Zenobia Kock vertel oor bekroonde radiodrama

Foto: www.pixabay.com

Foto: www.pixabay.com

Zenobia Kock, ʼn Afrikaans-onderwyser by H2 Privaatskool in Mthatha in die Oos-Kaap, bekend vir verhale soos Die mense wat so rou is en Die kruppel engel, se eerste bekroonde radiodrama kan op 14 April in Radioteater op RSG gehoor word.

Die nag van die wyses het in 2015 die derde plek behaal in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie vir 2015.

Die nag van die wyses is ʼn poëtiese verhaal wat handel oor ʼn wanaangepaste oujongnooi wat die wêreld van ʼn afstand beloer en boonop simptome van Asperger se sindroom toon. Maar dan gebeur iets wat haar buitengewoon laat optree en almal rondom haar verstom.

Zenobia sê as onderwyser kom sy in aanraking met ʼn groot verskeidenheid mense, maar sy is veral geïnspireer deur ʼn jong seun met Asperger se sindroom in ’n baie erge graad. “Ek wou aanvanklik ʼn eietydse Kersverhaal skryf, maar toe dit nie werk nie, het ek ʼn verteller by die storie gevoeg. Hy het later op my begin groei en met my kop begin smokkel, en toe word die aanvanklike idee met die verteller twee parallelle stories,” het sy gesê.

Die radiodrama speel af naby die N1 tussen Kaapstad en Johannesburg en het heelwat kinkels en onthullings. Sy sê karakters is een van haar gunstelingelemente van storievertel. “Ek het langer as 20 jaar op Colesberg gewoon en baie van die sogenaamde karretjiemense te wete gekom. Hulle is afstammelinge van die Khoi-San en het verafrikaans. Deesdae is daar nie meer so baie van hulle nie omdat hulle al meer geletterd raak. Maar mense en karakters fassineer my.”

Die rolverdeling sluit in Juanita Swanepoel as Fransiena Delport, Johann Nel, Kim Heyns, Pierre Nelson, Zenobia Kloppers, Chris Majiedt, Sizwe Msutu en Dean Balie. Die regisseur in Kaapstad is Eben Cruywagen.

Kock is ook bekend vir haar kortverhale wat al in Huisgenoot, Rooi Rose en Vrouekeur geplaas is.

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word elke Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

Besoek RSG se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.