Soorte resepte:

10 wenke vir as jy brood wil bak

Volgens Babette is brood die lekkerste as dit van natuurlik bestanddele gemaak is (Foto: Janie Monsieur/Maorela Meida)

Om brood te bak is iets wat al van die Bybel se tyd saam met ons is, en dié kuns word steeds daagliks beoefen. Dit word beskryf as iets wat jou nader bring aan die aarde, die bron van voedsel, en iets wat amper soos meditasie is wanneer jy ʼn lang week agter die rug het.

Babette Kourelos, eienaar van Babette’s Bread in Johannesburg, bak daagliks tussen 25 en 120 brode. Sy sê om brood te bak is nie elke dag dieselfde nie en dat dit haar op haar tone hou.

“Die deeg is elke dag anders, want die weer is elke dag anders. En jy moet daarby aanpas,” sê sy.

Sy het ook haar eie suurdeeg, wat sy Maggie gedoop het, wat elke dag op ʼn sekere manier aangepas en versorg moet word afhangend van die weer. Lees hier hoe om jou eie suurdeeg te maak.

Kourelos gee haar tien top-wenke vir brood bak:

  1. Kies die beste bestanddele wat jy in die hande kan kry of kan bekostig. Jou brood sal heerlik proe en só sal jy ook weet presies wat in die brood is wat jy en jou familie eet.
  2. As jy ’n beginner is, is dit ’n goeie idee om die water bietjie-bietjie by te gooi en nie alles op een slag nie. Só sal jy gemaklik met die deeg kan werk (sonder om te sukkel met ’n nat en klewerige deeg).
  3. Dink aan die weer. As dit koud is, is dit dalk ’n goeie idee om die deeg iewers snoesig en warm te hou (maar ook nie te warm nie).
  4. As dit vreeslik warm is, wil jy die deeg liewers iewers koel hou en miskien selfs in die yskas sit.
  5. As dit reënerig en nat is, is dit beter om bietjie minder water/vloeistof in jou resep te gebruik (anders mag die deeg te nat en klewerig word en sal dit moeilik wees om te vorm).
  6. In die middel van die winter, wanneer dit vreeslik droog is (in Gauteng), sal jy gou agter kom dat jy bietjie meer water/vloeistof in die deeg moet gebruik.
  7. Gee die deeg genoeg tyd. ’n Deeg wat genoeg tyd gehad het om te rys en te fermenteer sal ’n baie lekkerder broodjie maak as ’n deeg wat net vinnig en ʼn kort tydjie gerys het.
  8. Maak dieselfde resep ’n paar keer. Só sal jy ʼn “gevoel” kry vir die deeg, en vir wat werk en wat liewers vermy moet word.
  9. Begin met ’n maklike resep. Moenie te veel verander of aanpassings daaraan maak voor jy regtig weet wat jy doen nie.
  10. Geniet die proses en leer so veel as wat jy kan!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Frans

Brood bak is lekker.Dit help om ‘n bietjie meel op die bodem te strooi nadat die bakpanne versorg is.Dit sal keer dat jou brood aan die bodem vas sit.