Stem en wen: Help kies Maroela se Herfsbruid

Dis ʼn groot voorreg om die liefde van jou lewe te ontmoet – en ʼn groter voorreg as julle trou aan mekaar kan beloof.

Maroela Media gaan met elke seisoen ʼn seisoenebruid aankondig en aan die einde van die jaar gaan ons lesers ook die geleentheid kry om die Bruid van die Jaar aan te wys.

Paartjies wat tussen Maart 2022 en Mei 2022 getrou het, het vir die Herfsbruid in aanmerking gekom. Ons het reeds ons Somerbruid aangewys.

Uit honderde inskrywings moes ʼn beoordelaarspaneel behoorlik kopkrap – dis duidelik dat Afrikaanse meisies die mooiste bruide maak! Ons het die top-10 Herfsbruide saamgestel en nou wil ons by julle, ons lesers, hoor watter een van dié mooie bruide moet as die Herfsbruid aangewys word en uiteindelik deurdring na die finale ronde as Maroela se Bruid van die Jaar.

Ons gaan deur die loop van die jaar ook nog ʼn Winterbruid (troues in Junie – Augustus 2022) en Lentebruid (September – November 2022) aanwys. Hou dus Maroela dop as jy wil seker maak jy skryf vir dié opwindende kompetisie in!

Stem en wen

As jy deelneem aan die stemmery vir die Herfsbruid, staan jy die kans om ʼn heerlike Tupperware-geskenkpak te wen. Laat weet ons voor 26 Junie 2022 wie jóú gunsteling is uit die top-10-Herfsbruide.

Jy kan tydens die stemproses van elke seisoenebruid in aanmerking kom vir ʼn Tupperware-geskenkpak ter waarde van R5 500.

Dié wonderlike geskenkpak sluit in ʼn mikrogolf- vinnige koker (ter waarde van R1 999), ʼn kruieknipper (R459), ʼn “Signature Line”-stel (vier verskillende groottes) (R1 686), ʼn VentSmart High-stel (R499), ʼn “Click Series”-stel (R500) en ʼn geskenkbewys wat jy aanlyn in Tupperware se winkel kan gebruik ter waarde van R500.

Hier is die top-10 Herfsbruide

Die uiteindelike wenner van ons Herfsbruid-kompetisie wen twee nagte vir twee persone wat deel by die Nibela Lake Lodge in St Lucia in die noorde van KwaZulu-Natal (insluitend aandete en ontbyt) met die komplimente van Dream Hotels and Resorts.

Chanté du Plooy

Chanté en Wimpie du Plooy van Rayton in Gauteng het op 18 Maart by Lace On Timber getrou.

“Du Plooy kry sy nooi. Ná ‘n jaar se beplanning, droom en opgewondenheid het ons sprokiestroue aangebreek en dit was alles en meer as waarvoor ons gebid het. Ons vir ewig het begin by die mooiste venue genaamd Lace on Timber in Rayton, Gauteng. Elke detail was perfek. Ek het as ‘n verrassing aan my bruidegom ‘n liedjie geskryf waarop ek ingestap het om hom voor die kansel te ontmoet. Ons kleurskema was sagte pastelkleure met roosgoud aksente. Ons gaste is vermaak met ‘n ‘gin bar’ en lewendige musiek, die heerlikste lamskenkel en ʼn groot verskeidingheid van nageregte. Ons het die aand om gedans en gekuier saam met almal vir wie ons lief is. Die aand is afgesluit met ʼn vreugdevuur waar ons tot die vroeë oggendure gekuier het. Dit was werklik ‘n sprokiestroue.”

Santie le Roux 

Santie en Damian le Roux van Piketberg in die Wes-Kaap het op 19 Maart by Ezulwini Game Lodge in Hluhluwe, KwaZulu-Natal getrou.

“ʼn Dag wat te vinnig verbygegaan het saam my man, familie en vriende! Ons bosveldtroue was alles en meer waarvoor ons kon vra. Ek en my man, Damian, het in Hluhluwe ontmoet en het al twee ʼn liefde vir die bosveld. Ons het ons liefde vir mekaar belowe voor God in die natuur! Alles is mooi opgeneem deur ʼn video en foto’s wat my elke dag laat terugdink aan ons mooi dag! So dankbaar alles het perfek uit gewerk ná ons derde datum!”

Anelda Vermaak 

Anelda en Vincent Vermaak van Vanderbijlpark in Gauteng het op 16 April by Anderland in Potchefstroom, Noordwes getrou.

“Daar word gesê dat reën op jou troudag vir jou huwelik seën sal inhou. Daarvan kan ons definitief getuig. Met ‘n groot donderstorm die aand voor die tyd, was ons groot dag bewolk van die oggend tot die aand met reën wat deurlopend geval het. Dit het gelukkig niemand ontstel nie en die dag was alles waarvoor ons kon gevra het. Die enigste tyd wat dit nie gereën het nie, was die tyd tussen die seremonie en onthaal sodat ons fotograaf die mooiste sprokiesverhaalfoto’s kon neem. Ons dag was behoorlik met God se liefde omhels. Die saam lag, dans, vreugde en samesyn van al ons naaste geliefdes het die koue dag opgewarm. Dit is ook nie aldag dat die dominee tot laat in die aand saam met die gaste nog dans en kuier nie. Ons perfekte dag het toe werklik perfek uitgedraai en ons sal dit vir niks in die wêreld verruil nie.”

Eloize Swarts 

Eloize en Pieter Swarts van St Helenabaai in die Wes-Kaap het op 26 Maart by Soverby Lapa naby Dwarskersbos getrou.

“Op 26 Maart 2022 het ons besluit om ons liefde van 15 jaar te vier en ʼn nuwe fase van ons lewe te begin. In die Weskus langs die kuslyn van die Atlantiese Oseaan, tussen die fynbos met die see wat soos ʼn blou kombers om jou lê, met ʼn asemrowende uitsig, het ons aan mekaar trou beloof. Dit was die perfekte dag. Saam met naaste familie en vriende, heerlike kos, ontspanne atmosfeer, mooi weer en mekaar, kon ons nie vir ʼn beter dag gevra het nie. Dit als was in ʼn oogwink verby, maar die mooi herinneringe van ons troudag sal vir ewig gekoester word.”

Ineke du Preez

Ineke en Herman du Preez van Stellenbosch in die Wes-Kaap het op 7 Mei by Slanghoek Mountain Resort in Rawsonville in die Wes-Kaap getrou.

“Toevallig … eerder toe val lig. Of dis hoe ons dit sien. Ek en Herman het mekaar op Koer gevind – toevallig, ons weet. Uit die hoeveelheid mense wat tydens Covid-19 ʼn ‘maatjie’ gesoek het, het ons mekaar gevind. Ná ʼn week se gesels, ʼn eerste afspraak van amper 10 ure en liefde met die eerste oogopslag, kon ons op 7 Mei ewige trou aan mekaar beloof. Toe val lig. ʼn Vrydag van krisisbestuur en reënbuie en wat voorlê was ons perfekte dag, die volgende dag met ʼn seremonie buite en ʼn voorspelling van heelwat reën en kragonderbrekings. Baie gebede later het dit ʼn paar uur voor die seremonie ophou reën en het ons die mooiste weer en natuurskoon gehad en die kragonderbrekings is opgehef. Toe val lig. Ons dag was alles en meer as wat ons ooit wou hê, ʼn partytjie tot in die oggendure, gaste wat lag en dans, kinders wat baljaar en ons naaste mense saam met ons – al het ons net oë vir mekaar gehad. As ons kon kies, kies ons alles presies weer só, die spanning ook. Die Here voorsien en seën, want toe val lig.”

Maryna van Heerden

Maryna en Christo van Heerden van Middelburg in Mpumalanga het op 29 April by Gail’s Venues in Middelburg getrou.

“Die lewe is moeilik; tyd is niks, maar my liefde vir ʼn persoon is sag en elegant. Perfek is nie my woordeskat nie. Die Van Heerden-bruilof was elegant en eenvoudig. Goudgeel sonneblomme, rose rooier as rooi, glimlagte, oë wat skitter van blydskap en ʼn knop in die keel om die trane van geluk terug te hou. Dié dag van uiterse belang is te danke aan God waar twee siele een kon word. Ons het ons dag saam met Pappa Vader gevier: alle eer aan Hom. Die buitelug en die atmosfeer van vars lig is al wat enige bruid nodig het! Die yster van my drome, die rots in my lewe, die oë wat na my staar is die man wat God vir my gegee het en vir wie ek uiters dankbaar is. Pappa Vader weet wat ʼn vrou benodig! Ons het onder die sterre gedans in ʼn onthaal van liggies met voete wat gejeuk het op die ritme van die musiek.”

Adell van Wyk

Adell en Renier van Wyk van Standerton in Mpumalanga het op 12 Maart by Lavender Hill Country Estate net buite Bethlehem in die Vrystaat getrou.

