Soorte resepte:

Afrikaanse sangeres gekroon as melktertkoningin

Die “Kos vir my siel”-sangeres, Elmé Churr, is Donderdagmiddag as die Centurion Hospice se melktertkoningin gekroon.

Die Centurion Hospice in die suide van die Jakarandastad het vir die tweede opeenvolgende jaar ’n melktertkompetisie aangebied om Nasionale Melktertdag te vier. Die sanger en resepteboekskrywer Willie Strauss was een van die beoordelaars by dié geleentheid.

“Ek dink die standaarde was baie hoog,” het Sunette Visser, nog ʼn beoordelaar, gesê.

Volgens Churr het sy nog nooit in haar lewe melktert gebak nie en het sy eers Woensdagmiddag besluit om haar melktert vir dié kompetisie in te skryf.

“Ek moes een van my vriende bel wat my toe verduidelik het hoe om die stoof aan te skakel. Een van my ander vriende, ’n bekende sjef, het ’n resep aangestuur en ek het toe begin bak. Ek het ook foto’s geneem van die hele bakproses. Niemand het geglo dat ek melkterte kan bak nie,” vertel sy.

Elmé Churr saam met Riaan Grobler, Willie Strauss en Sunette Visser (Foto: Verskaf)

Churr, wat onlangs aangekondig het dat sy swanger is met haar eerste baba, het haar oorwinning toegeskryf aan haar kors wat perfek uitgekom het en die mengsel wat nie te pap was nie.

“Dit smaak so tradisioneel soos ouma se beste melktert,” het Riaan Grobler, nog een van die beoordelaars en ook ’n melktert-kenner, oor dié tert gesê.

Lissie Bissie, verlede jaar se melktertkoningin, se tert het tot algemene verbasing nie vanjaar se topdrie behaal nie. Sy het juis voor die melktertkompetisie gesê dat dit ’n ernstige affêre is en dat sy nie sommer haar titel gaan afstaan nie.

“Die jaar was groter en beter as die vorige jaar,” het Annette Reed, die algemene bestuurder van die Centurion Hospice, gesê. “Daar was veertien deelnemers en die een tert was beter as die ander. Ek het nog nooit in my lewe so baie melktert geëet nie.”

Die Centurion Hospice het dié kompetisie aangebied om die mense in die Pretoria-omgewing bewus te maak van en in te lig oor die werksaamhede van die hospice.

“Daar is baie vooropgestelde idees oor ’n hospice. Ons glo in hoop, waardigheid en ʼn lewe tot die dood,” het Marius Bester, operasionele bestuurder, gesê.

Ander bekendes wat die dag bygewoon het, was onder andere die Grafsteensangers, die musiekpromotor Lydia Winchester, en die radio-aanbieder Rian van Heerden.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.