Wings for life: Kom hardloop saam

Wings for life

Foto: wingsforlifeworldrun.com

Wings for life is ʼn unieke wedloop wat wêreldwyd, in 35 lande, op presies dieselfde tyd gehardloop word. Alle geld wat by dié wedloop ingesamel word, gaan aan die Wings for Life-stigting, wat hom beywer om ʼn kuur vir mense met ruggraatbeserings te vind.

Pieter du Preez, ʼn kwadrupleeg en woordvoerder van Wings for life, sê Suid-Afrika se wedloop vind plaas op 8 Mei om 13:00 by die SuperSport-park in Centurion. “In Amerika vind daar ʼn wedloop om 04:00 plaas. Almal hardloop op presies dieselfde tyd in verskillende weersomstandighede.”

Wat hierdie wedloop nog meer spesiaal maak, is die feit dat daar geen eindstreep is nie. “Jy spring weg, en 30 minute nadat jy weggespring het, is daar ʼn “catcher-car” wat teen 15 km per uur begin ry. Hierdie motor sal elke uur al hoe vinniger begin ry, totdat hy verby jou is. Eers wanneer die motor jou ingehaal het, is die wedloop voltooi,” sê Pieter. Deelnemers kan dan omdraai en na die beginpunt terugkeer.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is daar wêreldwyd tussen 250 000 en 500 000 mense wat jaarliks ruggraatbeserings opdoen. Dit is hoofsaaklik mense tussen die ouderdom van 15 en 29 jaar wat dié tipe beserings opdoen. Pieter sê daar is reeds deurbrake gemaak om gestremde mense se lewe te vergemaklik en daarom is verdere navorsing so nodig. “Dis klein veranderinge wat ʼn groot verskil in ʼn mens se lewe kan maak.”

Enigiemand kan aan die Wings for life-wedloop deelneem en Pieter sê hy gaan self ook in sy rolstoel deelneem. “Enigiemand is welkom – daar gaan professionele drawwers deelneem, asook mense wat nooit hardloop nie. Mense wat nie in Gauteng woon nie, kan deur middel van ‘n app ook saam hardloop.” Belangstellendes kan nog tot Donderdag, 4 Mei om 13:00 inskryf. Skryf hier in.

Hierdie wedloop is reeds drie jaar aan die gang, maar sal vir die eerste keer in Gauteng gehou word. Besoek gerus die Facebook-blad of webblad vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.