Wat is die oorsprong van die wigvormige hartbees- of dakhuis?

Wigvormige-dakhuis-02

Figuur 2. Rekonstruksie van geboue uit die 5de eeu n.C. in ʼn Franse
Opelugmuseum. Let op die gaffelsuilkonstruksie van die dakhuis.
Uit: Parc archéologique de Marle,
http://www.museedestempsbarbares.fr/

In hierdie artikel ondersoek Hannes Raath, ‘n kundige op die gebied van volksargitektuur, die oorsprong van die wigvormige dakhuis.

Wigvormige dakhuise het in al die stamlande voorgekom, terwyl die eerste huis aan die Kaap, wat deur Jan van Riebeeck en sy gesin bewoon is, ook ʼn wigvormige dakhuis was.

ʼn Huis wat slegs uit ʼn dak bestaan, staan onder meer in Nederlands en Duits as dakhuizen, tenten en Dach-hutten bekend. Wigvormige dakhuise kon direk op die grond of op ʼn lae muur geplaas word. In sommige gevalle is die vloer in die grond ingegrawe en staan dan in Nederlands as ʼn kelderhut en in Duits as ʼn grubenhaus bekend. In watter stadium die term hartbeeshuis op wigvormige dakhuise aan die Kaap van toepassing gemaak is, is nie seker nie.

Drie basiese dakkaptipes het by dakhuise voorgekom, naamlik die gaffelsuilkonstruksie (Fig. 1a, 2), die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie (Fig. 1b, 3) en die spardak (Fig. 1c, 4-6). Hoewel die ouderdom van die drie tipes nie met sekerheid bepaal kan word nie, is navorsers grootliks eensgesind oor die relatiewe ouderdom daarvan. Die gaffelsuilkonstruksie is die oudste, gevolg deur die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie en laastens die spardak. Al drie tipes is van prehistoriese oorsprong en het nog tot in die twintigste eeu voorgekom.

ʼn Aantal rotstekeninge in ʼn grot by Font de Gaume, Dordogne, Frankryk, beeld waarskynlik Magdaleense (20 000 tot 12 800 voor die hede) hutte met ʼn gaffelsuil-ondersteunde-nokpaalkonstruksie uit. Daar is telkens ʼn sentrale paal met skuinsgeplaaste kapsparre aan weerskante wat nie tot onder strek nie. ʼn Verklaring hiervoor is dat die vloer in die grond ingegrawe is, óf dat die sparre op ʼn lae grondwal gerus het.

Die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie bestaan uit ʼn dubbelkonstruksie, naamlik  drakappe en ʼn dakgording, wat as ondersteuning dien vir die daksparre, waarop die dekmateriaal vasgemaak is. By die Steentydperk-terrein van Katrineholm-Mogetorp in Södermanland, Swede, is skuins paalgate binne ʼn reghoekige tweevertrekhuis met lae klipmure aangetref. Die paalgate is hoogs waarskynlik ʼn aanduiding dat die wigvormige dakraamwerk uit ʼn vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie bestaan het. Ná ʼn ontleding van los voorwerpe en stuifmeel wat daar aangetref is, is vasgestel dat die huis uit die vroeë Neolitiese periode van ca. 7 000 tot 6 000 v.C. dateer.

Die spardak bestaan uit slegs twee elemente, naamlik kapsparre wat in pare onder die nok deur ʼn hanebalk verbind word. Die konstruksie word deur die afwesigheid van ʼn nokpaal, drakappe en kaplatte gekenmerk, en kan gevolglik as ʼn “enkel”-dakkonstruksie beskryf word, aangesien die dakbedekking direk op die kapsparre rus. Uiteenlopende teorieë word oor die ouderdom van die spardak gehuldig. A.D. Lacaille is van mening dat die Paneel van die hut in die La Mouthe-grot naby Les Eyzies, Dordogne, Frankryk, wat uit die Laat Magdaleense tydperk (ca. 10 000 jaar voor die hede) dateer, ʼn spardak  uitbeeld (Fig. 4).

Besluit

Suid-Afrikaanse wigvormige dakhuise verteenwoordig ʼn direkte voortsetting van die millennia oue Wes-Europese dakhuistradisie, waarvan die vorm en konstruksie ten spyte van geografiese verskille min of geensins verander het nie. Wigvormige dakhuise het in die 17de eeu tydens volksplanting aan die Kaap onder meer in Nederland, Vlaandere, Duitsland en Frankryk voorgekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae