Wenke vir gesonde hare

(foto: Pixabay)

Gesonde, glansende hare is iets wat baie begeer, maar vir min natuurlik kom. Blonde hare kan maklik droog en dof voorkom, terwyl dit maklik is vir donker hare om olierig en leweloos te lyk.

Die haarstilis Anita Baatjies het al vir modeweke oral in die wêreld hare stileer, en haar mees onlangse werk was op die loopplanke van die New York‑modeweek te sien. Sy is ook die eienaar van Hair at the Hub in Centurion. Baatjies deel haar beste wenke vir gesonde hare met Maroela Media.

Gesonde hare behoort nie dof en leweloos te wees nie, dit moet ʼn glans hê.

“Daar is baie faktore wat die toestand van jou hare kan beïnvloed, nie net die sjampoe en bevogter wat jy gebruik nie, maar ook jou dieet en stres. Wat binne jou lyf gebeur, manifesteer sowat sewe dae later aan die buitekant, en dus in jou hare.”

Baatjies het gesê die buitenste laag van jou hare is soos ʼn vis se skubbe. As die skubbe van jou hare plat en glad lê, is jou hare gesond. As dit opstaan en geswel lyk, is dit ongesond.

“Hoe dowwer en meer geswel die hare, hoe meer ongesond. Hoe gladder en blinker die hare, hoe gesonder is dit,” het sy gesê.

Baatjies stel voor dat, indien jy jou hare se styl wil behou, jy elke ses weke vir ʼn sny gaan, maar as jy probeer om jou hare langer te laat groei, kan jy net elke agt weke die punte laat sny.

(Foto: Pixabay)

Sjampoe en bevogter

“Dit is belangrik om sjampoe en bevogter vir jou hare te gebruik wat vir jou hare se toestand voorgeskryf is,” het Baatjies gesê.

Sy stel voor jy praat met jou haarkapper of haarstilis oor wat die beste vir jou hare is, voordat jy enige sjampoe van die rak af koop. Dit is ook belangrik om eers seker te maak van die toestand van jou hare voordat jy op ʼn sjampoe besluit.

“Ek persoonlik dink sjampoe is ook iets wat voorgeskryf moet word. Jy moet ʼn sjampoe gebruik wat jou hare gaan gesond maak, so ʼn aanbeveling van ʼn haarkenner af is baie beter as om dit van die rak af te koop.”

Stilering

“Jou stileringsmiddels moet ʼn ingeboude hittebeskermingsagent in hê,” het Baatjies gesê.

Maak seker dat jy ʼn haardroër het wat nie rooi raak binne wanneer dit blaas nie, ander sal dit jou hare brand. Maak ook seker jy het ʼn haaryster wat van goeie gehalte is, stel Baatjies voor.

“Die haaryster is die stileringsgereedskap wat seker die naaste aan jou hare kom, en dit kan jou hare brand as dit nie die regte beskerming vir jou hare bied nie, so maak seker dit is van goeie gehalte.”

Borsel

Soos wat die tegnologie vir haarprodukte verander, word daar ook borsels gemaak wat beter is vir jou hare as ander. Om dié rede stel Baadjies voor dat jy altyd die nuutste haarborsel koop om sodoende die beste tegnologie vir jou hare te hê.

Maskers

Baatjies het gesê haarmaskers werk wanneer jy die regte soort vir jou hare se toestand gebruik.

“Wanneer jy ʼn masker aanwend, is dit belangrik om dit te doen direk nadat jy jou hare met sjampoe gewas het. Die rede hiervoor is dat sjampoe jou hare se skubbe oopmaak, ons werk dan die masker in die hare in, en dan seël ons dit weer met die bevogter. Die bevogter maak die hare se skubbe weer toe.

“Dit is weereens belangrik om met jou haarspesialis te praat oor watter masker die beste vir jou hare is, anders gaan dit nie werk nie,” het sy gesê.

WEN:

Ken jy ʼn besonderse ma? Iemand wat altyd daar is om te help, ʼn skouer te bied om op te huil, of die laaste paar woorde van motivering na jou kant toe te fluister. Iemand wat hard kan werk, lekker kan kos maak, en dan boonop die hele gesin aan die gang kan hou. Iemand wat altyd kop bo water hou, maak nie saak hoe moeilik die situasie is; iemand wat vir jou soos huis voel.

As jy só ʼn ma ken, of dit nou jou eie ma, suster, dogter, vriendin óf jyself is, is Maroela Media se “mooi, mooier, mooiste mamma”-kompetisie net vir jou.

Maroela Media wil graag vir een spesiale, besonderse ma die kans gee om ʼn mooimaaksessie te wen vir Moedersdag.

Skryf hier in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

net ek ·

Nie almal kan salon produkte bekostig nie. Gee name van produkte wat mens in winkels kan koop!!! asb

Melany ·

Koop Tresemme. Jy kan dit by enige winkel koop. Dit was altyd ‘n salonproduk. Die groot bottels hou etlike maande en dit is vir enige haarbehoefte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.