Wenke vir persoonlike finansiële bestuur in 2015

Persoonlike-Finansies

Hier is ‘n paar wenke vir jou persoonlike finansies in 2015. Foto: Argief.

Wanneer laas het verbruikers ʼn nuwe jaar ingegaan met goeie finansiële nuus? Die nuwe jaar word gewoonlik gekenmerk deur inflasie. Almal kry mooi briefies in die pos met die verduideliking dat dit onafwendbaar is om die prys van dienste en artikels dieselfde te hou, in sommige gevalle is die stygings met onaangename dubbelsyfers.

Volgens Solidariteit Finansiële Dienste is inflasie ʼn alledaagse ding soos tande borsel. Dít tesame met finansiële markte wat op baie hoë vlakke is, en ʼn regstelling wat moontlik is in die komende jaar, maak dat verbruikers soveel te meer versigtig moet besluit waarop hulle geld spandeer en waarin hulle beleggings maak. Goeie besluitneming is van kardinale belang.

Die feit dat die prys van petrol ongeveer R1,25 per liter gedaal het gaan ook net help as dit korrek hanteer word. Mens gaan egter net weet wat jy spaar as jy weet wat jy uitgee.
Hieronder is ʼn paar riglyne van Solidariteit Finansiële Dienste vir jou persoonlike finansies in 2015.

1. Neem verantwoordelikheid vir die beheer van jou finansies
Enige huishouding is in der waarheid ʼn klein besigheid met inkomste en uitgawes. ʼn Tekort beteken jy gee meer uit as wat jy inkry, en ʼn oorskot beteken jy spandeer minder as wat jy inkry en het jy spaargeld om ʼn belegging te maak.
Indien jy nie weet wat in jou klein besigheid se geldsake aangaan nie, wag daar ʼn paar onaangename verrassings.

2. Kry ʼn begroting
Dit is waar meeste mense kleitrap met hul finansies. Hul weet gewoonlik wat die inkomste is, maar hou nie boek van die uitgawes nie, en het ook geen beheer oor die uitgawes nie. Dit is die enkele belangrikste stukkie gereedskap wat in enige huishouding se finansiële gereedskap kas moet wees.
Die begroting, as dit eers gedoen is, gee ook antwoorde oor ander finansiële sake wat aandag nodig het.

3. Spandeer geld aan goeie advies
Daar staan telkemale in die boek Spreuke dat mens nie kan oorlog maak sonder beraadslaging nie. Dit beteken dat mens iemand moet raadpleeg en ʼn plan hê waarvolgens gehandel moet word. Dit geld ook vir jou finansies en veral vir beleggings. Pasop vir beloftes van groot opbrengste en goed wat te goed klink om waar te wees, want dit is gewoonlik. Kry advies en opinies op meer as een plek, die resultaat verbaas jou dalk, en kan baie geld en verdriet spaar.

4. Stel doelwitte
As jy eers jou begroting in plek het en goeie advies ingewin het, sal dit baie makliker wees om finansiële doelwitte te stel.
Sonder dat mense dit weet, streef almal daarna om finansieel onafhanklik te wees. Finansiële onafhanklikheid beteken dat jou opbrengs op jou spaargeld ten volle vir jou maandelikse uitgawes kan betaal. Sou jy dus aan die einde van die maand nie ʼn salaristjek ontvang nie, sal jy vir jouself kan sorg. Dit gaan egter nie gebeur sonder ʼn weldeurdagte plan nie.
Koppel teikendatums aan jou doelwitte, breek dit op in interim doelwitte, en koppel take aan elke interim doelwit. Die take moet afsnytye hê om seker te maak jou planne verdwyn nie in die wind nie.

5. Pasop vir verkeerde skuld
Om skuld te maak om maand tot maand te lewe, is ʼn stadige selfmoord van jou beursie. Daag jouself uit om in 2015 net een kredietkaart uit jou beursie te laat verdwyn, en jy sal verbaas wees oor die resultaat.
C.J. Langenhoven het gesê: “Die kontantbetaler is baas van sy eie sak.”

6. Bly by ʼn goeie beleggingsplan
As jy tot dusver jou huiswerk goed gedoen het, en die plan werk, moet nie paniekerig raak nie. Die meeste beleggers trap klei deur ʼn 180 grade omkeer te maak as die bloed in die strate loop. Pas eerder dieselfde plan toe, maar wees meer konserwatief.
ʼn Goeie voorbeeld is dalk om dieselfde belegging in plek te hou, maar van die blootstelling in aandele minder te maak wat jou risiko beperk.

7. Wees ingelig
Doen moeite om uit te vind wat om jou aangaan, al beteken dit dat jy net 10 bladsye per dag van iets lees. Jannie Mouton van die PSG groep het eenkeer in ʼn artikel die opmerking gemaak dat “as jy kan lees, en jy lees nie, het jy geen voordeel bo die persoon wat nie kan lees nie”.
Het jy al ooit gewonder wie besit Skip, Omo en Surf wat ons elke week in ons wasmasjiene gooi?
Doen ook moeite om te weet waarheen jou geld gaan. Die inligting is beskikbaar.

8. Maak seker wat jou groot risiko’s is, en hoe dit in syfers lyk
8.1 Mediese uitgawes. Mens kan nog ʼn plan maak met ʼn R5 000 of R6 000 rekening, maar moenie met die broek op die knieë gevang word as dit by groot hospitaalrekeninge kom nie.
8.2 Skade aan duur bates. Maak seker jy is gedek teen groot verliese. Dek jou huis en kar as eerste prioriteit.
8.3 Jou grootste bate in die lewe is eintlik jou vermoë om inkomste te genereer.
Het jy dit verseker?

9. Aftree en doodgaan is ʼn gegewe
Die somme om seker te maak dat die twee gebeurtenisse versorg is, is nie eenvoudig nie. Kry advies en maak seker jy word nie te laat wakker nie.

10. Kry ʼn testament
Om intestaat te sterf is ʼn nagmerrie. Die beste geld wat jy in jou lewe kan spandeer is aan ʼn testament wat korrek opgestel is. Jou testament maak ook seker dat daar na jou dood met jou bates gehandel word soos jy dit self sou gedoen het.
Stoor jou testament en enige ander dokumente op ʼn veilige plek. Maak genoeg afskrifte van alles, dit sluit in gesertifiseerde kopieë van ID’s ens. Maak seker iemand wat jy vertrou hou ʼn kopie.

11. Skei jou emosies van jou finansies
Finansiële beplanning en bestuur gaan oor syfers en feite. As jy jou deur emosies laat lei gaan die syfers gekook moet word. As dit wat in jou begroting staan nie met jou bankstate klop nie, moet jy weet die emosies loop nog te hoog, en is jy moontlik nie 100% eerlik met jouself nie. Spaar op die dinge waarvoor jy altyd geld het.

Solidariteit Finansiële Dienste kan jou bystaan met al hierdie riglyne. “Ons het selfs vooropgestelde begrotings wat jou kan help aan die gang kom. Die werk is klaar gedoen, jy moet net kom aanklop om antwoorde te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.