Wat is Movember?

Foto: za.movember.com

Foto: za.movember.com

Hierdie maand gaan jy ʼn klomp snorre sien – meer as gewoonlik. Jy weet seker dit is Movember-maand, maar weet jy dat daar soveel meer agter dié “snor-beweging” skuil?

Movember het in 2003 in Australië begin toe ʼn groep vriende van Melbourne besluit het om sommer vir die grap hul snorre te laat groei. Die volgende jaar het 450 mans ook hul snorre laat groei en sommer in die proses 25 000 pond vir prostaatkanker-navorsing ingesamel.

Vandag, 13 jaar later, neem meer as 5 miljoen mans en vroue van reg oor die wêreld aan dié inisiatief deel. Ja, vroue kan ook deelneem.

Movember gaan eintlik oor die bewusmaking van mans se gesondheidkwessies – prostaatkanker, testikulêre kanker, geestesgesondheid en selfs selfmoord-voorkoming. Vroue is meer geneig om oor gesondheidskwessies te praat, maar vir mans is dit nie altyd so maklik nie.

Volgens Movember se webblad lyk die statistieke oor mans se gesondheid so:

  • 1 uit elke 23 Suid-Afrikaanse mans word met prostaatkanker gediagnoseer;
  • ʼn gemiddeld van vyf mans sterf daagliks in Suid-Afrika as gevolg van prostaatkanker;
  • testikulêre kanker kom veral by mans tussen die ouderdom van 15 tot 39 jaar voor;
  • 153 nuwe gevalle van testikulêre kanker is in 2007 in Suid-Afrika gediagnoseer; en
  • 510 000 mans wêreldwyd pleeg jaarliks selfmoord. Dit is een man per minuut.

Die hele doel van Movember is om mans aan te moedig om beter na hulself om te sien deur voorkomend te lewe, oor gesondheidskwessies te gesels en om ander mans aan te moedig om dieselfde te doen. Op die webblad noem die organisasie ook dat vroue gemiddeld ses jaar langer as mans lewe.

Daar is verskeie maniere om aan Movember deel te neem – van snor groei, tot pretdrawwe en geldinsamelingsgeleenthede. Jy kan self ʼn geleentheid aanbied of jou kollegas motiveer om saam te speel. In die afgelope 13 jaar is meer as R6 miljard reeds ingesamel.

Besoek Movember se webblad of Facebook-blad vir meer inligting.

https://youtu.be/ABwsqypKNZI
[Hierdie video is nie meer beskikbaar nie.]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.