Woede raak almal

Foto: Pixabay

Suid-Afrikaners word elke dag met woede gekonfronteer, selfs al is dit net wat hulle in die media sien. Woede beïnvloed meeste van ons lewenservarings.

Openbare leiers gebruik woede om ondersteuners op te sweep – en woedende skares brand, breek af en vernietig. Maar woede vind nie altyd uiting in vernietiging nie, tog kan dit bydra tot ’n legio maatskaplike probleme, soos mishandeling, fisieke geweld en verkragting.

Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos, verduidelik:

“Ons kry daagliks te doen met probleme waar woede ’n groot rol speel. Huisgesinne verbrokkel, kinders word verwaarloos en die hele gemeenskap word geraak deur hierdie probleme. ’n Patroon van geweld kan gevestig word indien kinders in gewelddadige omstandighede grootword.

“Huislike omstandighede speel die grootste rol in die vorming en hantering van woede in ’n kind. Selfs waar daar nie fisieke geweld is nie, maar wel emosionele aftakeling, kan kinders woede ervaar. En om woede te onderdruk, soos sekere kulturele groepe neig om te doen, beteken nie dat dit nie bestaan nie.

“Mediese navorsing het al lankal die verband tussen onderdrukte woede en siektetoestande bewys. Sielkundiges koppel dikwels stres, depressie, angsversteurings, en selfmishandeling met onderliggende woede.

“Dalk is die situasie ten opsigte van geweld teen vroue en kinders juis so erg omdat mans nie op ’n aanvaarbare wyse uiting aan hul woede kan gee nie – omdat dit makliker is om dit op iemand wat kleiner en weerloos is, uit te haal. Ons moet darem ook onthou dat nie net mans gewelddadig of woedend raak nie.”

Maar hoe hanteer ’n maatskaplike werker ’n kind wat deur woede geraak word?

“Een manier is om die kind te help om oor gevoelens te praat en dit uit te speel. Omstandighede noop ons om kinders ook na eksterne terapeute te verwys vir professionele hulp. Om die kind te help om ’n ander perspektief te kry, kan die begin van ’n emosioneel gesonder mens wees,” verduidelik van der Merwe.

“Oor die langer termyn is dit baie belangrik om woede te kan beheer, nie net vir die individu nie, maar vir ons hele samelewing. Om uiting aan woede te gee, is nie verkeerd nie, dis die “hoe” wat saakmaak.  Tegnieke soos wegdraai uit ’n moeilike situasie, diep asemhaal en die bekende tel tot tien, kan ’n groot verskil maak, sê sy.

Navorsing toon dat sportgeesdriftiges juis op gesonde wyse van hul woede ontslae raak: langs die veld of voor die televisie.

Woede raak almal in die samelewing: van die tweejarige wat sy eerste vloermoer gooi tot by die ou oom in die aftreeoord wat sy humeur elke dag verloor. Intussen probeer maatskaplike werkers om elke dag saam met kinders en gesinne die stukke optel.

Die CMR Gauteng-Oos bedien jaarliks meer as 26 000 kinders en families.

  • CMR Gauteng-Oos werk met kinders en gesinne in die Tshwane-metro deur  13 streekkantore wat strek vanaf Bronkhorstspruit tot by Midrand. Meer inligting kan bekom word by Henda van der Merwe by 072 801 0092.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.