Wil jy ʼn huis koop? Volg dié stappe

(Argieffoto)

Om ʼn huis te koop is gewis ʼn ernstige saak wat nie oorhaastig of sonder goeie beplanning gedoen moet word nie.

Daar is verskriklik baie goed om aan te dink voordat jy ʼn huis koop, en dit gaan nie net jou sak beïnvloed nie, maar ook die res van jou lewe, so kennis is mag in dié belangrike besluitnemingsproses.

Johan Gouws, die operasionele hoof van Keller Williams Eiendomme in Suidelike Afrika, het aan Maroela Media gesê die regte huis is nie net bakstene en sement nie, maar hoe jy voel wanneer jy by die voordeur inloop.

“Dit gaan nie net oor die eiendom nie, dit gaan oor jou toekoms en drome – en dit is ook die gevaar: Dat daar dan te impulsief opgetree word sonder dat die nodige huiswerk gedoen word.

“Onthou, ’n pragtige huis in die verkeerde area gaan net probleme veroorsaak. Maak seker dat jy as koper inpas in die huis en die omgewing en dat jou lewenskwaliteit gaan verbeter met jou aankoop,” het hy gesê.

Dít is waar ʼn goeie kwaliteit eiendomsagent inkom.

“’n Goeie eiendomsagent is goud werd. Hulle kan ’n koper baie geld spaar en goeie raad gee wanneer besluite geneem word. Soms is die heel eerste huis die regte huis – en dit gebeur gereeld, veral as daar ’n goeie agent betrokke is wat behoorlik geluister het na die behoeftes van die kliënt. Onthou, die gemiddelde koper bly vir sewe jaar in ’n huis, so beplan reg!” het Gouws gesê.

Gouws stel voor jy volg dié stappe wanneer jy ʼn huis wil koop:

  • Kies die beste eiendomsagent moontlik om te help. Doen behoorlike huiswerk en praat met soveel mense moontlik om jou na die regte persoon te verwys.
  • Kry finansieringsgoedkeuring sodat jy weet wat jou moontlikhede is en of jy in die regte omgewing en prysklas ’n huis soek.
  • Gaan deur ʼn behoorlike kopers-konsultasie met jou eiendomsagent sodat jou tyd nie gemors word met die verkeerde eiendomme wat gewys word nie. Top-agentskappe se koperskonsultasies is ongelooflik goed uitgewerk om die koper gemoedsrus te gee oor die proses.
  • Kies eiendomme uit wat interessant is (heel moontlik op internet) en bespreek dit met jou eiendomsagent.
  • Gaan kyk self na die eiendomme en bespreek elkeen in detail met al die betrokke partye en jou eiendomsagent. Partykeer koop mense die eerste eiendom waarna hulle kyk, maar soms moet jy na baie huise kyk voordat al die vereistes en die droom bymekaar uitkom.
  • Alle waardes en pryse is relatief tot produkte van soortgelyke gehalte. Vind uit oor eiendomme wat klaar verkoop is en wat nog in die mark is om jou eie vergelyking te kan maak. Jou agent sal hiermee baie waardevolle inligting kan gee.
  • Sodra die regte huis of eiendom sy opwagting maak is dit tyd om ’n aanbod aan die verkoper te maak. In hierdie dokument bied jy jou prys en voorwaardes aan wat dan aanvaar of verwerp kan word. Weer eens is die waarde van ʼn goeie agent in hierdie stadium baie belangrik omdat die proses in hierdie stadium baie persoonlik en emosioneel kan raak. Staan terug en laat die agent sy geld verdien. (Ná hierdie aanbod moet daar nog baie water in die see loop voordat die sleutel hande verruil).
  • Moontlik maak die verkoper ʼn teen-aanbod as die voorwaardes van die eerste aanbod nie aanvaarbaar is nie. Hoe dit ook al sy is hierdie proses van onderhandeling die maak of breek gedeelte van die aanbod en aanvaarding van die terme van koop en verkoop.
  • Sodra die aanbod aanvaar is begin die harde werk vir die oordragsprokureur, die verbandaansoeker, die bank wat finansier, die waardeerder, die verbandprokureur, die kansellasieprokureur en die akteskantoor. Nadat almal se werk noukeurig ondersoek is, registreer die akteskantoor die eiendom.
  • Voordat die bank besluit om die transaksie te finansier doen hulle sorgvuldige huiswerk wat die terugbetalingsvermoë van die koper én die waarde van die eiendom bepaal. Eers wanneer die bank tevrede is met albei kante word die verband goedgekeur waarna waarborge deur die bank uitgereik word aan die oordragsprokureur dat die gefinansierde bedrag uitbetaal sal word op datum van registrasie.
  • Nadat al hierdie stappe gevolg is, is dit die oomblik waarvoor almal gewag het. Jy ontvang die sleutels by jou eiendomsagent en is jy gereed om in jou nuwe huis in te trek!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

