Wenke vir ʼn oorvol klerekas

Skoonma Clothing

(Foto: Skoonma Clothing/Facebook)

Het jy al ooit voor jou klerekas gestaan en gewonder hoe jy plek gaan maak vir die nuwe items wat jy vir dié seisoen aangekoop het? Of miskien het jy gewig aangesit of die kilogramme afgeskud en weet nie wat om te maak met die klere in jou kas wat nie meer inpas nie.

Leandie du Randt Bosch, bekende aktrise en eienares van die aanlyn klerereeks Skoonma Clothing, sê haar beste advies vir ʼn oorvol klerekas is om dít wat jy in die laaste ses maande tot ʼn jaar nie gedra het nie, te skenk.

“Moet nooit ʼn item weggooi nie,” sê Du Randt Bosch. “Jy kan altyd jou klere vir Hospice of die mense wat vir jou werk gee. Daar is baie minderbevoorregte mense vir wie jy jou klere kan gee. Jy kan selfs klere wat jy nie meer dra nie, maar wat nie beskadig is nie, vir jou vriende gee.”

Sy sê sy en haar man, die akteur en musikant Bouwer Bosch, het ʼn reël gemaak wanneer dit by haar klerekas kom. “Vir elke item wat ek inbring, of dit nou ʼn paar skoene of ʼn baadjie of ʼn rokkie is, moet ek ʼn item weggee. Só roteer ek en maak seker dat my kas nie oorvol raak nie.”

Leandie du Randt Bosch

Leandie du Randt Bosch. (Foto: Skoonma Clothing/Facebook)

Dit help haar ook om haar beursie stywer toe te hou. “Dit laat jou dink voordat jy ʼn nuwe item aankoop. Is daar ʼn item tuis wat ek bereid is om te laat gaan om hierdie een in te bring?

“Daar is ook ʼn wonderlike organisasie met die naam Vintage with Love. Mense wat hul klere wil uitgooi, maar wat steeds wil hê dat dit iets vir iemand moet beteken, kan dié webwerf besoek. Jy kan al jou items wat nog in ʼn goeie toestand is by verskeie versamelpunte in Johannesburg en Kaapstad aflaai.”

Dié items word dan weer verkoop en die geld wat sodoende ingesamel word, word aan liefdadigheidsorganisasies wat vroue bemagtig, geskenk. Volgens Du Randt Bosch het Vintage of Love verlede jaar R600 000 ingesamel tydens hul groot jaarlikse uitverkoping.

“Wat spesiaal is hieraan, is dat dit ʼn maklike manier is om by liefdadigheid betrokke te raak,” beklemtoon Du Randt Bosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michelle ·

Ek verkoop my (en kleinding) se ou klere teen baie lae pryse aan my kollegas by die werk.

Anoniem ·

Wie het soveel klere dat hulle kas vol raak? Natuurlik as iets so deurgedra is skenk mens dit of gee gewoonlik vir huishulp. Niks nuwe inligting.

cb ·

Wel jy weet alles…Ek gee met liefde en omgee, my kas is vol liefde, en ek deel, gebruik of nie, deurgedra nie eintlik nie, want ek wil dit nie meer dra nie so pass it on, daar bewys ons weer…not good enough for me but you can have the tatttters.

JO-Anli ·

Hi ek het so baie klere, ekt alles net baie goed opgepas en dra nog steeds van my langbroeke en rokkiesvan 1955 en glo my ek kry baie komplimente. Ek gee ook gereeld aan ander en selfs vriendinne en kollegas het dit waardeer. Ek het natuurlik dat hulle sel uitsoek en besluit wat en of hulle dit wil neem, dwing niemand nie en probeer ook so om te help.

cb ·

My mamma het van niks iets gedoen, die kleine lappie het sy iets van gemaak. Ons as 7 kinders moes besluite neem, en dit was hartseer. Vandag 3 jaar nadat sy verhuis het na J/b het ek materiaal wat uit lange tyd kom. Ek is bereid om hierdie lewenslange materiaal aan iemand te skenk teen net donasie vir Mamma se jare lange liefde vir materiaal, en ek het ook daardie patrone wat uit die jare van mooi klere 1950 -70 wat ek kan onthou. Moet verlede laat gaan en toekoms vorentoe. xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.