Kragopwekker-kompetisie: Hier is die wenner

beurtkrag-gloeilamp

Argieffoto

Die wenner van Maroela Media se “Lig in die donker”-kompetisie is aangewys.

Sunita Keyser van Bloemfontein in die Vrystaat het ʼn kragopwekker ter waarde van R7 500 met haar grappige verhaal gewen. Sunita sê sy is baie lief vir skryf en Afrikaans en behoort ook aan die Bloemfonteinse skrywersvereniging. Só kragopwekker sal dus baie handig te pas kom as die nasionale kragvoorsiener weer beurtkrag aankondig!

Maroela Media het lesers genooi om vir ons ʼn “Lig in die donker”-storie te vertel. Dit is iets snaaks wat in die huis gebeur het toe die ligte skielik afgegaan het, of ʼn slim plan wat gemaak is om die kos gaar te kry, of selfs iets lekkers wat die gesin aangepak het terwyl die krag af was.

Hier volg Sunita se verhaal:

Hy lê stil. Ek steek vas. ’n Hond soos Peper lê nie helder oordag met sy kop op sy pote nie. Sy kop voel warm. Ek lig sy bolip effens. Hy protesteer nie. Die tandvleis is gryswit. Ek weet sommer: Dis bosluiskoors.

Daar is sestig kilometer tussen ons en die veearts. Ek jaag. Die parasiete groei elke sekonde in die boel se bloedstroom. Die veearts beaam die siekte, spuit vir Peper en gee blou-en-wit kapsules. “Gee dit elke ses uur.”

Dit is aand. My man werk laat. Dit is planttyd. Ek roep hom oor die radio. “Gee asseblief die hond se pille as jy inkom. Ek gaan nou slaap.”

“Reg my vrou. Waar is dit?”

“In die yskas in ’n stukkie polonie. Jou kos is ook daar.”

Later word ek wakker. Dit is pikdonker… Beurtkrag!

Ek hoor die hond is naar. “Aaaawghh, aaaawghh,” hoor ek by die kamervenster. Ek is kwaad. Het manlief dan nou nog nie die hond se medisyne gegee nie? Ek gryp my flits en strompel in die flou lig deur toe.

Daar sit my man by die kraan en druk sy vinger in sy keel. “Ek kon nie mooi sien in die yskas nie. Aaaawghh, aaaawgh. Ek het die hond se polonie geëet.”

Ek probeer by die landlyn kom. Ek stamp teen alles. “My vet (gesensor) Marelize! Dis die hond se pille!” skree ek.

Die flits is in my pad. Ek druk eers ’n verkeerde nommer. Eindelik antwoord die veearts. “Het julle ’n koei wat nie kan kalf nie?”

“Nee, dis baie erger!” Ek stotter die storie uit. “Wat nou?” roep ek in die donker. “Die pille wil nie uit nie.”

“Slaap rustig,” sê die veearts. “Dit is gewone antibiotika.”

Ai, Eskom!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.