Wat is die oorsprong van die naam hartbeeshuis?

hartbeeshuisie-06

Figuur: Afbeeldings van die rooihartbees (Alcelaphus buselaphus).
Uit: Tydskrif vir Geesteswetenskappe 29(3), September 1989, p. 183.

Hierdie is die tweede artikel in ʼn reeks oor volksargitektuur. Lees weekliks nog ʼn artikel in die reeks.

Soos met die begrip hartbeeshuis, bestaan daar ook heelwat verwarring oor die oorsprong van die term hartbeeshuis. Dit kan gedeeltelik daaraan toegeskryf word dat taalkundiges die probleem slegs uit hulle eie dissipline benader het, sonder om eerstens te bepaal wat ʼn hartbeeshuis werklik is, skryf Hannes Raath, ‘n kundige op die gebied van volksargitektuur.

Omdat dit nie duidelik was waarom die hartbeeshuis so genoem is nie, was die soektog gefokus op ʼn verborge etimologie van die beskrywende element van die benaming.[1]

Die taalkundiges Elffers, Van Rijn en Pettman het aanvanklik die opvatting gepopulariseer dat hartbees(huis) eintlik ʼn vervorming van hardbies(huis) is, omdat die hartbeeshuis hoofsaaklik met harde biezen bedek was.[2] Hoewel die skrywers nie die benaming hartbeeshuis met die aard van die woningtipe in verband gebring het nie, het die teorie dat hartbeeshuis van harde biesies afgelei is, groot aanhang geniet.

Nienaber het in Planert se Handbuch der Nama-sprache gevind dat die word biesiemat as harub aangegee word. Dit is afgelei van die Nama-woord haru-omi of haru-oms, wat letterlik matjieshut beteken. Volgens Nienaber is hartbeeshut ʼn haru(b)-bies-hut. Dit is ʼn hibridiese samestelling van harub en bies, wat die koloniste as ʼn wisselvorm van hulle eie word “bees” beskou het. Haru(b)-bieshut sou dan verder ontwikkel het tot harre-bies-hut en harre-bees-hut wat volksetimologies tot hartebeeshut en later tot hartbeeshut of -huis(ie) veredel is.[3]

Hierdie teorie van Nienaber is gegrond op ʼn reeks veronderstellings wat elkeen op die voorafgaande een volg, sonder enige wetenskaplike bewyse daarvoor. Daar kon geen aanduiding in tydgenootlike getuienis gevind word wat daarop dui dat die hibridiese woord haroe-biesies ooit aan die Kaap bestaan het nie.

Hard(beeshuis) kom nie in tydgenootlike getuienis voor nie terwyl  hart(e)bees(t) in verskeie 18de en 19de-eeuse tekste verskyn. Die vroegste bekende verwysing na ʼn hartbeeshuis as sodanig is “in ’t hart beest huisje….” (1727).[4] In die resolusies van die politieke raad van 3 September 1754 word verwys na “…een Hut of sogen: Harte beeste huijsje….”[5] Van Oordt het uit ʼn Kaapse veldwagtersbrief deur J. van Renen (1769) aangehaal: “in een Harte Beest Huijsje so onder de Buyte luij genaemt”.[6] Die Voortrekkerleier LouisTregardt berig op 13 Maart 1937 in sy dagboek: “Heb Carolus gegaan om houijd te kappen voor de hartbees huisen die wij gewoonlijk maak bij die gelegentheid.”[7]

hartbeeshuisie-01

Figuur 1. Drie bootvormige hartbeeshuise by die Berlynse sendingstasie by Bethanië
in die Transorangia (detail). (James Backhouse, Bethanië, ets, 1839).
Uit: J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa
(London, 1844), teenoor p. 421.

Volgens tydgenootlike getuienis is die oorsprong van die term dus in die vorm van die hartbees (Fig. 1) geleë: Cachet verwys na ʼn hartbeeshuis beide as “hartbeesthuis” en “hartbeestbul”.[8] Backhouse skryf: “The Hartebeest houses, are so called from an imaginary similarity in their figure, to the outline of the species of buffalo, called in South Africa, the Hartebeest.”[9] Baines beweer: “It … derives its name from its resemblance to the sloping back of the animal.”[10]

Besluit:

Uit die primêre bronne is dit dus duidelik dat die term hartbeeshuis met die hartbees boksoort verband hou en nie met harde biesies nie. Oor die ooreenkoms in vorm kan daar slegs gespekuleer word. Dat die volksmens ooreenkomste tussen natuurlike vorms en die stoflike kultuur waarneem, is duidelik uit beskrywende terme soos bobbejaanboud (vorm van die kolf van ʼn Voortrekkerpangeweer),[11] kakebeenwa (na aanleiding van die geboë bo-leerbome) en werwel (die vorm van ʼn sekere tipe sluitmeganisme van ʼn deur of luik) na aanleiding van ʼn rugwerwel.

Bronne:

[1]J. du P. Scholtz, Afrikaans-Hollands in die agtiende eeu (Kaapstad, 1972), p. 124.

[2]J. du P. Scholtz, Afrikaans-Hollands in die agtiende eeu (Kaapstad, 1972), p. 124.

[3]G.S. Nienaber, Twee Afrikaanse woorde (Tydskrif vir Wetenskap en kuns 12(2), Oktober 1952), p. 25; Kyk ook G.S. Nienaber, Sonde met hartbees in hartbeeshuis (Tydskrif vir Geesteswetenskappe 29(3), September 1989), pp. 181, 185 & 187-190.

[4]J. du P. Scholtz, Afrikaans-Hollands in die agtiende eeu (Kaapstad, 1972), p. 124.

[5] Kaapse Argiefbewaarplek, Kaapstad: C. 132, Resolusies van die Politieke Raad.

[6]L.C. van Oordt, Die Kaapse taalargief III (Kaapstad, 1948), p. 32. Kursivering deur die outeur van hierdie studie.

[7]L. Trigardt, Die dagboek van … (red. T.H. Le Roux) (Pretoria, 1982), p. 19. Kursivering deur die skrywer van hierdie artikel.

[8]F.L. Cachet, De worstelstrijd der Transvalers, aan het volk van Nederland verhaald (Amsterdam, 1883), p. 422.

[9]J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa (London, 1844), p. 357.

[10]W.B. Lord & T. Baines, Shifts and expedients of camp life, travel and exploration (Reduced facsimile reprint of the 1876 edition by Africana Book Society, Johannesburg, 1975), p. 248.

[11]G.S. Preller (red.), Voortrekkermense I (Kaapstad & Bloemfontein, 1918), p. 253.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae