[Wen] Casper, Schalk en Hannes is ‘3-in-1’

Casper de Vries, Schalk Bezuidenhout en Hannes Brümmer (Foto: Alet Pretorius)

Die Afrikaanse komediante Casper de Vries, Schalk Bezuidenhout en Hannes Brümmer is op 28 Julie in 3-in-1 in Krugersdorp te sien. In dié produksie is dié drie uit drie generasies vir 90 minute sáám op die verhoog.

Erns Grundling, vervaardiger van 3-in-1, sê die produksie is uniek omdat die komediante die materiaal voortdurend aanpas en op die gehoor moet steun vir temas en onderwerpe tydens improvisering.

“Die gehoor kan uitsien na vlymskerp en skreeusnaakse interaksies en kommentaar oor Afrikaanse feeste, rolprente, musiek, advertensies, middernagtelike skommelinge in die kabinet, ouerskap, die diereryk en sommer die lewe self. Elke komediant deel ook iets oor sy grootwordjare en eerste invloede,” sê Grundling.

3-in-1 was in April ’n treffer op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn en vandeesweek is dit op die Vrystaat Kunstefees te sien en later ook op Aardklop.

De Vries, wat deesdae ook die radio-aanbieder van die Casper Radio Show op Vrydae op Cliffcentral.com is, sê dié produksie is ʼn uitdaging.

“Jou brein moet nogal ‘aan’ wees om dit te kan doen en myne is nog net-net aan, maar dis vir my wonderlik om te doen. Ons skep iets wat ’n mens nooit weer sal sien nie. Ons doen dit nie aand na aand nie, so met elke vertoning is ons vars en vrolik en lus vir vermaak en om mense te laat lag. Jy voel jy het iets bereik en dit is ’n baie heuglike en jeuglike gevoel,” sê hy.

Brümmer, ’n ervare akteur, komediant en skrywer, sê dié produksie het tot dusver vir die lekkerste tye nóg op die verhoog gesorg.

“Jy moet regtig op jou voete kan dink. Vir my is 3-in-1 ’n nuwe formaat van komedie. Ons vaardighede word tot die uiterste beproef. Maar die gehoor hoef nie bang te wees dat ons nie weet wat ons doen nie. Ons werk met ’n effense struktuur. Maar meer as dit werk ons met die ondersteuning van mekaar.”

Bezuidenhout beaam die uitsonderlike aard van die produksie.

“Daar is hierdie ding tussen jou en die gehoor: Jy weet jy het iets nou net uitgedink, en hulle kan dit ook sien. Dit is opwindend, onvoorspelbaar en onbeperk.”

3-in-1 is te sien in The Globe by Silverstar Casino in Krugersdorp om 20:00. Kaartjies kos R150 per persoon.

LET WEL: Die kompetisie is nou gesluit.

WEN: Drie lesers kan elk ʼn dubbelkaartjie vir 3-in-1 wen. Om in te skryf, stuur jou naam, van, kontaknommer, fisieke adres en jou antwoord op die volgende vraag na [email protected]: Watter komediante is in 3-in-1 te sien? Inskrywings sluit op 24 Julie om 12:00. Wenners word per e-pos in kennis gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nils ·

Nee dankie. Daar is genoeg van dié soort wat mens gratis kan besigtig as jy wil lag.

Steven ·

Schalk is dalk steeds skerp, maar Casper is laaaankal verby sy ‘sel-by-date’……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.