William Webb Ellis en die Bokke

Siya Kolisi en Rassie Erasmus. Foto: Siyabulela Duda/GCIS

Deur Pierre Massyn

Die skrif was aan die muur. Letterlik. Vir ons wat rugby ken – of dink ons ken – het die Engelse se doodsklok reeds met die eerste skrum gelui toe die Bok-pak die Rose verpletter het.

Met nog ’n kwartier se amptelike speeltyd oor, het die Engelse ondersteuners druipstert by die Yokohama-stadion begin uitsluip. En toe, vyf minute voor die einde, kon die graveerder die onvermydelike nie langer uitstel nie. Met sy staalgriffel begin hy aan die goue beker krap. Miljoene oë kan die woorde SOUTH AFRICA daarop uitmaak. Hy kon netsowel ’n halfuur vantevore begin griffel het, want die manne in hul bottelgroen truie het die Rose stelselmatig páp gespeel.

Rugby se grootse prys kom in 2019 na die land van biltong en koeksisters.

Die graveerder ageer namens die Thomas Lyte, ’n goud- en silwersmeewerkmaatskappy. En dis waaroor al die bohaai gaan…

Die Webb Ellis-trofee, ’n bielie van 38 sentimeter, is 4,5 kg suiwer goud. William Webb Ellis is die Engelse skoolseun wat, volgens oorlewering, in ’n sokkerwedstryd besluit het die geskoppery is sommer kaf, basta daarmee, en toe glo die bal opgetel en daarmee begin hol het. Die jonge William het sweerlik in sy graf omgedraai toe die verslane Engelse met hul kruidjie-roer-my-nie-agtige houding nie hul tweedeplekmedaljes wou dra nie… En toe Owen Farrel se snedige grynslag van sy bakkies afgevee is. Ek hoop vir altyd.

Die kenners wys jou daarop dat dit eintlik die Webb Ellis-beker is, nie trofee nie.

En nou kom die beker huis toe. Vir die derde maal uit sewe probeerslae. Die All Blacks het die “koppie” ook drie keer gewen, maar hulle het nege kanse gehad, en een van die drie keer was hulle uiters gelukkig om met een enkele punt teen Frankryk op tuisbodem deur te skraap.

Suid-Afrika het die eerste twee Wêreldbeker-toernooie misgeloop weens die internasionale boikot teen die land. Ironies genoeg het die Springbokke die Nieu-Seelanders in 1986 oortuigend in die reeks van vier toetse verslaan, en die Kiwi’s wen toe net die volgende jaar (1987) die Webb Ellis-beker – met die grootste meerderheid spanlede dieselfde All Blacks wat die vorige jaar teen Naas Botha-hulle slae gekry het.

Daar is eintlik twee William Webb Ellis-bekers. Die een is ’n trofee wat in 1906 deur Carrington en Co. van Londen gemaak is. Sou dit wees dat daar in 1906 vir so ’n beker in ’n toernooi tussen die Springbokke en die Britse tuisunies gespeel is, sou die Bokke lag-lag met die beker weggestap het, want hulle het drie uit die vier toetse gewen – dit was ook die eerste keer dat die Springbok-embleem amptelik as toerwapen gebruik is. Hierdie 1906-trofee is ’n Victoriaanse ontwerp van Paul de Lamerie, ’n silwersmid, uit die 1740’s.

Die tweede trofee, of dan meer korrek, beker, is ’n 1986-replika – dieselfde jaar toe die Bokke Andy Dalton se besoekende Nieu-Seelanders hier getrap het.

Die organiseerder van die eerste Wêreldbeker, die Engelse voorspeler John Kendall-Carpenter, en die sekretaris van die Internasionale Rugbyraad, Bob Weighill, het die Kroonjuweliers Garrard & Co in Regentstraat, Londen besoek waar die direkteur, Richard Jarvis, die beker uitgehaal en vertoon het.

In Februarie 1987 is daar besluit dat daar om hierdie beker gespeel sal word in die eerste volwaardige internasionale rugbykompetisie – Suid-Afrika uitgesluit.

Thomas Lyte is in 2007 – die jaar toe die Bokke hul tweede Wêreldbeker gewen het – deur Kevin Baker gestig. Die Thomas Lyte-maatskappy is getaak om die gesogte beker te versorg en onderhou – net soos die FA-beker en die Ryder-beker wat ook sy verantwoordelikheid is. Thomas Lyte is na die Lyte-juweel vernoem.

Die toernooi vir rugby se mees gesogte prys is in 2023 in Frankryk – die goue beker. Ek hoop nie ek hoef weer 12 jaar te wag voor ons Bokke weer dié koppie huis toe bring nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KrokodilBotha ·

Nogal baie sogenaamde godsdienstiges wat die goue beker aanbid.

Dubbelloop ·

Krokodil en Andries, wat gaan aan in julle koppe. Dis net julle wat praat van goue beker aanbid hier. Julle koppe raas. Ons is mos bly dat Rassie en sy manne dit kon vermag het wat hulle gedoen het. Waar kom julle nou aan beker aanbid. Sjoe manne…?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.