Wie se droogte is dit?

Foto: Fanus Hansen se Facebook-blad.

Deur Fanus Hansen, ʼn dominee van die NG-gemeente Potchefstroom-Oos

In ses jaar van droogte, moes ek al ’n hele paar keer loop stilsit en dink.

Aanvanklik het my pa vertel dat hierdie maar net mý droogte is, vertel dat Oupagroot sý droogte in 1931-’33 gehad het, dat Oupa sý eie twee jaar droogte gehad het, dat Pa self ’n drie jaar droogte moes deurworstel en dat die droogte van 2013 en verdere jare, maar net mý droogte sou wees.

Goedig het Pa gespot dat ons familie nooit ’n strandhuis by Yzerfontein sal hê nie, dalk selfs nie een mag hê nie, want ons is maar altyd besig om ons uit ou droogteskuld uit te boer.

Die eerste twee, drie jaar was erg, maar dit het nie aan my siel kom raak nie, die droogte het nog nie onder my vel, onder my naels kom inkruip nie. Kuddes is verminder, ons vakansies het eers korter geword en toe het dit net nie meer gebeur nie. Kersfees was nie meer rojaal nie, verjaarsdae was later sommer maar net nog ’n dag met ’n ietsietjie-persentjie.

In die vierde jaar het ons self die bankkaarte gekanselleer, het die Koöperasiebestuurder die eerste keer begin sug en sy kop stadig heen en weer geskud. Die bankbestuurder het ernstig, dog dringend gesprek gevoer.

Dis toe dat ek besef het: die droogte is maar net die droogte. Ja, die droogte maak jou skaap maer, die droogte maak jou nederig, die droogte dring jou knieë toe, maar die droogte dagvaar nie. Dis die bank wat dagvaar, dis die bank wat familiegrond en jou bakkie wil vat.

Hier aan die einde van die vierde jaar van ons droogte het hulle vir Japie gekry, daar waar hy aan die peperboom hang. Dit was daardie oggend, in daardie helse warm kerkgebou, met die dreunsangpreek op Japie se begrafnis wat droogte onder my naels begin inkruip het.

Van die R120 miljoen droogtehulp van laas jaar het nie een enkele sent in ons distrik grondgevat nie. Nie ’n druppel water nie, nie ’n baal voer nie, nie ’n enkele sak pille nie. Nee, niks nie! Hierdie jaar word R30 miljoen belowe. Die inspekteurs sal seker maar weer nuwe bakkies kry, verlede jaar s’n seker gestamp, gesteel, gerol?

Ou-Dominee is weg, vroeër geëmeriteer, en die Kerkraad wou nie vinnig weer beroep nie. Die eerste van ’n lang reeks aflospredikante het gekom. Elke keer so vir drie maande, party het vroeg gegaan, kon nie nog een dag langer die ellende aanskou nie.

Dominee Aflos het sy strandhuisie toegesluit (of dalk verhuur, wie weet?) en dan vir ons bedien vir ’n paar weke/maande, voordat hy weer fort is. Maar vir my het kerk elke Sondagoggend ’n paar kilometer verder geword – dit was of kerk ’n lastige refrein geword het. Ná elke aflos was daar so maand of twee nie ’n dominee nie, is die kollektegeldjies eers weer bietjie opgepot, en dan was daar weer een, ʼn nuwe een, maar met dieselfde Ou-Ou Tyding – maar nie die goeie Ou-Ou Tyding van die Hallelujaliedjie nie…

Dit was asof hulle almal ’n preekreeks gegoogle het voor hulle hier aangekom het, en of elkeen “Preke vir Droogtetoestande” ingetik het en dan dieselfde hit gehad het.

Want die refrein was só kenmerkend…

“Is daar iets wat tussen jou en God staan? Wat is die sonde wat jy nog nie bely het nie?”

Ek was skielik weer terug in 1990, in die Landbouskool, baie Sondagaande gedink dat as die dominee vergeet het om voor te berei, dan preek hy oor troetelsondetjies… Wat sal dit tog wees waaroor God jou nou só straf?

