Wen: Taalmonument herdenk 45 jaar met feesnaweek

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) vier vanjaar sy 45ste bestaansjaar. Dié viering skop op 28 en 29 Februarie af met ʼn feesnaweek van musiek, stories, kindervermaak en ʼn kos- en kunsvlytmark op die wonderskone Paarlberg.

“Die veeltalige en multikulturele program sal Afrikaans in al haar pragtige gedaantes laat pronk,” sê Riana Dempers, een van die ATM se geleentheidskoördineerders. “Dis om te verseker dat alle taalliefhebbers dié geleentheid op prettige wyse vier.”

Akkedis Band en Die Heuwels Fantasties, albei Afrikaanse rockgroepe, open Vrydagaand se program op ʼn energieke noot.

Saterdag, ook Skrikkeldag, se program bestaan uit ʼn wye verskeidenheid aktiwiteite en vermaak.

Dit sluit in ʼn “45 minute vir Afrikaans”-pretloop deur die pragtige fynbosbedekte berghange, ʼn jogasessie, jazzkonsert in die Tuinteater, digkunsklas aangebied deur Diana Ferrus, en ʼn uitstalling van opkomende Afrikaanse skrywers se werk in die buiteluggalery.

Terwyl ouers asemskep, word die jongspan deur kinderoppassers vermaak met ʼn poppekasvertoning, gesigverf en buitelugspeletjies.

Vermaak op die dag word deur die Jaloersbokkies, V.I.T.O, ʼn Nam-Afrikaanse kletsrymer, bobaasstorieverteller Elias P Nel, dansoptredes deur The Unknown Dance Crew, Lungi, Ramon Alexander en Jak de Priester verskaf.

“Ons nooi almal uit om dié gesellige feesnaweek saam met die Taalmonument te vier,” het Brown gesê. “Daar sal drank- en kosstalletjies beskikbaar wees en besoekers moet onthou om warm klere en komberse vir die aandvertonings saam te bring.”

Kaartjies is by die Taalmonument of Computicket beskikbaar. Vrydag se kaartjies kos R70 per kind onder die ouderdom van 13 en R150 vir volwassenes. Saterdag se kaartjies beloop R40 vir kinders en R80 vir volwassenes. Vir meer inligting bel die Taalmuseum by 021 872 3441 of 012 863 0543.

Wen

Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom vir ʼn gelukstrekking is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 17 Februarie 2020 om 23:45.

Bepalings en voorwaardes

  • Die wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Wenners is self vir reis- en verblyfreëlings verantwoordelik.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal op 18 Februarie plaasvind waarna die wenners telefonies ingelig sal word.
  • Indien enige van die betrokke persone nie binne 48 uur reageer nie, sal ʼn volgende wenner aangewys word en die oorspronklike wenner die prys verbeur.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op sosiale media en op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.