OWO ·

Hierdie is net ‘n halwe waarheid.”Staan terug en laat die agent sy geld verdien”het verseker nie bestaan toe ek ‘n eiendom 30 jaar gelede gekoop het deur ‘n baie bekende agentskap nie.Ek vra die agent,hoe seker kan ek wees dat die huis se dak nie lek nie.Volgens die agent het die dak geen lek plekke gehad nie.Jy kan dit in elkgeval nie sien as die huis uitgeverf is net voor verkoop nie.Ons was 2 maande in die huis gewees, toe sak die eerste groot reen uit en die dak het soos ‘n sif gelek.Die motorhuis inkluis.Die defekte is herstel,met ‘n koste natuurlik.Terloops ons bly nog steeds in die huis en sal hom verseker vir geen agent gee as ek besluit om die dag te verkoop nie.Ek sal hom eerder aan my seun skenk as van ‘n agent,gebruik te maak.

Melanie ·

OWO jy praat absoluut die waarheid. Ek het my vorige huis self verkoop en onlangs my huis privaat geadverteer. Van die agente se advertensies is belaglik. Baie (nie almal) is jong mense wat nie werk kan kry nie en probeer dan eiendom verkoop. Wat ‘n katastrofie!

Nika ·

meeste verkoops persone doen jou in, of dit n kar, n huis of n simpel huishoudelike item is, dit gaan alles oor geld maar kom ek sê net een ding… met grondoneining is dit geensins n wyse besluit om eiendom te koop in SA, belê die geld oorsee.

GM ·

OWO, ons het dieselfde stel afgetrap. Ons het gestipuleer dat daar geen lekplekke moet wees nie. Die agent het vir ons gesê sy glo dis uitgesorteer. Daar is ook nie eers moeite gedoen om die huis skoon aan ons te gee nie. Toe ek navraag daaroor doen, toe word daar gesê die plek het lank leeg gestaan, maar dis skoongemaak gewees. Gelukkig het ek foto’s geneem van die koppies met gemufde koffie in, hare en kosse in wasbak, waspoeier in kaste ens. As daar net ‘n paar spinnerakke was, kon ek dit nog aanvaar het. Needless to say, ek moes maar self die vorige mense se gemors skrop want anders moes ons nog langer wag voor ons kon intrek.

Deon ·

Insiggewende artikel. Wat die agente aanbetref, hy het het spesifiek genoem dat jy jou huiswerk moet doen alvorens jy ‘n agent aanstel. Daar is uiteraard goeie, gemiddelde en ongelukkig ook swak agente – nes enige ander diensbedryf. Interessant genoeg, niemand dreig om alle dokters te vermy as hulle een keer ‘n verkeerde diagnose van die verkeerde kwak gekry het nie.

Karolis ·

Onder normale omstandighede is:
Alles wat die huisagent van die huis af weet dit wat die eienaar vir die agent vertel het.
Alles wat die motorverkoper van die motor af weet, wat die eienaar vir hom vertel het.
Alles wat die afslaer van die items af weet, dit wat die verkoper vir hom vertel het.

Konsentreer dus op bogemelde punte nommers 1, 3, 5, 6
Om eiendom te koop is waarskynlik by meeste mense die grootste besluit wat hulle moet maak, doen dit dienooreenkomstig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.