Wintersiektes en jou kind: Wanneer moet jy bekommerd raak?

Argieffoto.

Saam met die koue winterweer kom daar ’n hele rits kindersiektes. Dié seisoen kan uiters beproewend wees vir ouers met babas of jong kinders wat meer vatbaar is wanneer dit kom by tipiese wintersiektes. Met so baie van die siektes wat dieselfde simptome het, kan dit boonop moeilik wees om vas te stel wat jou kind onder lede het.

Dr. Omolemo Percy Kitchin, ’n pediatriese pulmonoloog van die Netcare Waterfall City-hospitaal, sê ouers kan dié tipiese winterkwale hanteer en bestuur deur die basiese beginsels te verstaan wanneer dit by die verskillende tipes algemene wintersiektes kom.

Dit sluit in onder meer die algemene tekens en simptome, voorkoming, kontrollering en wanneer dit noodsaaklik is om ’n dokter te spreek.

Volgens dr. Kitchin is die volgende wintersiektes die mees algemene onder kinders:

  • Coryza: inflammasie van die voering van die neusholte, algemeen bekend as “verkoue”. Dit word afgelei uit die Griekse woord “Ko’ruza”, wat “nasale slym” beteken.
  • Influenza: ’n ansteeklike siekte wat veroorsaak word deur die influenza-virus en algemeen bekend is as “griep”.
  • Allergie-rhinitis: inflammasie van die neus, waarna verwys word as “hooikoors”.
  • Bronchiolitis: inflammasie van die kleiner lugweë.
  • Asma: chroniese inflammasie van die groter lugweë.

Een van die sleutelfaktore wat deur dr. Kitchin uitgewys word, is die oormatige gebruik van antibiotika vir die behandeling van hierdie siektes. “Baie ouers verwag outomaties ’n voorskrif om verkoues en ander virale infeksies te behandel. Nie net het die antibiotika nie die verlangde effek nie, maar kan dit gevaarlike newe-effekte inhou en dra dit by tot die wêreldwye probleem van antibiotika-weerstand,” verduidelik hy.

“Verkoue, griep en bronchiolitis word veroorsaak deur virusse en vereis dus nie behandeling met antibiotika nie. Ouers en versorgers is geneig om te dink dat antibiotika die probleem gaan oplos, maar antibiotika is slegs doeltreffend wanneer dit bakterieë behandel en nié virusse nie,” sê dr. Kitchin.

“Griep is potensieel die gevaarlikste van die drie toestande, spesifiek wanneer dit na sekondêre komplikasies soos longontsteking, wat in ernstige gevalle hospitalisasie vereis, oorgaan. Dit is meer algemeen onder individue met swak immuunstelsels. Hierdie individue behoort elke jaar ’n griepinspuiting, wat die erns van die toestand help beperk, te ontvang.”

Volgens dr. Kitchin verwar die publiek gereeld coryza en griep. “Gewoonlik wanneer iemand sê hulle het griep, verwys hulle eintlik na coryza of die algemene verkoue wat deur die rhino-virus veroorsaak word. Simptome sluit in ’n seer keel, hoes, loperige of geblokte neus en moontlik koors.”

“Griep het dieselfde simptome as ’n algemene verkoue, maar sluit ook seer spiere en ’n gebrek aan energie in. Dit kan oorgaan na komplikasies soos longontsteking, oorinfeksies en sepsis (bloedvergiftiging). Ongelukkig moet coryza en griep self hul weg uit die liggaam vind,” voeg dr. Kitchin by.

“Kinders onder die ouderdom van twee is gereeld vatbaar vir bronchiolitis. Dit kom voor as ’n hoes, met vinnige en swaar asemhaling en koors, en word in 90% van gevalle aangebring deur die respiratoriese selnetwerk-virus (RSV). Para-influenza en ander virusse wat die algemene verkoue en griep veroorsaak kan ook hierby betrokke wees.

