Wen: Jo Black, Albie Morkel span kragte saam vir sport en vermaak

Albie Morkel en Jo Black saam met hul gades (Foto: Nadine de Waal)

Kaartjies vir die openingsgeleentheid van die bekroonde sangsensasie Jo Black en Suid-Afrikaanse krieketheld, Albie Morkel, se nuwe sport- en vermaaksentrum in Montana Park het binne etlike ure uitverkoop.

Die Ultimate Aim Sports Pavilion in Pretoria open op 31 Mei amptelik vir die publiek. Hier kan sportgeesdriftiges bymekaar kom om hulle vaardighede in die gewilde buitelugsportsoorte, onder andere gholf, boogskiet en visvang, op te skerp en ten toon te stel.

Die sentrum bied ’n wye verskeidenheid van sportfasiliteite, soos boogskutbane, ʼn gesofistikeerde hoë-definisie gholfsimulator, ’n winkel met ’n wye verskeidenheid van gholftoerusting, visvanggeriewe en vele meer.

“Ons fokus op die gewildste buitelugsportsoorte wat gesinne saam kan beoefen en wil graag hê dat dit die beste familiebestemming in die land moet wees,” sê Morkel.

Jo Black se teater-restaurant, The Bearded Butcher (Foto: Nadine de Waal)

Die musiekrestaurant met die gholfafslaanbaan en kinderspeelplek gaan ook die ideale plek wees vir gesinne om te kan smul aan die geurigste uitsoekgeregte terwyl hulle ’n verskeidenheid van vermaak, van Dewald Wasserfall tot ADAM, tydens Junie en Julie op die verhoog kan geniet.

The Bearded Butcher, Jo Black se teater-restaurant, sal die hartklop van lewendige vermaak van die sentrum wees. Volgens Albie gaan die restaurant met smullekkerkos baie waarde tot die sentrum toevoeg omdat ’n familie-atmosfeer geskep gaan word.

Diegene wat nie betyds was om kaartjies vir die openingsaand te koop nie, kan steeds deel wees van die opwinding, want die hele naweek gaan propvol vermaak, kompetisies en spesiale openingsaanbiedinge wees.

Op Saterdag 1 Junie kan gholfgeesdriftiges hulle vaardighede kom tentoonstel op een van die gesofistikeerde hoë-definisie

Boogskiet kan by hierdie nuwe sportsentrum beoefen word (Foto: Nadine de Waal)

gholfsimulators en nog boonop die kans staan om met heerlike pryse weg te stap.Een begaafde boogskutter kan ook ’n boog wen ter waarde van R16 995 as hulle die versteekte kol agter op die gelukkige teiken raakskiet.

Deure sal oor die naweek om 09:00 open en besoekers kan ook  heeldag smul aan die lekkerste uitsoekgeregte en drinkgoed by The Bearded Butcher. Kinders sal veilig besig gehou word in die kindervermaakarea.

“Hierdie was die droom gewees en daar is niemand anders saam met wie ek hierdie sou aanpak nie,” het Jo Black tydens die mediabekendstelling op die verhoog sy eer aan sy vennote betoon. “Dit het nooit gegaan oor die geld of hoeveel besigheid ons kan bring nie, maar oor watter karakter elke vennoot na die tafel toe kan bring,” het Jo verder gesê.

Smullekker happies deur sjef Linde Watson Graaff (Foto: Nadine de Waal)

Black, Morkel en vennote (Michael de Jongh, Wynand van Zyl en Bierman Smit) het op 16 Mei die sentrum vir die eerste keer aan die media en uitsoekgaste bekend gestel.

Gaste het in die restaurant met die rustieke dekortema gesmul aan ligte happies en tapasborde met ’n eg Suid-Afrikaanse aanslag wat in die tapaskroegarea bedien is.

Die kombuis was beman deur die bekende kykNET Kokkedoor-finalis, Linde Watson Graaff, wat ook haar eie kookprogram, Spyskaart, op SABC2 het.

Mense het hulle ook gemaklik gemaak met ’n Backsberg-wyntjie op die gemaklike rusbanke op die tweede verdieping terwyl Jo Black die verhoog geopen het vir die res van die aand se vermaak wat Werner Bekker, Janie Bay en Free Beer Cover Band ingesluit het.

Wen

Een gelukkige wenner kan ’n dubbelkaartjie wen na die Ultimate Aim Sports Pavilion se openingsgeleentheid op 31 Mei. Die dubbelkaartjie sluit ’n ete en Jo Black-vertoning in. Die kompetisie sluit Donderdag 30 Mei om 12:00 die middag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Calamarie ·

Plaas hulle saam staam en hulle stemme dik maak vir al die moord in die land.

Thea ·

Hoop net Joe is vriendeliker as die aand in Krugersdorp, toe hy nie een person gegroet het nie en net in die bus van 94.2 gesit en toe weer gery het, dit was n straat braai
nie met een person gepraat nie. ek was daar die aand mense was baie teleurgesteld in sy op trede. nou wil hy mense melk vir nog geld
jou ondersteuners moet jy goed behandel Mnr Joe, hy is nooit groter as die bederf nie. wonder of jy Steve gaan nooi??? want jy het lekker gekuier by die Ghoemas

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.