Net om sewe dae later opgevolg te word met: “Ek en my werkers…”

Ek wonder watter teks het hy daarvoor gebruik? Ek en hulle – hulle, wat volgens my – net so swaar kry in hierdie droogte, “… wat staan tussen julle?”

Ek wou een Sondag skree: “NIKS nie, Dominee, NIKS nie!”, maar my “niks” het met ’n “f” begin en met ’n “ôll” geëindig, en Pa het langs my gesit.

Naasteliefde. “Met dieselfde maat waarmee julle meet, sal daar vir julle gemeet word.”

“Dominee, het jy al, moes jy al vir jou werkers verduidelik, moes jy al ooit één oggend hoed in jou hand voor hulle (en Dominee, “hulle” is jou woord), hulle wat saam met julle geslagte op hierdie plaas boer, moes jy al ooit gaan staan en by hulle hoor: “…is reg Meneer, ons is saam met jou.

“Moet ons net nie op die dorp loop aflaai nie. Meneer kan ander jaar regmaak, laat ons net bly. Vir kos en blyplek? Asseblief Meneer? Dankie Meneer!”

Net vir Sondag nommer drie waar manlike chauvinisme en ons patriargale ingesteldheid afgekeur is. Jy dink jy is baas op jou plaas, o nee, daar’s ’n ander Baas… Oorgawe en ondergeskiktheid en nederigheid is bepleit.

“Ons ken die Ander Baas, Dominee, dis voor Hom wat ons op ons knieë smeek…”

So waar as wragtag het tiendes op die laaste Sondag van die maand ter sprake gekom! ’n Tiende van wat? Van stof en tolbosse en kurkhoringdroë Karoobossies? ’n Tiende van my van-die-dors-gevrekte skape? ’n Tiende van pasgebore lammers wat my in die oë kyk, want die ooie stamp hulle weg, want daar’s te min melk? As ek nou ’n tiende gehad het, het ek vir Ma ’n chocolate gaan koop, en vir my ’n blooming Jockey, ’n nuwe Jockey! Maleagi en droogte en tiendes en uitkoms en uittoets en reën is sommerso in een sin gepreek.

Dit, terwyl jy besef die kinders het weke laas vir enigiets gevra. Seker agtergekom dat Ma se “Nie nou nie Sus, nét nie nou nie…” en my eie “Boeta, met geld wat ek wáár kry…?” dalk ernstig is. Hulle het immers self gehelp om dooie lammers op te tel, self die swakketjies met tiete gevoer om te kyk wie ons kan deurhaal, gehoor wat by die koshuis gesê word oor agterstallige skoolfonds en volgende jaar.

Dit was laas Dinsdag dat ek die kamer in is, deur gesluit het. Ma het kom klop, ek het hand-op-die-Bybel belowe ek is all right. Gesweer het ek sal nie. Gebid het, geworstel het, vrae gevra het, sondes bely het waaroor ek eintlik jare lank al vrede gehad het, sorry gesê het vir stoutighede en onnutsighede en vir plain common nalatigheid, gepraat het oor tiendes en bydraes, gesoebat het vir reën, milde reën, die sjôr-sjôr reën waaroor ons altyd vir Danie geterg het – dit was mos hy wat die oggend met die biddag vir reën, jare gelede, ons was nog op hoërskool, opgestaan en gebid het dat die reën nie so tippie-tappie sal val nie, maar dat dit sommer sal sjôr!

Maar vrede vir my gemoed wou nie kom nie. Ek het soekend by die kombuistafel loop sit. Ma het koffie gebring.

“Wat jaag jou?” het sy gevra.

“Hierdie droogte! Ek weet nie wat die Here vir mý wil sê nie. Ek wil nie meer hoor wat iemand anders dink nie, ek wil nooit weer hoor wat hy dink God vir my wil sê nie, ek wil nou self hoor!”

“Is jy seker dat Hy vir jou iets wil sê, vir jou iets móét sê?” is haar teenvraag.

“Wat dan anders?”

“Dalk wil God deur ons droogte vir iemand anders iets sê.”

“Vir wie wat sê?”

