Wen: Queen-treffers herleef in balletuitvoering

(Foto: Verskaf)

Queen inspireer musiekgeesdriftiges wêreldwyd al langer as vyf dekades. Plaaslike gehore kan ook binnekort naderstaan vir klassieke musiek- en balletverwerkings van dié groep se grootste treffers.

Van 8 tot 19 Januarie bied die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie (Saibc) in samewerking met Mzansi Ballet The Queen Show by Montecasino se Pieter Toerien-teater aan. Vyf lesers het boonop die kans om kaartjies te wen na die vertoning op 16 Januarie.

Saibc is oorspronklik op die been gebring met die doel om internasionale blootstelling vir plaaslike en buitelandse dansers te bewerkstellig en ook om regisseurs van plaaslike en buitelandse geselskappe aan nuwe talent bloot te stel.

“Die produksie is ʼn viering van dans en ballet op die maat van Queen se tydlose treffers,” het Dirk Badenhorst, hoof- uitvoerende beampte van Saibc, gesê. “Dit is die perfekte gesinsvermaak om die nuwe jaar mee te begin.”

Choreografie vir die produksie word deur Angela Revie en haar man, Michael, behartig. Dié egpaar is bekend in plaaslike én internasionale balletkringe. Angela is ʼn internasionaal bekroonde choreograaf, terwyl Michael al vir groot balletgeselskappe in Zürich en die Verenigde Koninkryk gedans het. Hy tree ook as danser in dié produksie op.

Linde Wessels, een van Suid-Afrika se voorste prima donnas, is pas terug ná ʼn paar internasionale uitvoerings. Sy word in The Queen Show vergesel deur Alison Sischy Smith, Tsebang Sipambo, Aviwe November en Sikhumbuzo Hlahleni.

Monier Jouve, die Kubaans gebore Spaanse danser, is ook genooi om deel van die produksie te wees.

“Die wêreldbekende mode-ontwerper en stilis, David Hutt, is die amptelike kostuumontwerper vir The Queen Show,” vertel Badenhorst. “Hy het meer as 20 jaar ervaring in reklame, asook film- en televisiewerk. Hy het vantevore al saam met ‘n verskeidenheid ikoniese handelsmerke soos French Vogue en Lachapelle gewerk.”

Badenhorst voeg by dat Hutt se handelsmerk nog altyd gelykstaande aan goeie styl was. “Ons sien uit daarna om gehore te ontvang en te vermaak met The Queen Show.”

(Foto: Verskaf)

Kaartjies is by Computicket beskikbaar en wissel tussen R150 en R250.

Wen

Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom vir ʼn gelukstrekking is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul en die eenvoudige vraag te beantwoord.

Die kompetisie het gesluit.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 9 Januarie 2020 om 23:45.

  • Baie geluk aan Adele Van Wyk, Celna Slater, Ilse Harmse, Marelie Roodt en Petru Pietersen wat die wenners van hierdie kompetisie is. 

Bepalings en voorwaardes

  • Die wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Wenners is self verantwoordelik vir reis- en verblyfkoste van en na die vertoning.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal op 9 Januarie plaasvind waarna die wenners per e-pos ingelig sal word.
  • Indien enige van die betrokke persone nie binne 48 uur reageer nie, sal ʼn volgende wenner aangewys word en die oorspronklike wenner die prys verbeur.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op sosiale media en op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Elke deelnemer kan slegs één stel kaartjies wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.