Wanneer honger magies raas

seun-huil

Foto: Kat J/Unsplash.com

My naam is Fanie. Ek is agt jaar oud. My mamma werk nie. Ons bly saam met baie ander mense op een erf. Ons is ver van die skool af, maar tannie Rita sê die skool is nie nou oop nie. Tannie Rita is baie gaaf. Sy praat altyd so mooi met my en as my magie hongergeluide maak, bring sy vir ons kos. Ek gaan slaap baie aande met ʼn honger magie. Dis seer as my magie so gor-gor, maar darem raak ek vinnig aan die slaap. As tannie Rita vir my huiswerk van die skool af bring, sukkel ek bietjie om die werk te verstaan. Ek mis my juffrou. Sy het altyd so mooi vir ons vertel hoe om die werk te doen. Ek mis ook vir Griet. Sy is my beste maatjie. Sy bring vir my ʼn ekstra broodjie skool toe, dan eet ons pouse saam. Die tannie by die kantoor gee ook vir my kos, maar dan bêre ek dit vir my ma en my bababoetie.

Tannie Rita kom kuier nog by ons, maar sy sê sy mag nie meer vir my kos saambring nie. Sy het saam met my gehuil en my net ʼn stywe drukkie gegee. Sy mag nie eintlik nie, maar ek dink sy het die drukkie meer nodig gehad as ek. Haar hart was baie seer. Sy sê sy is ʼn maatskaplike werker. Ek weet nie eintlik wat dit beteken nie, maar ek dink dis iemand wat lief is vir mense.

Ek dink partykeer sy is ʼn engel soos in die Bybel, want sy lag altyd as sy ons sien en laat my hartjie beter voel. Sy moet ʼn baie groot hart hê. Ek weet nie waar anders sy so baie liefde vir ons almal wat hier bly, kan bêre nie. Sy sê dat dit haar werk is om na my hartjie, my lyfie en my magie te kyk. Mamma sʼn ook. Mamma se hart is ook baie keer seer. Boetie sʼn seker ook, want hy huil baie. Tannie Rita het die ander dag sommer self vir Boetie met haar eie geld gaan melk koop. Dit het sommer baie gehelp. Boetie het dadelik opgehou huil toe hy sy melkies gekry het.

Die tannie op die TV het blykbaar gesê dat net sy en die mense wat vir haar werk, kos mag uitdeel. Dis vreemd, want ek ken nie die tannie nie. Ek het haar nog nooit gesien nie en ons het nog nie kos gekry nie. Ai, my magie raas aanmekaar.

Mamma sê die winter is op pad en ek moet warm aantrek, maar my klere is sommer baie te klein en my skoene pas glad nie. Mamma bêre dit nou maar vir Boetie. Tannie Rita het gesê sy sal vir my skoene bring as sy weer kom. Sy het sommer baie mense bygekry wat nou, nes ons, ook honger is en warm klere en komberse nodig het. Hulle mag mos nie nou werk nie, so nou kan hulle ook nie vir hul kindertjies kos of skoene koop nie. Tannie Rita het darem ook baie wol vir outannie Sarie in die karavaan gebring. Sy het gesê sy gaan vir ons almal warm slaapsokkies en truie brei. Ek kan nie wag nie!

Ek wens die skool wil weer oopmaak. Ek het nie eintlik maatjies hier nie en Boetie is te klein om saam met my te speel. Mamma het gesê as ek slim leer, kan ek eendag skool klaarmaak en met my eie geld ʼn regte huis koop, maar ek sukkel met die skoolwerkies sonder juffrou. En ek mis vir Griet. Sy het my sommer baie laat lag.

Tannie Rita kom môre weer kuier. Dan sal ek vir haar sê hoe baie ek vir Juffrou en Griet mis, en dat my magie vandag sommer baie geraas het.

*Die karakters in hierdie artikel is fiktief, maar stel die werklikheid van so baie kinders in Suid-Afrika op die oomblik voor. Covid-19 en die afsonderingsmaatreëls het omvangryke maatskaplike gevolge in ons gemeenskappe. Die Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers erken die werk wat ons gemeenskapshelde in hierdie tyd doen en sal nie terugdeins as die staat met teenproduktiewe regulasies hierdie mense van hul roeping weerhou nie.

Meer oor die skrywer: Marisa Engelbrecht

Marisa Engelbrecht se liefde vir skryf het op skool reeds posgevat. Sy skryf graag oor dit wat haar na aan die hart lê en vind inspirasie in die alledaagse doen en late van haar hartsmense. Sy het bykans 20 jaar ondervinding in kommunikasie, skakelwese, bemarking en joernalistiek.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Dis jammer die wit kinders is honger, maar ek het al baie met dié kinders se wit werklose ouers in plakkerskampe te doen gehad: almal rook en oral staan drankbottels. Vreemd dat werklose mense geld vir sulke onnodige goed het. En wat die werkloosheid betref: bitter min was werkloos weens velkleur, maar daar was baie stories van drankmisbruik, alkoholisme, dwelmverslawing, daag dronk of op ‘n dwelm “high” by die werk op.
Selfs sonder regstellende aksie en BEE sal dié probleme van en redes vir wit armoede dus voortduur. Hoe stop ons dít?

SomeOne ·

aan die eenkant het ek gehuil oor die “storie” , maar aan die anderkant is dit net soos jaco se, daars plek vir drank,sigarette en dwelms, gee jy kos af by so ‘n gemeenskap en jy se dis vir die kinders, dan kry die kinders nie eers die kos nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.