Wollies-diereskuiling pleit: ‘Help ons om die deure oop te hou’

Die Wollies-diereskuiling in die noorde van Pretoria gaan tans onder erge finansiële druk gebuk. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Die bekende Wollies-diereskuiling in die noorde van Pretoria is die afgelope sewe jaar ʼn baken van hoop vir troeteldiere in die gemeenskap, waar daar tans sowat 1 000 honde, katte en ander hawelose diere gehuisves word.

Dié skuiling gaan egter nou gebuk onder erge finansiële druk, aangesien daar ʼn instroming van diere in Desember verlede jaar was. Carla de Beer, woordvoerder van Wollies, verduidelik dat dié instroming ʼn ekstra las op die skuiling geplaas het. Daar het dus groot kommer ontstaan oor hoe die instansie sy deure gaan oop hou.

Volgens De Beer is die skuiling, wat geen finansiële hulp van die staat af ontvang nie en heeltemal afhanklik is van skenkings deur die publiek, onder druk om die Dierebeskermingswet toe te pas wat onder meer behels dat alle diere wat siek of beseer is, die veearts moet besoek.

“Dit het daartoe gelei dat ons tans met ʼn veeartsrekening van R100 000 sit. Dit het vir Cilla [Trexler] platgeslaan,” sê De Beer oor die eienaar en stigter van dié skuiling.

Vrywilligers kan met die honde by die Wollies-diereskuiling stap. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

“Ons word ongelooflik bygestaan en ondersteun deur die publiek, maar dit is ongelukkig net nie genoeg nie. Daarom is ons genoop om weereens te pleit vir mense om ons te help om die veilige hawe vir sowat 400 katte en 700 honde oop te hou.”

De Beer sê dat Wollies nie siek of beseerde diere wat by hul skuiling beland van kant maak nie, tensy daar geldige mediese redes is of indien ʼn veearts meen die dier se lewensgehalte is verswak en hy sal nie herstel nie.

“Soms word bokse met babahondjies of -katjies sommer net op ons stoep gelos. Ander kere maak mense sommer die honde aan die bome voor by die hek vas en los hulle net daar vir ons, of gooi selfs diere oor ons mure. Ons is tussen ʼn paar plakkerskampe geleë en moet dus nog die instroming van daardie diere na die skuiling ook hanteer.

“Benewens die reëls en regulasies wat ons moet nakom om volgens die wetgewing op te tree, moet ons ook seker maak die skuiling word soos ʼn sakeonderneming bestuur. Die boeke en belasting moet reg wees en salarisse elke maand betaal word.”

De Beer sê die skuiling verwelkom enige skenkings. “Geen skenking is vir ons te klein of te groot nie. As 20 000 mense elke maand selfs net R5 afstaan aan Wollies, kan ons die deure oop hou. Wat baie mense vergeet, is dat Wollies nie ʼn instansie is wat daar móét wees nie – die plek is met liefde en ʼn passie vir diere van onder tot bo opgebou. Ons doen ook veral ʼn beroep op sakeondernemings, aan wie ons 18A-sertifikate kan uitreik, om ons by te staan met skenkings.”

Die Wollies-diereskuiling huisves tans sowat 700 honde en 400 katte. (Foto: Elana Barker/Maroela Media)

Sy is vol lof vir Trexler, wat sowat sewe jaar gelede die skuiling op die been gebring het, se toewyding aan die skuiling.

“Cilla werk 24 uur per dag, sewe dae ʼn week, haar vingers tot op die been vir die diere van Wollies. Selfs op Kersdag en Nuwejaar het sy gewerk en as jy haar 02:00 in die oggend bel, antwoord sy haar foon.”

De Beer sê die skuiling het nog ʼn terugslag beleef nadat die eienaar van die perseel waar Wollies geleë is, besluit het dat al die instansies wat op dié grond bedryf word, ʼn huurooreenkoms moet teken.

“Ons is tans besig met onderhandelinge, wat al ʼn geruime tyd lank sloer. Ons behoort binne die volgende ses maande te weet of ons ʼn maandelikse huurbedrag moet betaal, maar dit sal ons moontlik die nekslag toedien. Selfs al is dit R200 ʼn maand vir die huur, is dit R200 wat Wollies nié het nie.”

Sy verduidelik dat maandelikse bydraes deur die publiek en veral sake-instansies die skuiling sal kan help om die wa deur die drif te trek. “Die skuiling, en veral Cilla, is uiters dankbaar vir al die ondersteuning wat ons tot dusver ontvang het en nog gaan ontvang,” sê De Beer.

Skenkings kan gemaak word deur debietorders, direkte EFT-inbetalings, Back a Buddy, SnapScan en Zapper. Kosskenkings kan ook gedoen word by sekere aflaaipunte. Vir meer inligting, besoek Wollies se Facebook-bladsy, bel Carla de Beer by 071 266 3620 of besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

Met lof vir die goeie werk wat gedoen word.
Met hartseer, die manier hoe ‘n hand wat hulp aangebied het, weggewys is…
Gern hulp is minderwaardig nie. Geen persoon wat hulp aanbied, se s.g. sosiale stand , te “laag”, dat ‘n opregte aanbod wat ‘n verskil kon maak, weggewys word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.