Wen: ʼn Dramaskoolkursus saam met Brümilda

Brümilda van Rensburg. (Foto: Facebook)

Met 40 jaar in Afrikaanse teater, televisie-en rolprentbedryf het Brümilda van Rensburg al vele toekennings ontvang– en nou wil sy twee gelukkige opkomende akteurs die kans gee om in haar diep voetspore te stap.

Van Rensburg het onder sepieliefhebbers bekend geraak as Louwna Edwards in die MNet-sepie Egoli en later as Jana Koster in die gewilde kykNET-sepie Binnelanders. Van vanaand af is sy weer op die kassie te sien in die nuwe kykNET-komediereeks, Lui maar op, Belinda.

Ondanks haar besige skedule het dié veteraanaktrise egter nog altyd ʼn passie gehad om die volgende generasie kunstenaars op te lei en haar kosbare ervaring te deel. Vir die afgelope 20 jaar bied Van Rensburg deur die Brümilda se Drama-akademie en Agentskap opleiding aan opkomende akteurs wat graag op die grootskerm én op die kassie in televisiereekse, advertensies en sepies naam wil maak.

Van Rensburg vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dit is haar passie om haar kennis te deel.

Die bekroonde aktrise, wat vroeg in haar loopbaan reeds die gesogte Fleur du Cap-toekenning vir haar vertolking van Cassandra in die Griekse tragedie Die Oresteia-trilogie en ʼn ATKV-Mediaveertjie vir beste aktrise vir haar rol in die drama Hartland ingepalm het, asook onlangs twee Tempo‑toekennings ontvang het, sê sy kan potensiaal in ʼn jong akteur of aktrise dadelik raaksien.

Brümilda is in 2015 as sepie-aktrise van die jaar tydens die Tempo-toekennings aangewys vir haar rol as Jana Koster in 'Binnelanders'. Hier is sy saam met Ruan Wepener. (Foto: Maroela Media/Adéle Changuion)

Brümilda is in 2015 as sepie-aktrise van die jaar tydens die Tempo-toekennings aangewys vir haar rol as Jana Koster in ‘Binnelanders’. Hier is sy saam met Ruan Wepener. (Foto: Maroela Media/Adéle Changuion)

“Hulle noem dit die X-faktor. Jy het dit, of jy het dit nie,” sê sy. “Dit gaan oor baie faktore soos passie, emosie, ritme en tydsberekening. Natuurlik kan akteurs se talente ontwikkel word, maar daar is gewoonlik net daardie ‘iets’ wat uitstaan en ʼn mens weet dadelik hierdie persoon het wat dit vat om suksesvol te wees in die bedryf.”

Bekendes soos Leandie du Randt, Je-Ani Swiegelaar, Donnalee Roberts, Melissa Willering, Anlia van Rensburg en Willem Botha se akteurspaadjies het almal deur Van Rensburg se dramaskool geloop.

Dit is van onskatbare waarde hoe mense hulself leer ken deur so ʼn kursus, hulle hul potensiaal besef, en hulself kan herontdek en uitleef. Hoewel talent belangrik is, is opleiding van kardinale belang, sê sy. “Daar is sekere tegnieke waarsonder jy nie ʼn kans gaan staan om rolle voor die kamera los te slaan nie.”

Voornemende akteurs wat daarin belang stel om die vermaakbedryf op die kassie of grootskerm te betree, kan die dramaskool se webwerf hier besoek en registreer onder “kursusse”.

Komedie in Lui maar op, Belinda

Van Rensburg vertel dit was ʼn heerlike ervaring om deel te wees van die rolverdeling vir Lui maar op, Belinda, die splinternuwe kykNET-komediereeks wat vanaand op die kassie begin draai. Hierin is sy te sien teenoor medeveteraanakteurs soos Annelisa Weiland, Eric Nobbs en Duncan Johnson.

