Yuppiechef het al hul aanlyn kookkursusse gratis beskikbaar gestel tydens die volgende 21 dae se afsondering in Suid-Afrika.
Die kookskole word deur professionele sjefs soos Peter Goffe-Wood, Sarah Graham en Franck Dangereux met ʼn video-tutoriaal aangebied en elke kursus bied teoretiese notas, resepte en toetse om te sien wat jy geleer het.
“Dit gaan moeilik wees, maar ons soek na die silwer randjie waar ons ook al kan, en ons het dit in ons eie kombuis gevind! Ons stel ons hele aanlyn kookskool gratis vir ʼn maand beskikbaar om te help om jou te inspireer, te stimuleer en besig te hou in jou huis tydens afsondering,” het Yuppiechef laat hoor.
“In Yuppiechef se aanlyn kookskool sal jy leer hoe om bekende resepte, tegnieke en maniere van kook baas te raak in die gemak van jou eie huis,” skryf Yuppiechef op hul webtuiste.
Kursusse in onder meer vleisgeregte, klassieke Franse kos, soetighede, souse, sjokolade en ontbytgunstelinge word vir 30 dae gratis aangebied.
Vir meer inligting, besoek Yuppiechef hier.