Wat is jóú roeping as vrou?

vroue-werk-roeping

Foto: Geralt/Pixabay.com

Deur Jahni Cowley

“Om ’n vrou te wees, is maar ’n lewensomstandigheid. Ons is in die eerste plek mense wat opsien na iets hoër in ons, en om daarna te streef, is ons hoogste roeping.” – MER.

MER was wys, waarskynlik baie jare voor haar tyd. Sy het verstaan dat vroue hunker na iets meer as hulleself, na ’n roeping, nes mans. Vroue is mense, daarom die slagspreuk: “Vroueregte is menseregte!”

As vroue is ons gewoond aan selfdoen. Ons vervul soveel rolle: vrou, ma, vriendin, werknemer, dogter, suster. Ons weet ons harde werk maak ’n verskil in die lewe van die mense om ons. Ons kyk na onsself, maar ons sorg ook vir die mense om ons.

Ek is in 2005 as vakbondorganiseerder aangestel. Dit beteken kortliks dat ek ’n spesialis in arbeidsverhoudinge is, en minder kortliks dat ek sielkundige, huweliksberader, predikant en spesialis in arbeidsverhoudinge is. Ek werk spesifiek met werknemers in die professionele bedrywe, veral diegene wat by tersiêre onderwys betrokke is. Toe ek destyds aangestel is, was ek die enigste vroue-organiseerder in die vakbond, tussen ongeveer 40 mans, van wie die een naaste aan my in ouderdom omtrent 10 jaar my senior was.

Ek het my eerste loononderhandelinge op 23-jarige ouderdom by die Landbounavorsingsraad hanteer, en sommer ook my eerste (en enigste) mosie van wantroue. Dis ingedien deur my verteenwoordigers, almal mans tussen 50 en 63, wat my sommer op sig wantrou het. Ek het daar besef hoeveel harder ek sou moes werk om my te bewys, wat ’n werklikheid vir vroue in ’n werkplek is. Ek is trots daarop dat ek tot dusver die enigste organiseerder is vir wie die geharde ingenieurs van Krygkor ’n ooievaarspartytjie gehou het!

Vir my was die antwoord nog altyd roeping. ’n Mens wat sy of haar roeping verstaan, oftewel verstaan dat hy of sy geroep is tot iets veel meer, verstaan dat omstandighede dikwels moeilik kan raak. ’n Vrou in die werkplek bevind haar meermale in omstandighede waar sy haar moet bewys (ongeag haar kwalifikasies en ervaring), maar as sy weet sy is geroep om te doen wat sy doen, gaan dit noodwendig beteken dat sy so ’n uitdaging beter sal kan hanteer. Sy sal dit in perspektief kan plaas, eerder as om moedeloos te word.

Ek glo in roeping, en ek glo dat elke mens hul roeping moet verstaan en aangryp. Dit sluit vroue in, gegewe dat ons argumentsonthalwe ook mense is. En anders as die argumente deur geagte figure van die verlede, en ook Donald Trump, kan daardie roeping enigiets onder die son insluit. MER se aanhaling, aan die begin van die artikel, was juis in reaksie op ’n kerkblaadjie wat ’n vrou se hoogste roeping as ma en vrou uitgebeeld het, wat sy aan die begin van die vorige eeu reeds as oudmodies en uitgedien beskou het.

Streef gerus na iets meer, iets hoër. Vind daardie een ding wat jou hart warmer laat klop, en as dit nog jou brood en botter kan word, des te beter. Om jou roeping uit te leef behoort nooit onderhandelbaar te wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vrou ·

Goeiedag
Mag ek asseblief ‘n kopie/afskrif aanvra van die artikel wat verwys na M.E.R. se aanhaling oor die vrou en die nastreef van jou doelwit (as vrou)? (Artikel geskryf deur Jahni Cowley).
Met dank, en beste wense.

TDW ·

Ja ek glo vrouens is wonderlik en kan enige iets doen wat hulle wil. My probleem is net dat ons kinders nou sukkel agv die beroepsvrou. Die tuisteskepper en kinderoppasser is dalk oudmodies, vrouens voel selfs skaam om ‘n tuisteskepper genoem te word, maar dis regtig die belangrikste werk wat daar is en ook die hardste en word die minste waardeer.
Vrouens neem nou die werksplek oor,nie noodwendig oor hulle ‘n beter kandidaat vir die werk is nie, maar vir die werkgewer om polities korrek te wees, en wat gebeur dan met die man, waar is sy plek? Die omgekeerde lewenstyl druk hard op die huwelik en familie gesondheid. Kinders word deur vreemdes grootgemaak. En die syfer van kinders wat dwelms misbruik of verslaaf word aan die tv bly hoog opskiet.
Vrouens is die hoeksteen van die huis, so belangrik soos ons boere is, so belangrik is ons tuisteskeppers. Ons kinders se toekoms is in die vrou se hande. Dis dalk polities inkorrek om so te sê, maar die beroepsvrou is besig om die ekosisteem te beskadig. Die nadele is dalk nie nou so sigbaar nie, maar in die toekoms sal ons die newe-effek sien. Die man se selfwaarde kwyn, die kinders se lewensdoel word onherkenbaar.

cobus rossouw ·

Hi Jahni, dankie vir jou artikel. Dit het my nogal aangegryp. Veral die belangrikheid wat roeping vir jou het. Jou aanhaling van MER het my ook nogal laat dink. Hierdie is iets wat MER, en jou, so lyk dit my, laat ‘tik’, dryf, laat lewe.

Maar vergelyk dit bietjie met Paulus in Rom 14:7-8 – “niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”

Die verskil, so dink ek, tussen MER en Paulus is dat dit wat MER dryf iets hoër in ons is, vir Paulus is dit die HERE buite ons wat uit genade alleen na ons toe kom (Gen 3:9; Eks 3:7-8; Gal 4:4).

Uiteindelik het hierdie verskil tussen MER en Paulus ‘n reuse invloed op ons verstaan van roeping. Vir Paulus word roeping nie meer bepaal deur daardie iets hoër in ons nie. Nee, dit word bepaal deur die Roeper buite ons, wat deur sy Gees en Woord van buite af in ons werk.

As dit gebeur, dan word jy iemand wat al minder gepla is met goed soos selfvervulling en selfaktualisering en al meer gepla is met selfverloëning (vgl Mark 8:34; Luk 14:26-27; Mark 14:36). En as die HERE jou dan roep om ma te wees (Gen 1:28; 1Tim 2:15)?

Groete
cobus

Magda ·

Baie dankie vir jou woorde Cobus. Ek wou iets soortsgelyk antwoord maar het nie die regte woorde gehad nie.

Roelof ·

In de lijn van Cobus denk ik ook aan:”Niet ik, maar Christus leeft in mij!” Er is niets mis met roeping en ontwikkeling, maar bij man en vrouw tot eer van Christus. Ik zie in Nederland ook vrouwen die lijden onder de ‘wet van de zelfontplooiing’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.