“Dalk vir die mense wat die bederfpakkies kom aflaai het. Vir hulle wat vir ons voer skenk. Vir al die kinders wat vir ons bid. Dalk wil God hulle leer van gee, leer van bid, leer van help en leer van omgee. Dalk is óns droogte nie nét óns droogte nie. Dalk is óns droogte Suid-Afrika se droogte. Dalk maak God ons gereed vir meer. Vir meer gee, meer omgee, meer dankbaarheid, meer “dankie Here” vir dit wat ek het. Dalk maak God ons gereed vir bid vir mense wie se name ek nie ken nie, vir nuwe vriendskappe, vir ’n nuwe penmaat wat haar naam en telefoonnommer en adres in my bederfpakkie gelos het. Ek bid nou vir haar en sy vir my. Ek en jy bid elke aand dat God ons sal seën… dié week het die seën na my toe gekom met die teerpad!

“Ek weet ons kort reën, maar dié week het ek besef ons kort meer as reën. Ons kort mekaar!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Patch ·

Sjoe…ek sommer bewoë hier waar ek sit en lees. Nou wens ek dat ek my naam en nommer in my bederfpakkie met die blommetjies lint en Woorde van Hoop-boekie geskryf het, ek kon miskien ‘n oor gewees het wat kon luister, ‘n nuwe vriendin bygekry het en ‘n naam by my gebed gevoeg het. Boervrou…jy wat my pakkie ontvang het… jammer jy ken nie my naam en nommer nie maar weet ek bid vir jou…en jou man… jou kinders, jou werkers, jou vee… Mag julle geseën word…in oorvloed sonder ophou….Op Sy tyd, nie onse tyd nie. Dankie Ds Fanus vir hierdie pragtige stuk skryfwerk.

Johan ·

Vanmiddag kan ek maar net my hoof buig, nie om iets te vra nie maar om dankie te se Vader.

Met die droogte bring U-U volk weer nader aan mekaar.

Amen.

Ida Kriel ·

Pragtige n stuk wat mens se hart in jou keel laat sit en jou oe laat traan. Ek dink Ek moet net volgende week ook n pakkie opmaak met heerlike bederf goed vir n gesin, want hierdie droogte is beslis ons almal se droogte en ons boere kry bitter swaar. Om jou diere van honger en dors te sien dood gaan, jou werkers in die oe te kyk as jy finansieel nie meer vir hul kan bekostig nie en dan in jou gesin se oe te kyk waar daar net hoop en vrae le. Geen droogte is enige mens se maag nie. Dit verskroei die aarde, plant, dier en mens. Dit maak jou siel elke dag stukkie vir stukkie dood.

Susie ·

Iemand het hierdie stuk op ons gemeenskapswhatsappgroep geplaas, sonder om te sê wie die skrywer is. Ek het aangeneem dis deur ‘n bona fide- boer geskryf. So is ek die ganse middag kort-kort onder trane ; ek voel die boer se pyn. Net om Maroela later te lees en te ontdek: die “boer” is eintlik ‘n dominee en die “brief” ‘n stuk verbeelding. Eisj……

Fanus Hansen ·

Ek het die gedeelte geskryf nadat ons gemeente betrokke geraak het by die nood in die Bo-Karoo… Twee maal afgery met vragte kos, voer, bederfpakkies, klere. Dit was tydens kuiers met mense wat ek gehoor het en probeer weegee het. Sorry dat jy dit negatief beleef het…

Kornel ·

Meer as net woorde. Die rugby gaan nie vir altyd hou nie. Die Here gaan. Goeie vriendskap is baie belangrik. Net jammer dat mense, ons mense mekaar seer maak. Dit gaan my verstand te bowe. Maar dan is daar ook mense wat sout van die aarde is. Wonderlik. Mag almal vandag die REEN kry wat hulle nodig het.

