Wenke om jóú droomtrourok te vind

Diaan Daniels (Foto: Facebook)

Om ʼn troue te beplan is iets wat jy (hopelik) net een keer in jou lewe moet doen. Daar is soveel klein dingetjies om aan te dink soos watter soort confetti, watter liedjie vir julle eerste dans, watter soort koek, hoe gaan jou ruiker lyk, wat gaan jou strooimeisies dra en die lys gaan aan en aan. Maar die belangrikste is moontlik om te besluit op jou trourok. Dit is iets waaroor baie vroue lank droom, en iets wat al die gaste sal onthou.

Maroela Media het aan die bekende modeontwerper Diaan Daniels se deur gaan klop om sý wenke vir jou droomtrourok te hoor.

Diaan se wenke:

  • Doen navorsing oor waarvan jy hou, sodat dit maklik is vir die ontwerper om jou styl te kan raakvat. Soveel soos wat ons ontwerpers Pinterest-prentjies haat, gee dit ons tog ’n aanduiding van waarvan jy hou. Wees net verseker ʼn rok gaan nooit presies lyk soos op die prentjie nie.
  • Begin vroeg jou trourok soek, want dit neem minstens vier tot ses maande indien nie langer nie.
  • Jou begroting is belangrik. Wees realisties oor wat jy kan bekostig en pas net die rokke aan wat in jou begroting pas, sodat jy nie die ontwerper of bruidskonsultant se tyd mors nie. Dit sal ook verhoed dat jy verlief raak op ʼn rok wat jy nie kan bekostig nie, en dan agterna teleurgesteld is.

    Diaan Daniels (Foto: Verskaf)

  • Maak voorsiening in jou begroting vir ekstras soos skoene, juwele en verstellings aan jou rok as jy dit van die rak af koop.
  • ’n Goeie wenk is om jou trourok-afspraak by ’n ontwerper of bruidshuis in die middel van die week te maak. Hulle is gewoonlik vol bespreek oor naweke en in die week kan jy meer tyd afstaan om jou droomrok te vind.
  • Wys jou ontwerper of bruidskonsultant prentjies van jou onthaal en die dekor wat jy op jou troudag wil gebruik. Dit help die ontwerper om iets voor te stel wat by jou troue gaan pas waaraan jy dalk nie gedink het nie.
  • Wanneer ʼn ontwerper of ʼn bruidskonsultant sê dat ʼn rok beter aan jou lyf gaan lyk as aan die hanger, glo hulle! Wees oop daarvoor om verskillende style aan te pas. Daardie rok wat nie so goed lyk op ’n hanger nie, kan dalk net jou droomrok wees!
  • As jy nie baie geld wil bestee aan jou trourok nie, hou die sosiale media dop vir uitverkopings by trourokwinkels. Hulle doen dit elke seisoen om van hul vorige seisoen- en “voorbeeld”-rokke ontslae te raak om plek te maak vir hul nuwe reeks. Hier kan jy só ’n paar rand spaar.
  • As jy ’n voller figuur het, maak seker jy bel die bruidshuis vooraf om te hoor of hulle jou grootte in voorraad het. Dit sal verhoed dat jy teleurgesteld is op die dag van jou konsultasie as jy dalk niks kan aanpas nie. Nie elke ontwerper en bruidshuis verskaf rokke vir die voller figuur nie.

Volg Diaan Daniels hier op Twitter, Instagram of Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.