Wanneer rykes oor armes stry

Amcu-lede Foto: nowry.co.za

Amcu-lede Foto: nowry.co.za

“Behandel ander mense soos julle self behandel wil word”
– Luk 6:31

Rustenburg is rusteloos, en g’n wonder nie. Aan die een kant is daar Amcu wat vir ‘n (onrealistiese?) basiese begin salaris van R12 500 vra en aan die ander kant die skatryk mynowerhede wat ‘n skrale 9% (nou moontlik 10%) verhoging aanbied. So sloer dit die laaste twaalf weke al.

Die mynbase wou nie toegee nie, want netnou skep dit ‘n presedent – en die werkers moes vir eens en altyd ‘n les geleer word. Amcu, aan die ander kant, het die werkers al soveel laat suffer en soveel beloftes gemaak dat hulle bang is om nou toe te gee vir minder – om nie eens te praat van die potensiële vernedering teenoor hulle kompetisie, Cosatu, nie. Letterlik “reuse” ego’s is op die spel.

‘n Mens kan baie sê van die Mynmagnate en Amcu, maar jy moet simpatie hê met die werkers. Enigiemand wat heeldag hard werk vir min geld sal gryp na ‘n kans om meer te verdien.

As die salarisse van die mynwerkers vir die mynbase na ‘n “heel billike salaris” lyk, dink net hoe lyk die mynbase se salarisse vir die mynwerkers. Chris Griffith, van Anglo Platinum verdien R17,6 miljoen per jaar volgens Business Report. En hy is vies omdat werkers nie tevrede is met hulle maandelikse salarisse van R4 500 nie!

Baie van ons is ook vies. Maar kan ek met reg krities wees teenoor iemand wat ontevrede is met sy/haar salaris vir ‘n tipe werk (en werksure) waarvoor ek self nie kans sien nie? Hulle sou my baie meer moes betaal om my te kry om daai werk te doen – en die beginsel is tog dat ek vir ander wil hê wat ek vir myself sou wou hê?

As die myne meer omgegee het vir hulle werkers sou hulle hulle meer betaal – en minder geld landuit vat – en as Amcu meer vir hulle kliënte omgegee het as vir hulleself, sou hulle begin onderhandel het vir ‘n minder dramatiese aanpassing. Almal sou steeds kon wen.

Maar as dit so aangaan gaan dinge net erger word. Dis dikwels hoe dit in ‘n stryd gaan: die hele geveg gaan met die verloop van tyd al meer oor die geveg self. Intussen is almal betrokke besig om net meer en meer te verloor – selfs die werkers wat wil teruggaan werk toe kan nie, want dit is te gevaarlik.

Nuwe onderhandelings is op die tafel, kom ons hoop almal tree dié keer werklik in belang van die werkers en die breër gemeenskap op.

Terwyl die mynbase en Amcu kyk wie gaan wen, lê my simpatie by die werkers. Gewone mense wat graag ‘n beter toekoms vir hulle kinders sou wou sien. Mense wat harder werk as ek, en minder kry as wat hulle verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Dit kan waar wees dat die myn werkers min verdien (met wat se jare opleiding?), maar wat van byvoorbeeld `n onderwyser/es wat met 4/6 jaar naskoolse opleiding moet begin met `n mindere salaris as R14,500 per maand?
Moet hulle ook nie vir hulle jare se opleiding vergoed woord nie?
Ons kan almal wil verhoogde vergoeding he met wat se gevolge?
`n Hoe inflasie koers wat die hele ekonomie (bevolking) raak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.