Duppie ·

EINA !!!!! Dit maak seer diep binne in wat geskryf is , maar ongelukkig is dit so waar. Hou op om oor alles wat “verkeerd” is te praat en begin LEWE spreek. Die word sê; In die mag van die tong is daar lewe en dood. Ons kan kies watter een ons wil spreek. Aan al die boere, ons mag dalk nie vandag weet hoekom dit gaan soos dit gaan nie, maar eendag sal ons die waarheid weet. Sterkte

Saintjordaan ·

Hoor Israel/Suid Afrika, die Here onse God is EEN Here Deut 6:4, Mar 12 :29-34

Dit is tyd vir WAARHEID

HEVW ·

Saintjordaan ek stem saam met jou. Die wet met sy volle betekenis moet weer terug kom in ons eredienste. Nie verbeeldingloos soos maar n stel reels voorgelees word nie. Dit is baie noodsaaklik dat Opb 22 : 13 + 14 ook gelees word.
Ek ken hierdie taal. Het self 9 jaar geboer en deur droogtes het GOD my geroep geforseer om die pad na die bediening aan te pak. Ook maar nie n maklike pad nie, maar ons stry die stryd.

latie ·

net jammerte jul ken geen VADAER se openbaring name nie en dis waarom jul bid verkeerd en ontvangs nie VADER nie ek prys in die naam YAHVAHSHUA laat dit so wees.

ANE ·

Met groot respek Latie…moet asb. nie, nog die mense aanklae,wat alreeds so verskriklik, swaarkry nie! Daar is nie meer Krag, in die gebruik van ONBEKENDE Hebreeuse, Aramese, Griekse Name,vir ons Hemelse Vader nie! Seker Hy, Stel net Belang, in ons nederige harte van verootmoediging en aanbidding voor Hom. Shalom

John ·

… Miskien moet ons dominees vinniger die Bybel oorskryf en die deeltjies uitsny oor ‘naaste’ en die baie onnodige outydse moenies en die strawwe wat volg… soos koning Dawid wat toe die eintlike sonderbok was waarom die volk moes ly. Kollektebordjies en goeie-broodjies-bak vir verstes moet eenvoudig aan die begin van die ‘nuwe’ boek vir vandag-se-kerkgangers staan… en verpligte tatoeèring hoewel die ou Bybel dit verbied het… want so sal alle droogtes end kry en die kollektebordjies oorloop… Verskoon tog die stukkies daggablare in die sakkies… alhoewel…

Von ·

Fanus Hansen…..baie dankie dat jy met ons deel wat werklik saakmaak…..ja dit is ons almal se droogte…..ek is diep ontroer…..Here vergewe ons ons blindheid….U Heilige Naam ter ere

GRIET ·

Baie dankie Fanus,dat jy ons kosbare boere, se diep geestelike stryd, emosionele en fisiese lyding en pyn, verwoord het op papier! Dankie, dat HULLE SEER ook joune geword het! Dankie vir jou pragtige Jesushart van LIEFDE en omgee! Mag Vader, jou Seen, om Sy Hande, Voete, Ore en Oe, op aarde te wees! Mag ons Hemelse Vader, binnekort die Sluise van die Hemele OOP Draai, dat dit so SJOR-SJOR…

Marelize ·

So hartseer. Ek wil só graag meer DOEN, meer géé… maar gaan self onder droogte gebuk – nog nie die Karoo, Namakwaland, Oos- en Noord-Kaap se gorreltoedruk-droogte nie. Wens ek kon voer gee … bale en bale voer, tenks vol diesel … ek wil DOEN…

As jý kan gee, maak hand oop by Boerderoogtehulp SA NPC. Hulle gee die voer gratis aan die boere…. vra niks! Asb… kan ons net één keer in ons land se geskiedenis saamstaan!???

Dan, groot hartseer dat mense droogte as “straf” op sonde beskou… (soos ds Hansen se voorbeelde in die skryfstuk). Die straf op sonde is die dood en dit het Christus klaar gedra. Ons leef met die gevolge van ons sonde en sondige natuur saam, maar nie die straf nie. Mense doen dit met siektes soos kanker ook… asof een mens nou ‘n ander se lewe kan ontleed (Jib se vriende).

Soms wonder ek of Habakuk self geboer het …

Kobus ·

Vanuit die put van elende sal die Allerhoogste Sy volk weer eendag optel, dan sal ons die eer aan Hom alleen gee. Dan sal ons Sy Weg volg en nie die weg van mense, voormanne, kerke, en regerings nie – nee Sy Weg alleenlik.

