Wenner van die koolstoof-kompetisie aangekondig

Desert Fire-koolstoof (Foto: Ndebele Stoves)

Baie van ons onthou die gemeensaamheid van ʼn koolstoof op die plaas of iewers op die platteland: Die gerommel van antrasiet vroeg soggens as die stoof gestook word, en die milde hitte wat kort daarna van die kombuis na die res van die huis versprei. Of die geur van ʼn kraakvars wildspastei soos nét ʼn koolstoof ʼn wildspastei kan bak.

Met beurtkrag is ʼn warmkombers en ʼn elektriese verwarmer in die winter lank nie meer ʼn gegewe nie, en as jy nie gelukkig genoeg is om ʼn kaggel in jou huis te hê nie, is ʼn gasverwarmer dalk al waarop jy kan staatmaak om die winterkoue te verdryf. Vir die meeste van ons is ʼn koolstoof niks meer nie as ʼn nostalgiese herinnering.

Om Maroela Media se negende verjaardag te vier, wou ons die nostalgie tot binne-in jou huis bring en ons het aan een gelukkige Maroela-leser ʼn koolstoof weggegee!

Ons wou by lesers hoor hoe Maroela jou hart warm gemaak het die afgelope nege jaar, of hoe Afrikaans jou hart laat warm klop.

Charmain Uys van Pretoria Tuine is as die wenner aangewys. Charmain was baie bly en opgewonde en kan nie wag om dié stofie in haar huis aan te steek nie.

Charmain skryf: “Maroela Media laat my altyd dink aan ʼn Afrikaanse ma. Sy ondersteun, moedig aan, gee hoop, maak die seer van die lewe draagliker met stories van oorwinning, sukses en humor. Jy kan altyd op haar reken om die waarheid te praat selfs al is dit nie wat jy wil hoor nie. Sy het nie ʼn witbroodjie nie en as jy droogmaak gaan jy verantwoording doen, maak nie saak wie jy is nie. Maar meer as als is sy regverdig en Godsvresend. Maroela Media is ons Afrikaanse ma. Die ruggraat van ons gemeenskap.”

Met haar inskrywing wen sy ‘n  koolstoof ter waarde van R4 900. Baie geluk, Charmain!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae