Wynand du Toit: Van krygsgevangene tot skrywer

wynand-du-toit-01

Wynand du Toit, die oudverkenningssoldaat met die boeke wat hy geskryf het. Foto: Eugene Gunning.

Wanneer die oudverkenningsoldaat, Wynand du Toit, Saterdag sy 60ste verjaarsdag vier, sal dit so anders as 33 jaar gelede wees.

Destyds was dit net ’n paar dae nadat hy op 21 Mei 1985 in Cabinda, Angola, gevange geneem is ná ’n mislukte operasie van die destydse Suid-Afrikaanse weermag.

Twee van sy makkers van die verkenningskommando, wat algemeen bekend gestaan het as die Recces, het gesterf. Wynand is ernstig gewond en het oorleef. Hy is langer as twee jaar in Angola aangehou en eers in 1987 vrygelaat.

Destyds was sy eerste verjaarsdag in die tronk in baie moeilike omstandighede. Hy was gewond en is in daardie dae ondervra.

Hy onthou dat hy destyds op daardie dag gevra was waarvan hy hou. Hy het vis verkies en tot sy verbasing het die hoofondervraer, Carlos, saam met hom sy verjaarsdag “gevier”.

Vanjaar se verjaarsdag sal anders wees, want hy gaan tussen die mense wees wat vir hom belangrik is. Sy kinders uit sy eerste huwelik, Klippie en Benine, sy tweede vrou, Frances, en hul kinders, Beamari en MJ, gaan die geleentheid in Glentana langs die Suid-Kaapse kus vier. Benine, wat verantwoordelik was vir die buiteblaaie van al sy boeke, het die hele ent van Nederland gekom om die groot feesvieringe by te woon.

Die afgelope Maandag het Wynand wel, soos gewoonlik, aan die afgelope klompie jare teruggedink aan daardie rampspoedige middag in Angola.

Hy het met Maroela Media gepraat oor die lewe wat aangaan en die dinge wat sedertdien gebeur het. Ná daardie voorval was sy lewe nooit weer dieselfde nie. Mens leer om met dinge saam te leef.

wynand-du-toit-02

Wynand met sy eggenoot, Frances. Hulle woon deesdae in Glentana langs die Suid-Kaapsekus.
Foto: Eugene Gunning.

Ja, hy was gelukkig om te oorleef en voeg by: “Ek sien dit dat ek moes leef.”
Ná sy terugkeer het hy motiveringspraatjies namens die weermag gelewer. In Februarie 1990 het hy die weermag verlaat ná ’n  loopbaan van 13 jaar. Daarna het hy gaan boer, was sakeman en deesdae is hy ʼn skrywer. “Skryf is die lekkerste” sê hy.

Ses boeke, Judasbok, Josefskleed, The long lost grave, S-98, Destiny en Pelindaba Protokol het reeds uit sy pen verskyn en hy werk aan ’n volgende boek, Soldaat, wat na verwagting in Augustus/September sal verskyn. Altesaam 7 boeke onder sy naam staan op die rak, want Judasbok is ’n paar jaar gelede uit Afrikaans na Engels vertaal.

Die skrywery verseker hom van ’n inkomste. “Onthou, ek het nie ’n pensioen nie.”

Sy skrywery het op Hoërskool Hopefield begin (in 1976 was hy hoofseun daar). Destyds het hy ’n paar verhale geskryf, maar het dit nooit vir publikasie voorgelê nie.

Interessant genoeg het die skrywery in alle erns in die tronk in Angola begin toe hy tyd gehad het. Hy moes dit in Engels skryf sodat die Kubane wat hom opgepas het, dit kon verstaan.

As hy terugdink is hy nie spyt oor alles wat gebeur het nie en hy sal dit weer doen. Sy tyd in die weermag was die beste tyd van sy lewe.

Hy was by baie militêre operasies betrokke. “Ek kan nie onthou hoeveel nie.”

Dit was gevaarlike werk en hy was dikwels in lewensgevaarlike omstandighede agter vyandelike linies in van die buurlande.

Nieteenstaande alles wat gebeur het, is hy nie kwaad en verbitterd nie. Hy kan nie namens sy oudkollegas in die spesmagte praat nie, maar voeg by: “Jy sal nie bitterheid onder hulle optel nie.

“Dit was ’n werk. Ons was professionele soldate en het geglo aan dit wat ons gedoen het.”

Op die vooraand van 60 jaar word, is hy baie gelukkig. “Die 60 het my bekruip. Ek het dit nie sien kom nie. Ek is eintlik baie dankbaar. Die lewe het my sy beste gegee.’’

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Lize Weber ·

Bly om te sien dat dit goed gaan met Wynand. Ons geslag wat die oorlog beleef het deur ons broers, seuns en pa’s wat diensplig moes doen, het destyds daagliks gebid vir sy vrylating. ‘n Paar jaar na sy vrylating , het ons die voorreg gehad om hom en sy gesin raak te loop in die Cederberg area waar hy veldkuns vir kinders aangebied het. Geseënde verjaardag en nog vele meer!

geluk ·

kan jou storie onthou en is dankbaar dat jy ‘n geseende lewe het.

Lollie ·

Baie geluk met jou verjaardag Wynand! Onthou alles asof dit gister was, saam gebid vir jou vrylating. Bly om te hoor jy is nie verbitterd nie en ook dat al die dinge jou nie kon onderkry nie.
Ons kla so maklik en onbelangrike dinge kry ons so gou onder maar jy het gegroei uit al jou probleme.
Sterkte met die skryf en wens jou alles van die beste toe!
Dankie MM vir die pragtige storie! !!!!

Basson ·

Jy het 1988 met ons kom gesels by Seinskool, Heidelberg.
Respek, en bly dit gaan goed!

wraggies ·

Geluk Wynand en alle sukses met die skryf, ek het die grootste respek vir oud-Recces.

Bertha Phillips ·

Onthou die lewe…ek het wakker gesit en wag vir hom toe hy op lughawe aankom.

Dis hoendervleisonthou dae. My broer was in 32 bataljon 1983/84.

Jul was ons trots

Linda ·

Ek onthou die nag toe Wynand uiteindelik terug in Suid Afrika aangekom het. PW Botha en sy ex vrou was daar gewees. Die trane het gerol van blydskap. Baie geluk met jou 60ste verjaarsdag !!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.