Wanneer jy bang word omdat jy beter voel

depressie-hartseer-angs

Foto: Free-Photos/Pixabay.com

Dagboek van ’n wipplankryer:

Dag 131 ná die hospitaal

Liewe dagboek,

Ek voel die afgelope twee weke beter.

Ek het weer bietjie energie. Ek kry meer gedoen. My geheue is nog nie watwonders nie, maar ek voel effektiewer. Ek is uiteindelik weer op die pad boontoe van die onderpunt van die wipplank af. Niks het verander nie. Ek het vandag net besef. Dit gaan wel beter. Dit het wel sewe maande geneem om tot hier te kom. Ek hou van hierdie plek, maar dit maak my bang.

Die doel is om iewers in die middel ’n ewewig te probeer kry en nie te veel op en af te skommel nie. Vir my is dit ’n baie moeilike balanseertoertjie.

Ek is bly ek voel beter. Dit is lekker. Want uiteindelik beur ek nie meer teen die depressie op nie. Ek het ver genoeg opgespring om vry te breek van die swaartekrag van die bekende diep gat. Ek voel ek het weer vlerke. Ek haal weer asem. Ek wens ek kon altyd hier bly. Maar ek weet. Die op van elke sprong eindig altyd weer. Ek vlieg elke keer tot net bietjie te naby aan die son. En alles wat opgaan, kom weer af.

Is ek al klaar weer verby die “normaal”? Die gesonde “middel”? Wat is dit om normaal te wees? Wat is ’n realistiese teiken vir my dagtake? Hoe bestuur ek my malende gedagtes wat heeltyd vir my sê “meer en meer”? Hoe hard moet ek werk en hoe lank moet ek aanhou voor ek rem begin trap? Dalk is dít die probleem. Ek is gemaak sonder remme. Is dit ’n fabrieksfout of bloot my doring in die vlees?

Is dit realisties om normaal te jaag? Of moet ek die op-euforie geniet terwyl dit hier is?

Ja, om beter te voel is beter, maar dit maak my bang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

TESS ·

Ek huil vir jou, mag die liewe Vader jou genadig wees en jou verlos van hierdie hel. Die enigste mense wat dit verstaan is die wat self daar is en was.

jan_alleman ·

Jy gaan nou dink ek praat nonsens , maar ek het aan depressie gelei wat ander mense se depressie soos n dag op die strand laat lyk het en na jare van lyding het ek ontdek dit is alles net n swak lewer onder druk
maak seker jy eet elke dag drie borde vol spinasie ,
braai uie en knoffel wat fyn gemaal is in olyf olie en eet dit ten minste een maal per dag
eet gereeld, ten minste twee maal n week tuna , soveel vetterige vis as wat jy kan , los rooi vleis daar is te veel steroide in dit , drink een essentiale pil elek oggend , oor n maand sal jy n nuwe mens wees

Hannah ·

Moira hou net vas! Daar is baie meer begrip daar buite as wat jy dink. Die HERE se genade is eindeloos – en van die belangrikste is die korrekte medikasie. Moet net nie opgee nie – NOOIT opgee nie!

Amanda ·

Waar kry mens vir jou man die regte hulp vir bipolar depressie in Kempton Park ek dink nie hy is op die regte medikasie nie, hy bly in daai gat wegsink en ontrek hom van alles en almal en dit worry my ek weet nie hoe om te help nie. Hy slaap al sy tyd om wat hy nie by die werk is nie, ek wil hom help maar weet nie hoe nie en wil hom nie verloor nie…

Hannah ·

Amanda – jou man moet heel eerste erken dat hy ‘n probleem het met depressie en homself bereid verklaar om ‘n Dr te gaan sien. Niemand anders hoef daarvan te weet nie. Vir ‘n man (nie alles man nie….) is dit geweldig moeilik om so-iets te moet in die oe kyk. Ek kan vir jou hier die mees tragiese verhaal vertel van ‘n baie baie suksesvolle man wat aan depressie gely het – maar so bang was dat die ander mense in die omgewing dit sou uitvind. Hy het geweier om iemand te gaan spreek – het sy medikasie wat hy wel ontvang het verwaarloos en op die einde sy eie lewe geneem. So onnodig … soveel seer agtergelaat en soveel onbeantwoorde vrae. Verder bid jy. Volg die HERE opdrag waar hy vir jou in die Skrif se: “Wanneer jy bid, gaan na jou kamer en maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon” Amanda – GOD is so getrou. HY vra gehoorsaamheid – doen wat HY vir jou se en kyk wat gebeur. Ek gaan gereeld na my kamer en le op my gesig voor die HERE. Voorspoed, seen, goedheid en guns vir jou en jou man!

Moira ·

Hallo Amanda,

Ek het in een van my vorige artikels geskryf oor my besoek aan ‘n psigiatriese hospitaal. Lees gerus die artikel. ‘n Mens moet by ‘n goeie psigiater uitkom – iemand by wie jy gemaklik voel. Kry ‘n tweede of derde opinie indien nodig. Bipolêr beteken dat jy wel vir die res van jou lewe ‘n Wipplankryer sal wees, maar die behandeling kan die oppe en affe verminder. ‘n Mens gebruik gewoonlik ‘n gemoedstabiliseerder en indien nodig, ook iets vir angs as dit ‘n probleem is. Die groot deurbraak kom wanneer mens besef dit is werklik ‘n fisiese siekte en daarom is medikasie nodig. Dit is nie iets wat jy bloot kan regdink of bid nie. Net soos jy medikasie sal gebruik vir bloeddruk of diabetes, is dit iets waarsonder jy nie goed kan funksioneer nie. Dit is geensins ‘n teken van swakheid nie. Inteendeel. Dit wys jy neem beheer oor jou lewe. Dit maak van jou ‘n sterk persoon. Ek hoop jou man lees hier. Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.