Allergiese rhinitis, of hooikoors soos dit algemeen bekend staan, kom voor in seisoene wanneer daar baie stuifmeel in die lug is. Dit kan ook veroorsaak word deur allergiese reaksies op ander stowwe.

“Dié pasiënte het gewoonlik ’n hoes, veral in die aand, ’n droë en loperige neus met deurskynende afskeidings wat groen van kleur kan wees, waterige en krapperige oë en somtyds swelling van die ooglede. Hulle het ook gewoonlik ’n donker verkleuring onder die ooglede,” verduidelik dr. Kitchin.

Asma kom ook voor as ’n hoes wat vererger in die nag en ’n toe en hygende bors. “Ongeveer 40% van pasiënte wat asma het, het ook allergiese rhinitis. Dié toestande loop gewoonlik hand aan hand. ’n Goeie geskiedenisopname van asma is baie belangrik, aangesien die bors gewoonlik tydens die doktersondersoek oop is, tensy die pasiënt akute simptome toon. Asma word gevolglik dikwels misgekyk.”

Hoe word hierdie siektes bestuur?

Dr. Kitchin verduidelik dat ’n algemene verkoue of griep simptomaties behandel word met neussproeie, koorsmedikasie, voedsame etes en gehalte slaap. “Die virus sal homself met tyd uit die liggaam werk.”

“Allergiese rhinitis kan behandel word met ’n nasale kortisoonsproei en antihistamiene. Vir bronchiolitis, wat eerstens simptomaties behandel word, kan pasiënte voordeel trek uit hospitalisasie en suurstof wat deur ’n nasale pyp toegedien word. Asma behoort met ’n asmapomp behandel te word.”

Om die risiko van bronchiolitis te verminder, wat nie opsigself voorkom kan word nie, stel nasionale riglyne die gebruik van profilakse vir hoërisiko-pasiënte voor voordat die RSV-seisoen begin.

“Vroeggebore babas en babas wat met hartsiektes gebore is, word as hoërisiko-pasiënte gesien. Sulke kinders word gebore met harte en bloedvate wat abnormaal ontwikkel het, en veroorsaak lae suurstoftoevoer na die organe,” verduidelik dr. Kitchin.

Daar is baie eenvoudige wyses waarop jy die verspreiding van dié siektes kan beperk. “Leer jou kinders om gereeld handewasroetines te implimenteer en maak seker hulle kry genoeg voedsame etes. Vermy ook faktore in die omgewing soos tabakrook, maak seker jou kind se inentings is op datum en dat hulle ’n griepinspuiting kry voordat die winterseisoen aanbreek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Blommie ·

Ag Dr. Omelemo, wens Dr kan n semenaar oor antibiotika hier vir ons dokters gee want vir elke hoes en poep kry die kind antibiotika, ek he nog nie daar uitgestap as ek die Dr gaan sien net met n hoestroop vir n virus nie.
Ek is so vreeslik bly Dr praat hieroor, want ek is gekant teen antibiotika. Ek weet vir erge siektes help dit. Ek gebruik bors druppels van lenons vir my kinders en ek kan nie onthou wanneer laas hulle by n dokter was nie. Ek glo elke ouer ken sy kind en weet wanneer dit regtig nodig is, die probleem is mense met medies voel, dis daar so gebruik dit om dieDr vir enige kwale te sien, Nee wat ek hou hulle dop en sal maksimum 3 dae met n slegte hoesie sukkel en as dit nou regteig nie beter raak of hulle raak loomerig, dan weet ek dis nou van hier waar die Dr oorvat. Maar ek vertrou 101% op lenons

Virusse is nie bioties ·

Virusse is tegnies nie lewend nie. Het net DNA en n selmembraan. Gebruik die gasheer se selle om te oorleef. Dis n soort parasiet.
Daarom is die beste om jou immuunstelsel op te bou en nie jou immuunstelsel afte breek met goed wat bedoel is vir bakterie, en die bakterie weerstandbiedig maak teen antibiotika nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.