Wen: Juanita, Rudi, Jo en Nádine saam in ‘luukse konsert’ te sien

Die bekroonde Afrikaanse sterre Juanita du Plessis, Rudi Claase, Nádine en Jo Black span eersdaags saam op een verhoog om hul eie treffers, asook ʼn paar nuwe verwerkings saam met ʼn volledige orkes uit te voer.

Die Fluweel-konsert sal slegs vir een aand by die Theatre of Marcellus by Emperor’s Palace in Kempton Park op die planke wees.

“Die kunstenaars behou hul individualiteit terwyl hulle aangevul word deur opwindende ensemble-ontginning,” sê Claase, wat ook die regie van die produksie behartig.

“Popmusiek word met ʼn klassieke aanslag gepoets en verhef die bekende tot ʼn verrassende, vleiende ándersheid.”

Al vier kunstenaars sal ook op een slag op die verhoog te sien wees, met musiek wat die hartsnare gaan streel, maar nie noodwendig net in Afrikaans of Engels sal wees nie. Die sangers sal deur ʼn volledige orkes begelei word.

Daar is ook verskeie duette beplan vir die vertoning, waarvan sommige vir die eerste keer ooit regstreeks op ʼn verhoog gesien sal word.

“Hoewel al die kunstenaars hulle grootste treffers gaan sing, kan konsertgangers ook verwag dat daar in elke segment van elke kunstenaar ʼn verrassende oomblik sal wees – ʼn uitvoering van iets deur die kunstenaar soos dit nog nooit voorheen gehoor is nie,” voeg Claase by.

Die musikant benadruk dat dit vir elke gehoorlid ʼn intieme en unieke musiekbelewenis gaan wees, al is daar sitplek in die teater vir 1 000 gehoorlede.

“Dit gaan ʼn luukse belewenis wees, net soos wat die woord ‘fluweel’ beskryf,” sê Claase.

Die orkes wat saam met die kunstenaars sorg vir hierdie reuse-uitvoering bestaan uit die beste musikante in die bedryf soos Denny Lalouette op baskitaar, Raymond Greene op kitare, Vinnie Henrico op tromme, Evert van Niekerk en geselskap op strykers (viole) en Roland Dyers op klawers.

Daar is ook dele van die produksie wat uitgevoer word deur die Johannesburgse Balletakademie. Die Fluweel-konsert word aangebied deur Numinous 102.

Kaartjies vir die Fluweel-konsert kos tussen R200 en R360 per persoon en is hier beskikbaar.

Wen: Twee gelukkige lesers kan elkeen ʼn dubbelkaartjie na die Fluweel-konsert op 29 Oktober om 20:00 by die Theatre of Marcellus by Emperor’s Palace wen. Die kompetisie sluit Woensdag 26 Oktober. Wenners sal per e-pos in kennis gestel word.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die geleentheid vind Saterdag 29 Oktober om 20:00 plaas.
  • Die wenners sal lukraak gekies word.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind waarna Maroela Media per e-pos en/of telefonies met die wenner in verbinding sal tree.
  • Die wenner sal ook op Maroela Media bekend gemaak word.
  • Die prys(e) kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Die wenner is self vir reis- en verblyfreëlings verantwoordelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.