“Die mooiste dag en sommer hele naweek! Almal was daar! Ons is so geseënd om al ons ouers nog te hê wat ons liefde vir mekaar saam met ons te kon deel en vier. Ek weet nie wie het méér uitgesien om by die gangetjie in die kerk af te stap nie – ek of my pa. Hy was so spoggerig en trots. Die weer was perfek, maar ekstra warm toe ons mekaar vir die eerste keer sien. Ons het voor die seremonie privaat ontmoet. Die doel was om tyd te spaar en meer tyd met ons gaste deurbring – dit het selfs meer spesiaal uitgedraai as wat ons gedink het. Baie senuwees is verlig op dié manier. Ek het ses strooimeisies en Renier het een strooijonker gehad. Die mooiste mense in ons lewens. ‘n Ware sprokiesverhaal. Die boodskap tydens die seremonie het gehandel oor ʼn slot wat oopgesluit word wat ons toekomstige lewe saam simboliseer en hoe die Here deel vorm hiervan. As ons nou terugdink, kan ons niks sien wat verkeerd geloop het nie… alles het verloop volgens plan. Selfs die blommemeisies en hofknapies.”

Annanda Grimbeek

Annanda en Jacques Grimbeek van Victoria-Wes in die Noord-Kaap het op 19 Maart by Melton Wold Guest Farm in Victoria-Wes getrou.

“Ons het op die oudste gasteplaas in die land, Melton Wold, getrou. Dit is geleë tussen Victoria-Wes en Loxton. Ons het ons droomtroue alles self gedoen en ons inspirasie was Karoo-fynbos en oudhede. Kosbare familieliefde, proteas, ou botteltjies, vetplantjies, wortelkolwyntjies, olywe, spitbraai en boere-vastrap was die hoogtepunte van ons sprokies-troudag. Die Here het ons dag geseën met ʼn 16 mm-stortreën die oomblik toe ek in die kapel instap. Dit was so spesiaal ná ʼn baie erge droogte wat die Karoo beleef het.”

Imere Simon

Imere en Lean Simon van Riversdal in die Wes-Kaap het op 9 April by Privelistea Wedding & Functions in Groot-Jongensfontein naby Stilbaai in die Wes-Kaap getrou.

“Ons dag was absoluut perfek. Ná meer as sewe jaar het ons trou aan mekaar beloof en die dag was ʼn absolute droom wat waar geword het. Ons het beide bos en see gehad wat dit vir ons soveel meer spesiaal gemaak het omdat ons my pa se as in die see gestrooi het. Ons het ʼn ‘rustic casual’ troue gehad. Ons het lekker vingerhappies gehad vir ete en almal kon iets gryp en peusel. Ons het gedans en gekuier en die dag net gevier! Ons troue was intiem en almal wat ons lief het, het die dag saam met ons gedeel. Ons was baie geseënd. Al het my krulle uitgewaai en ons soveel goed vergeet, sal ek dit presies só, oor en oor en oor doen.”

Belinda Botha

Belinda en SJ Botha van Victoria-Wes in die Noord-Kaap het op 19 Maart by die Victoria-Wes Skougronde getrou.

“Die droë Karoo is vir ons omskep in die mooiste reënerige dag, om al ons ou stof af te spoel, sodat ons huwelik skoon en rein kon begin. ʼn Uur voor sonsondergang het die son sy kop uitgesteek agter die wolke en kon ons die mooiste foto’s neem. Ons het hierdie dag saam met al ons familie en vriende gedeel en tot die vroeë oggendure ons liefde saam gevier!”

Stem nou

Oops! We could not locate your form.

Bepalings en voorwaardes

  • Die sluitingsdatum om vir die Herfsbruid te stem is 26 Junie 2022 om 23:45.
  • Die wenner van die Tupperware-geskenkpak sal lukraak uit alle stemme gekies word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • As jy aan die stemmery deelneem, stem jy in dat jou naam op Maroela Media se webwerf bekendgemaak mag word indien jy as een die wenner van die Tupperware-geskenkpak aangewys word.
  • Maroela Media kan nie aanspreeklikheid aanvaar as jou inskrywing vir een of ander tegniese rede ons nie betyds bereik nie.
  • Die prys(e) kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Maroela Media sal die wenner kontak en jou fisiese adres bekom sodat die geskenkpak aan jou gestuur kan word.
  • Maroela Media en Tupperware kan nie aanspreeklikheid aanvaar vir enige skade of verlies wat jy mag ly wanneer jy van die geskenkpak gebruik maak nie.
  • Inskrywings vir die Winterbruid sal plaasvind tussen Junie en Augustus 2022, en inskrywings vir die Lentebruid sal plaasvind tussen September en November 2022. Inligting en inskrywingsvorms hiervoor sal deur die loop van die jaar op Maroela Media bekendgemaak word. Jy kan ook die Kompetisie-afdeling dophou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.