Word deel van die #3000unitsaday-veldtog

bloedskenk

Moeders is van die mees algemene gebruikers van bloed weens komplikasies tydens geboorte. Foto: Argief.

Met Moedersdag wat hierdie naweek gevier word wil die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) potensiële bloedskenkers herinner dat moeders van die mees algemene gebruikers van bloed is weens komplikasies wat dikwels tydens geboorte voorkom.

Die SANBS moet daagliks 3 000 eenhede bloed insamel om te verseker dat daar genoeg bloedvoorraad vir die land is. Die eenheid bloed wat ʼn bloedskenker op ’n keer skenk is ongeveer 480 ml en met só ʼn eenheid kan tot drie mense se lewe gered word.

“Dit klink eenvoudig, maar dit is gewoonlik ʼn moeilike taak om die nodige hoeveelheid eenhede daagliks in te samel en dit het ʼn reuse-impak op die lewe van pasiënte,” het Vanessa Raju, SANBS se kommunikasiebestuurder, gesê. “Maak seker dat daar genoeg bloed vir ons moeders is en raak betrokke by ons #3000unitsaday-veldtog.”

Volgens Raju kan iemand bloed skenk indien hy of sy tussen die ouderdom van 16 en 65 is, meer as 50 kg weeg en ʼn veilige seksuele leefstyl lei. Om uit te vind waar die naaste skenkersentrum is besoek www.sanbs.org.za, skakel 0800 11 90 31 of SMS jou naam en poskode na 31454 en die SANBS sal die besonderhede van die naaste skenkersentrum stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.