H ·

Susie, as jy nie die “lewe” in hierdie skrywe – die leef van die lewe kan ervaar nie, dan het jy nog nie swaar gekry nie, nog nie genoeg op jou knieë gegaan en dankie gesê vir dit wat jy nog het nie. Kyk rond en sien raak wat in hierdie lewe aangaan, daar is baie mense om jou wat presies weet en ervaar waaroor ds. Fanus se skrywe gaan. Die mense wat nou die ergste geraak word is almal op plase, van boer tot werker tot die diere, daar is ook mense in dorpe, mense in ouetehuise, wat ‘n droogte ervaar. Bid dat dit nie met jou ook gebeur nie. Sterkte aan almal wat ‘n droogte ervaar. dankie ds. Fanus.

Annie ·

Latie.. latie… Sjoe.. as Elohim deur Ruach Kodesh aan jou geopenbaar het om te bid deur Y’shua Hamasiach.. Prys Sy Heilige naam. Maar om in trots uit te vaar teen mense en te sê dat omdat hul nie die name van die Vader gebruik wat jy ook gekry het van Aramiese /Hebreeuse afkoms nie dat hul verkeerd bid.. wie is jy om God te speel? Ken jy hierdie mense en God persoonlik om te kan oordeel waar hierdie mense staan in hul verhouding met God persoonlik!.. Jy behoort jou trots te bely en mooi te dink op watter genade gawe jy kan aanspraak maak om ander mense te wys dat hul verkeerd bid aangesien jy God se plek wil inneem as Regter oor sy mense.

ANE ·

Amen, Annie! Ons moet so versigtig wees, met ons tonge en wat aangaan in ons harte!

J J Schoeman ·

Ons kan ‘n toegewing doen. As jy sou verkies om nie die heilige (afgesonderde) Name te gebruik nie, sou ek die laaste een wees om jou te verguis. Asseblief, ons moenie die heilige name in mense se kele afdruk nie! Laat ons eerder in Sy opdrag “laat U wil gedoen word” deel van ons daaglikse gebed nastreef. Maar noudat jy dit weet, wees gewaarsku, jy sal MOET studies doen en YAHUAH se Almag leer ken. Jy kan nie op jou predikant of kerk wag nie, want dan gaan jy waarskynlik nooit die waarheid leer nie.

Wees verseker dat YHWH die reën-sleutels het en Hy ons sal seën met mildelike reëns soos Job (Iyov) 37:6-7 sê; maar leer Sy Torah, sodat ons Sy dade mag ken!

ANE ·

Net n vraag aan jou JJ… waar in die bybel staan daar Geskrywe in die Nuwe Testament, dat ons die Torah spesifiek moet ken en bestudeer, soos jy beweer? Waar Staan Geskrywe, dat NET die Hebreeuse en Aramese Name, van Vader Alleen sal reen bring en nie die gewone bybel en volksmond Name vir Hom nie??

ANE ·

Net n vraag aan jou JJ… waar in die bybel staan daar Geskrywe in die Nuwe Testament, dat ons die Torah spesifiek moet ken en bestudeer, soos jy beweer? Waar Staan Geskrywe, dat NET die Hebreeuse en Aramese Name, van Vader Alleen sal reen bring en nie die gewone bybel en volksmond Name vir Hom nie??

Hans Richardt ·

Was jy goeie Rentmeester van jou stukkie karoo? Het die veld te swaar gedra om die kersfees vakansie geskenke luuks te maak?
Waarom dink boere nie in tye van voerspoed, oor droogtetye nie? Ek dink dat in die Ou Testament daar vele stukkies is, met skerp vermanings aan Israel, dat hul nie aan God dink in die dae van voorspoed nie. God se opdrag in die skeppingsverhaal was tog dat ons verantwoordelike Rentmeesters oor ons stukkie van die aarde moet wees, veral in voorspoed dae.
Waar is die noodfondse en gespaarde veld, vir lang droogtes?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.