmeganisme en vervul daardeur ʼn kritiese rol in die liggaam se immuunstelsel.

“Op hierdie wyse kan die ‘burgerlike’ selle optree soos ‘guerrilla-stryders’ wat die verspreiding van infeksie teenstaan totdat die “professionele magte” (immuunselle) gemobiliseer kan word.”

Prof. Anna-Mart Engelbrecht, hoof van die departement fisiologiese wetenskappe, sê hierdie nuwe denkwyse oor die rol van autofagie het belangrike implikasies in die mediese dogma: “Dit is reeds bewys dat kankerpasiënte, wat voor chemoterapie vas, minder van die skadelike newe-effekte soos moegheid, swakheid, hoofpyne, naarheid en diarree ervaar.”

Verdere navorsing nodig

Die navorsers beveel nou ʼn dringende revaluering van voedingsondersteuning in die konteks van beheerde ondervoeding aan, waardeur opregulering van autofagie meer ondersteuning kan bied.

Die opregulering van autofagie kan bykomende voordele inhou, soos om dele van bakterieë en virusse wat deur die sel se herwinningsfabriek opgelewer word, aan immuunselle bloot te stel. Sodoende kan die immuunselle ‘opgelei’ word om die bakterieë en virusse te herken sodat hulle teenliggame kan produseer. Hierdie opregulering van die herwinningsfabriek (autofagie) kan dus ook verder aanleiding gee tot effektiewer maniere om entstowwe te verbeter.

Die navorsers beklemtoon egter korttermyn-voedingsonttrekking moet nie verwar word met die welbekende en effektiewe immuun-inhiberingseffek van langtermyn-uithonger nie.

Hulle benadruk ook daar is wel omstandighede wanneer voedingsaanvullings ʼn terapeutiese voordeel kan inhou. Sommige patogene kan byvoorbeeld sekere stappe van die autofagie-proses kaap. Deur pasiënte dus op grond van die tipe patogeen te evalueer, kan vasgestel word watter tipe infeksies deur permissiewe ondervoeding behandel moet word, teenoor ander infeksies waar aggressiewe aanvulling voordeliger sal wees.

Die mede-outeurs van hierdie artikel sluit in: Prof. Anna-Mart Engelbrecht, dr. Ben Loos en dr. Theo Nell. Hierdie werk word deur die Kankervereniging van Suider Afrika (KANSA), die Nasionale Navorsingstigting (NNS) en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Gustav ·

Hallo Mike

Dis die idee op ‘n ander manier verduidelik:

As jy ʼn sel ‘uithonger’ word die sel se ‘herwinnings fabriek’ (autofagie) aangeskakel. Die sel kan dan nie-kritiese komponente afbreek tot rou materiaal, wat dan weer gebruik kan word vir energie of om kritiese komponente wat beskadig is te vervang.

Maar hier is die ding- die ‘herwinnings fabriek’ (autofagie) kan net so maklik ʼn bakterie binne ʼn sel verteer as wat dit die sel se eie komponente verteer. So, as jy die ‘herwinnings fabriek’ (autofagie) volstoom laat hardloop gedurende ʼn infeksie maak jy dit maklik vir selle om bakterie dood te maak: die sel hoef doodeenvoudig net ʼn bakterie te teiken vir ‘herwinning’ (die autofagie is ʼn prosesse wat nie vrae vra nie!) Letterlik, autofagie maak dit moontlik vir ʼn sel om homself te verdedig teen bakterie wat die sel geïnfekteer het deur bloot net die bakterie te verteer (‘herwin’).

Om op te som, deur nie te eet gedurende ʼn infeksie veroorsaak jy dat jou selle nie alle voedingstowwe ontvang, en gevolglik autofagie moet aktiveer. Dus maak jy dit makliker vir die sel om homself te ‘verdedig’ deur die bakterie te verteer.
Hoop dit help…

Groete
Gustav

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.