In dié reeks, wat afspeel in George in die Wes-Kaap, vertolk sy die rol van Belinda Swanepoel, ʼn eertydse Afrikaanse aktrise, wat meer tyd voor die spieël deurbring as voor haar kasregister in die klein hoekwinkeltjie waar sy werksaam is.

Die rolverdeling van ‘Lui maar op, Belinda’. Agter van links na regs is Wian Taljaard, Carmen Maarman en Eric Nobbs. Voor van links na regs is Annelisa Weiland, Duncan Johnson en Brümilda van Rensburg.

Die rolverdeling van ‘Lui maar op, Belinda’. Agter van links na regs is Wian Taljaard, Carmen Maarman en Eric Nobbs. Voor van links na regs is Annelisa Weiland, Duncan Johnson en Brümilda van Rensburg.

Die hoofskrywer van die reeks is Chris Vorster en skrywer Marcel Spaumer het met die storie-idee vorendag gekom. Die aktrise Desiré Gardner, van Binnelanders en Suidooster-faam, en Wesssel Pretorius is medeskrywers van dié nuwe reeks.

Die regisseur is Corné van Rooyen, wat die regie vir flieks en reekse soos Hollywood in my huis, Vaselinetjie, Liewe Kersfeesvader en die nuwe kykNET-reeks Alles Malan behartig het.

“Ek het so lekker gewerk aan Lui maar op, Belinda. Dit was iets heeltemal anders as waaraan ek voorheen gewerk het. Die reeks is vir mense met ʼn sin vir humor, wat net wil ontspan en dit geniet. Dit is ʼn drama met ligte oomblikke. Die storie en teks het my aangegryp en dit was heerlik om saam met Corné te werk. Ná al die glansryke rolle was dit lekker om net vir ʼn slag my bolla los te maak,” lag sy.

Lui maar op, Belinda begin op Maandag 8 Julie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

Wen

Twee gelukkige lesers kan elkeen die geleentheid kry om opleiding by Brümilda se akademie te ontvang.

Wenner 1 – gr. 1 tot gr. 11

Op Saterdag 27 Julie bied sy ʼn werkswinkel vir skoliere van gr. 1 tot gr. 11 aan. Die wenner word na afloop van die kursus deur die agentskap na oudisies gestuur. Die werkswinkel bied praktiese kennis en vaardighede en die volgende aspekte sal aandag geniet: Hoe om advertensies en oudisies te hanteer, selfvertroue te bou, jou verbeelding kreatief te gebruik en op jou voete te dink met improvisasie, stem gebruik asook beweging en musiek. Dié werkswinkel, ter waarde van R1 400, vind in Johannesburg plaas van 10:00 tot 15:30. Hare en grimering asook ʼn fotosessie word gedoen en ʼn sertifikaat word na afloop van die werkswinkel uitgereik.

Wenner 2 – gr. 12-leerder

Vanaf Saterdag 10 Augustus tot Saterdag 12 Oktober bied sy elke Saterdag ʼn volledige kursus vir gr. 12‑leerders en ouer persone aan. Die kursus bewerkstellig ʼn egolose selfversekerdheid voor die kamera, leer die truuks van die bedryf, kamerategnieke en oudisievaardighede, asook om die bedryf te verstaan as ʼn besigheid. Dié kursus, ter waarde van R6 750, vind in Johannesburg plaas van 10:00 – 17:00. Hare en grimering asook ʼn fotosessie word gedoen en ʼn sertifikaat en show reel word na afloop van die werkswinkel uitgereik.

Deelnemers sal self verantwoordelik wees vir verblyf en vervoer.

Skryf ʼn kort motivering oor hoekom jy of jou kind graag ʼn werkswinkel of kursus by Brümilda van Rensburg se akademie wil wen. Wenners sal telefonies in kennis gestel word. Alle verdere kursusinligting sal deur die akademie aan die wenners verskaf word.

Die kompetisie sluit Woensdag 17 Julie voor middernag en die wenner word Donderdag 18 Julie telefonies in kennis gestel.


  • Ouer of voog se inligting

  • Deelnemer se inligting

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae