Met die Kersseisoen op hande en verbruikers wat vervaard inkopies doen, is dit belangrik om te weet hoeveel alles kos. Almal van ons het al ʼn probleem gehad me ʼn prys op die rak en by die kasregister wat nie ooreenstem nie en min verbruikers weet wat hul regte is oor pryse op produkte. Ina Opperman verduidelik die vereistes van die Wet op Verbruikersbeskerming oor pryse vir produkte en dienste.
Verbruikers se reg op blootlegging en inligting, wat deur die Wet op Verbruikersbeskerming verseker word, sluit die blootlegging van die pryse en eenheidspryse van goedere of dienste in. Volgens artikel 23 van die Wet, mag ʼn kleinhandelaar nie goedere as te koop uitstal sonder ʼn prys nie.
Uitstal sonder ʼn prys
Die kleinhandelaar hoef egter nie pryse aan te dui vir goedere wat oorwegend as ʼn vorm van reklame vir die verskaffer uitgestal word of wat uitgestal word in ʼn deel van die winkel waartoe die publiek nie gewoonlik toegang het nie. Dit beteken byvoorbeeld winkels hoef nie pryse aan te dui in winkelvensters nie.
Wys die prys
Die Wet vereis dat kleinhandelaars die pryse van produkte op skrif in rand en sent aandui. Die prys moet vasgeheg, geskryf, gedruk, gestempel of geplaas word op ʼn band, kaartjie, bedekking, etiket, verpakking, rol of rak waarop die produkte uitgestal word, op ʼn manier dat jy redelikerwys kan aflei dat dit van toepassing is op die betrokke goedere of dienste. Die meeste kleinhandelaars dui deesdae die pryse vir goedere op die rak aan waar die produkte uitgepak is.
Kleinhandelaars, wat goedere te koop aanbied in ʼn katalogus, brosjure, nuusbrief of enige ander vorm van publikasie, moet aandui tot wanneer die goedere teen die betrokke prys verkoop word. Die kleinhandelaar mag dan nie verwag dat jy meer as hierdie prys betaal nie, of ʼn prys wat hoër is as die laagste prys wat aangedui word nie, tensy die prys vasgestel word in terme van enige openbare regulasie.
Uitsonderings
- Wanneer die prys wat voorheen aangedui is ten volle bedek en verberg word deur ʼn tweede prys, word die tweede prys beskou as die aangeduide prys.
- Indien ʼn aangeduide prys ʼn onopsetlike en ooglopende fout bevat, word die kleinhandelaar nie daardeur gebind nadat die fout reggestel is nie en ook nie indien die kleinhandelaar redelike stappe in die omstandighede gedoen het om verbruikers, wat die foutiewe prys moontlik gesien het, van die fout en korrekte prys in te lig nie.
- ʼn Kleinhandelaar hoef ook nie by die aangeduide prys te hou indien ʼn ongemagtigde persoon die prys magtig, verander, skend, bedek, verwyder of verberg nie.
- Artikel 23 is nie van toepassing op ʼn transaksie indien die kleinhandelaar reeds ʼn kwotassie verskaf het nie of wanneer die transaksie onderhewig is aan artikel 43 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies.
Advertensies vir uitverkopings
Wanneer ʼn kleinhandelaar ʼn prysvermindering adverteer op ʼn plakkaat of iets soortgelyks, moet die prys wat aangedui word, die prys wees wat jy betaal, tensy twee of meer pryse onmiddellik op die betrokke goedere of dienste aangebring is. Die verskil tussen die hoogste en laer of laagste van die pryse moet gelyk wees aan die geadverteerde prysvermindering.
Waghond tree op
Die Nasionale Verbruikerskommissie het intussen vandeesweek begin met ʼn veldtog om mense bewus te maak van verbruikersregte wanneer dit by pryse kom , om veral kwesbare verbruikers, wat maklik deur kleinhandelaars uitgebuit word, te beskerm.
“Verbruikers, veral diegene met lae vlakke van geletterdheid, kan maklik mislein word deur gewetenslose kleinhandelaars, veral gedurende die feestyd,” sê Trevor Hattingh, woordvoerder van die kommissie.
Die veldtog is ook daarop gerig om kleinhandelaars sover te kry om vrywillig aan die bepalings van die Wet te voldoen.
Die kommissie sê hy is bekommerd oor die neiging by kleinhandelaars om pryse in verskillende lande se geldeenhede op produkte te sit, omdat dit verbruikerskan verwar. Navorsing word as deel van die veldtog hieroor gedoen.
Oor die volgende twee weke sal die kommissie blitsinpeksies doen by kleinhandelaars in Pretoria, Johannesburg, Ekurhuleni en Middelburg in Mpumalanga om te kyk of hulle voldoen aan die prysbepalings van die Wet.
Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor kleinhandelaars wat nie hou by die prysbepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming nie.
Verbruikers moet wakker wees as die produkte “gescan” word by die betaalpunt. Ek het gisteraand inkopies gedoen by Spar in Cullinan. Spar het die “CHRISTMAS PROMOTION SPECIALS” op die rakke by sekere propukte wat op die “special” is. Toe ek by die huis aankom, en na die kasregister strokie kyk, het ek nie die “special” prys op 2 produkte betaal nie. Dit is maar R4 waarmee hulle my ingedoen het, maar die prinsiep van die saak is, as hulle dit met al die verbruikers doen, maak hulle geld soos bossies! Let aseblief op mense, ons word verneuk deur n baie bekende en betroubare supermark groep!
Kyk ook uit vir lugtyd wat jy nie gekoop het nie maar gelui is. Ek hetvR30 vir lugtyd wat ek moesbgan terug vra en al wat gese is jammer . Hulle pak ook verskillende grootes op dieseldde rak