Soorte resepte:

10 wenke vir jou eie suurdeegplantjie

‘n Suurdeegplantjie (Foto: Verskaf)

Om jou eie suurdeeg te maak is ʼn baie spesiale proses, veral omdat jy dit jare lank kan gebruik en ook dan jou suurdeeg met mense naby aan jou kan deel.

Babette Kourelos, ’n broodbakker van Babette’s Bread in Johannesburg, het ʼn suurdeegplantjie by haar leermeester in Vermont in die VSA gekry. Dié plantjie wat nou al bykans sewe jaar oud is, noem sy Maggie.

Kliek hier om stap vir stap te sien hoe jy jou eie suurdeeg kan maak.

Kourelos gee haar tien beste wenke vir as jy jou eie suurdeegplantjie maak.

  1. Leer jou suurdeegplantjie ken. Jy moet verstaan en weet hoe vinnig die plantjie groei en rys nadat jy dit gevoer het.
  2. Weet hoe vinnig jou plantjie honger raak en begin invou.
  3. Die plantjie moet gesond en gelukkig wees om ’n goeie brood te kan bak.
  4. ’n Brood wat met ’n jonger/varser plantjie (wat 4 tot 6 uur nadat jy dit gevoer het gemaak is), sal nie só suur wees as ’n brood wat met ’n plantjie gemaak is wat 6 tot 8 uur (of selfs langer) nadat dat jy dit gevoer het gebruik word nie.
  5. Dit is belangrik om seker te maak die deeg en die plantjie is gelukkig en nie te koud nie. Hoe lyk die weer? Is dit warm, koud of reënerig? Wat kan jy doen om seker te maak die deeg is gelukkig?
  6. Om met suurdeeg te bak vat baie langer as gewone gis. Die plantjie het meer tyd nodig en die proses kan enige iets tussen 7 en 24 uur neem (soms selfs baie langer as die deeg in die yskas rys).
  7. Maak seker jy hou altyd bietjie ekstra suurdeeg terug. Jy wil nie alles in een brood gebruik nie. Anders moet jy weer van voor af begin en weer ’n nuwe suurdeegplantjie maak.
  8. Bakkers gee gewoonlik vir die suurdeegplantjie ’n naam omdat die plantjie vinnig deel word van die familie. Die plantjie het kos, aandag en liefde nodig nes ’n troeteldier.
  9. Die suurdeegplantjie kan in die yskas gehou word maar moet een keer ’n week gevoer word.
  10. Die plantjie kan ook gevries word of uitgedroog word om later/eendag weer in die toekoms gebruik te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.