WEN: Koolstoof – die hart van die huis

Koolstoof

Sedert die vroegste tye kom mense bymekaar rondom vure vir hitte, kos, lig en ʼn gevoel van veiligheid en gemeensaamheid. Aanvanklik was die oop houtvure buite, maar later ook binnenshuis, hoewel rook en roet ʼn probleem was.

Kosmaak op ʼn oop vuurherd binnenshuis het egter ʼn beter opsie geword toe die uitvloei van die warm lug deur ʼn opening in die dak en later ʼn skoorsteen, bewerkstellig is. So ʼn vuurherd was oorspronklik in die middel van ʼn vertrek, sodat die mense daar rondom kon sit en eet en drink, en dan sommer slaap ook.

Die woord stoof kom van ʼn ou Engelse woord ‘stofa’ wat beteken “any individual and enclosed space such as a small room [kamertjie]”. Die eerste ‘stofa’ op rekord is in 1490 in Alsace, Frankryk, van stene en teëls gebou. In hierdie gebied se hoofstad, Strasbourg, is die eerste houtbrandstoof in 1557 gepatenteer. ʼn “Kamertjie” is in die groter vertrek gebou om die vuur in te maak en dit is aan ʼn skoorsteen verbind om lugvloei te verbeter waar vars lug deur die brandende hout trek. Só styg die temperatuur en vind beter verbranding plaas.

Vir bykans die volgende twee eeue sou die stoof ʼn konstruksie van messelwerk en teëls wees.

In 1707 het Abraham Derby van Shropshire in Engeland yster gesmelt met kooks, en volgens sommige het dit die eerste nywerheidsrewolusie ingelui. Yster het toe ook met die bou van stowe in die prentjie gekom en sedert 1728 is sogenaamde vyfplaatstowe of Jamb-stowe kommersieel van yster vervaardig volgens ʼn Duitse ontwerp. ʼn Fransman, Francois Cuvilliés, het in 1735 ʼn stoof ontwerp wat aan drie kante toegebou was, maar met ʼn ysterplaat met gate bo-op vir potte, bekend as die bredie (stew)- of kastrolstoof.

In Amerika het Benjamin Franklin in 1742, weens ʼn houttekort, ook ʼn stoof van metaal ontwerp, maar dit was vir huisverwarming en nie vir kosmaak nie. Dit was net aan drie kante toe en het glo ʼn kwart van die hout gebruik van ʼn gewone kaggel. In hierdie stadium is daar ook begin om ysterstowe op pote en stowe met ses plate te vervaardig. In die tweede helfte van die 18de eeu het Benjamin Thompson, Graaf Rumford, die plat kookoppervlakte gekombineer met ʼn oond.

Die Eerste Nywerheidsrewolusie van omtrent 1760-1840 het gelei tot meer ystersmelterye en die beskikbaarheid van tegnologie en masjiengereedskap. Stowe is toe meer dekoratief en ligter gemaak met allerhande patrone op die yster. Die tipiese Shaker-stowe, wat op eenvoud gekonsentreer het, was ʼn uitsondering.

Hout was in daardie stadium nog die algemene brandstof, maar steenkool het al hoe goedkoper geword. Steenkool brand warmer as hout en so ʼn stoof moes baie hoër temperature kon hanteer. Die eerste praktiese koolstoof is in 1833 deur Jordan Mott ontwerp. Sedertdien was steenkool ʼn belangrike komponent vir verhitting vir die volgende 150 jaar.

Antrasiet brand teen nóg hoër temperature as steenkool en in 1929 is begin met die produksie van die bekende AGA-antrasietstowe. Hierdie groot gietysterstowe het ʼn kenmerkende ontwerp gehad met twee massiewe plate en twee oonde. Dit het ʼn bekende in menige Suid-Afrikaanse kombuis geword.

ʼn Ander bekende is die Welcome Dover-stoof wat sedert 1923 in Suid-Afrika in Durban en later Newcastle, in samewerking met die Falkirk-maatskappy van Skotland, vervaardig is. Hierdie gewilde stofies word vandag nog deur ander vervaardigers gemaak, maar steeds volgens dieselfde ontwerp. Oorspronklik ingevoerde name wat veral nostalgie sal wek, is Jewel, Union, Ellis Delux, Ruby en die dekoratiewe Queen Anne-stofie. Party net van gietyster, ander deftig verchroom en met groen en roomkleurige of wit emalje versier – staatmakers in ons ouers en grootouers se kombuise met die hout- of stronkekas langsaan. Dit was geassosieer met gesellige saamsit saans voor die stoof met koffie of sop wat prut en kole wat gloei deur die oop klappie voor.

As gevolg van die toenemende gewildheid van gas- en elektriese stowe het die laaste geslag of twee nie soveel blootstelling aan die sogenaamde koolstoof gehad nie. Terloops, koolstoof is die naam in die volksmond, en koolstowe vandag kán met steenkool brand, maar dit verkort blykbaar die lewe van die stoof. Hout bly steeds die aangewese brandstof. Hout verwarm drie maal, sê hulle: wanneer jy dit kap, wanneer jy dit opstapel en wanneer dit brand! Dit lyk egter of daar ʼn hernude belangstelling in koolstowe is, moontlik as gevolg van die uitdagings wat ons ter plaatse ervaar op die gebied van kragvoorsiening. Veral nou in die winter is dit darem lekker om, soos ons voorsate van toentertyd, gesellig saam om hierdie snoesige hittebron te verkeer.

WEN

Maroela Media en KragDag, in samewerking met Ndebele-stowe, gee nou vir jou die geleentheid om ʼn Dover-koolstoof te wen! Klik hier om in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

aj ·

Die naweek ‘n Ellis Delux koolstoof ingesit.

Wonderlike alternatiewe hittebron …. prakties en bekostigbare energie!

Lank lewe koolstowe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.