Wat as jý daagliks ʼn taxi moes gebruik?

“Mense is baie keer moeilik oor taxi’s en kla as hul werkers laat kom as gevolg daarvan, maar dit is in die werklikheid die vervoer van die werkersklas van ons land.”

Só sê Genevieve Vieira, mediaskakel vir Rada, die organisasie sonder winsbejag wat hom beywer om slagoffers van verkragting, mishandeling en die misbruik van alkohol en dwelms ʼn hupstoot in die lewe te gee.

Rada loods maandeliks bewusmakingsveldtogte om die gewone mens in ander se skoene te plaas en om hulle perspektief oor ander te verander. Hawelose mense, bejaardes en mense wat dienste verskaf het reeds aandag geniet in dié veldtogte. Vandeesmaand fokus hulle op taxi’s en padwoede.

“Die veldtog fokus op taxi-bestuurders, mense wat daagliks afhanklik is van openbare vervoer en kwessies wat lei tot padwoede. Rada se doel is om die stresvolle werksomstandighede van taxi-bestuurders ten toon te stel asook die onsekerhede van taxi-gebruikers,” skryf Rada in ʼn mediaverklaring.

Rada se derde jaarlikse Taxi Dash het mense wat nie andersins taxi’s hoef te gebruik nie, uitgedaag om ʼn Amazing Race-styl roete te voltooi deur slegs van openbare vervoer gebruik te maak.

“Dit was ʼn ervaring wat mense se oë oopgemaak het, en mense gelaat het met ʼn bietjie meer genade vir die mense met wie hulle die pad deel.”

Vieira sê die uitdagendste deel van taxigebruik vir die deelnemers was hoeveel van die roete te voet aangepak moet word.

“Baie mense besef nie dat taxi’s net sekere roetes ry, en dat gebruikers dan die res van die pad moet stap nie. So jy kan ʼn taxi iewers heen neem en dan maklik nog 10 km moet stap om by jou bestemming uit te kom.”

“Dit het die deelnemers beslis laat sukkel. Hulle het baie meer gestap as wat hulle verwag het, maar dis onvermydelik as jy openbare vervoer gebruik,” sê sy.

Vieira sê ʼn waardering vir wat mense het, is die grootste ding wat uit dié eksperiment kom.

“Ons besef net dat almal nie in dieselfde bootjie as ons is nie. En dit forseer jou om jou perspektief te skuif en om ander na ander mense en hul struikelblokke te kyk.”

“Ons wou mense laat stop en dink aan waardeur ander mense gaan, om geduldig met ander te wees en om nie net aan jou eie situasie te dink nie, maar ook aan dié van ander,” sê Vieira.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Woeter

Ek is bly daar is organisasie soos Rada met hulle Taxi dash. Wens ek kon en somer meer mense kan deel neem.

Michael

As die anc n land ordentlik kon regeer sal openbare vervoer van so aard gewees het dat taxis nie nodig was nie .