Soorte resepte:

Al smullende ontdek ons Britse kookkuns

Ikea Wembly is die plek vir die bekende Ikea-frikadelle met sous en kapokaartappels. Ek hou nog van die kapokaartappels, maar my geliefde sê dis beter met lekker dik skyfies. (Foto: Clifford Roberts)

Martha Harrison het glo gesê sy glo wat die Britte gemotiveer het om die hele wêreld te kolonialiseer, was omdat hulle bloot op soek was na ʼn behoorlike maaltyd. Natuurlik is dit melerige ertjies, vaal vis en kapokaartappels wat ʼn mens eerste in jou geestesoog sien as jy aan Britse kookkuns dink, maar Maryke Roberts het ʼn heeltemal ander ervaring in Engeland gehad.

Daar is nou 66 Michelin-ster restaurante in Londen alleen, om nie eers van die res van die land te praat nie. mensestem, nou meer as ooit tevore, met hul beursies. Slegte kos kom tweede en dis asof almal hul kookvernuf begin opknap as jy by selfs die kleinste restaurantjie instap.

Natuurlik is daar ʼn sakkie of twee biltong en droëwors en neute saam in ons tasse oor, ook ses bottels goeie rooiwyn wat ons by die lughawe gekoop het, maar dis meer vir nostalgie vir ons Suid-Afrikaanse vriende en familie by wie ons gaan kuier.

Ook in ons tasse is ʼn vrugtekoek van sjef Myhardt Joubert, wat dié dekadensies elke jaar vir Kersfees bak en fondse vir ʼn liefdadigheidsorganisasie insamel. Dis nou pure tranetrekkery as jy onder die Kersboom sit en jou familie met ʼn trotse “ta-da” met ʼn sny klam Krismiskoek uit die hartjie van die Paarl – natuurlik goed deurtrek met KWV-brandewyn – verras. Die koek weeg bykans 4 kg en is ʼn redelike gatvuller in ʼn tas, maar ek neem elke keer as ons oorsee reis een vir Kersfees saam en dis altyd ʼn wenner.

Voor ons vertrek uit die Kaap, het ons huiswerk gedoen oor die lekkerbek-plekkies waar ons wil aangaan. Natuurlik is een van die eerste stopplekke by High Timber, ʼn Suid-Afrikaanse restaurant op die Teems met die mooiste uitsigte oor die Tate Modern-kunsgalery, waar ons allerhande geskenke uit Afrika aflaai – ʼn sny van dié einste koek ook. Die restaurant bied wonderlike Suid-Afrikaanse disse met ons beste wyne en die wynrakke in die kelder is vir vele Suid-Afrikaanse wynmakers soos ʼn tweede huis. Dis in besit van Gary en Kathy Jordan van Jordan-wynlandgoed en Neleen Strauss, een van Londen se beste restaurantbestuurders.

Gaan drink ʼn sonsaksopie by die Control Room B, in die historiese Battersea Kragstasie, wat nou Londen se gewildste inkopie- en restaurantbestemming is. (Foto: Clifford Roberts)

Ons oggende begin met heerlike suurdeeg-roosterbrood met avokado en ʼn geposjeerde eier, of ʼn lekker salm- en kappertjiesaad bagel by ons hotel, Page8 op Trafalgarplein, se Page Common Coffeehouse. Ek kan my verkyk en verluister aan die barista se entoesiasme wanneer sy ons cappuccinos maak en patroontjies draai in die koppie, al singende. Deur die dag as ons in die omgewing is, loer ons graag weer by die hotel in vir iets soets en ʼn koffietjie. Die Big Bus-stop is enkele meters weg van die voordeur en só gerieflik om tussen ritte te bereik.

Maar natuurlik maak sulke duur uitstappies jou gou platsak en ons kies koers na lekker plekkies op straat. Daar is geen tekort aan klein gaatjies waaruit die heerlikste reuke van Irannese, Turkse, Griekse kos kom en waar jy sommer met ʼn bruinpapier-gedraaide kegeltjie heilsaamheid kan kry nie.

As jy soos ons aperige Suid-Afrikaners is wat die luukse winkel, Harrods, wil gaan verken uit blote nuuskierigheid om te sien hoe ʼn R5 000-kussingsloop lyk of hoe mense aan peperduur glase Moët & Chandon Legacy Grand Vintage-sjampanje teug, om hul kredietkaarte ʼn blaaskans te gee, kan jy ʼn paar lekker ure daar verwyl. Die kelderverdieping is egter al plek waar ons kon eet en ek dink die mense agter die toonbank het gesien ons reis met rande en het kort-kort iets “te proe” aangebied. Die Harrods Cafe op die derde vloer het die lekkerste Harrods Grand Cru-warmsjokolade of Borrie-latte wat met kokosneutmelk gemaak is. Net die ding vir ʼn koue dag.

Daar is niks lekkerder as om op ʼn Saterdagoggend deur die Portobello Road-mark te stap, hier en daar iets te proe, met stalletjiehouers oor enigiets van ou langspeelplate tot gedroogte sampioene te gesels en dan die wêreld vanuit die venster by Electric Diner gade te slaan nie. Die dekor is iets uit die Art Deco-/ middel-vyftigerjare en hierdie Frans/ Amerikaanse styl diner (dis hoe die kelnerin hul styl beskryf), is dié plek vir Franse roosterbrood met suurroom en vars bessies, en ʼn sterk koffie.

Om jou voete op die hoë stoeltjie se pote te vou en te kyk hoe elke kleur, geur, grootte, vorm, lengte en breedte mens van elke uithoek van die aarde by die venster verbystap, die spyskaart bekyk en óf inkom óf aanstap, is loutere genot. Daar is haarstyle, klerestyle, paartjies en troeteldiere wat jou kop laat draai.

Gepraat van vasgevang in die vyftigs. Vir laatmiddag-drankies, is my gunsteling nie een van die (sekerlik) duisende Londense middestad-kroegies nie, maar eerder ʼn avontuur in geskiedenis, dekor en nostalgie. Gaan drink ʼn sonsaksopie by die Control Room B, in die historiese Battersea Kragstasie, wat nou Londen se gewildste inkopie- en restaurantbestemming is. Die lekkerste manier om jouself en ʼn maat te bederf, is om die 30 minute-sjampanjetoer te doen wat jou agter die glasskerms na die ou kontrolekamer neem en toelaat om aan al die ou kontroleborde te vat en te ervaar hoe dinge gewerk het – natuurlik met ʼn glas Moët & Chandon Impérial Blanc NV-sjampanje in die hand!

Geen besoek aan Londen sou volledig wees sonder ʼn namiddagtee iewers nie en as jy jou tande deur die sagte witbrood met komkommer op laat kloof, skiet jou pinkie onwillekeurig die lug in wanneer jy aan jou Earl Grey-teetjie teug.

Ons gaan kuier by die Borough-mark en staan lank in ʼn ry vir ʼn pêrelgars-risotto met reuse–eksotiese sampioene wat ʼn man in twee groot paella-panne berei. Ek het aanvanklik gedink ek gaan die seekospaella kies by ʼn stalletjie so ʼn entjie aan, maar die rye bly net te lank en my mond water te veel, toe gaan val ek maar saam met my geliefde in sy ry in. Voor ons huiswaarts keer, koop ons truffels, parmesaankaas en Saucissons (daardie ongelooflike dik Franse worsies wat soortgelyk aan salami is), vir ʼn heerlike feesmaal tuis.

Danksy die lekker bootrit wat ingesluit is by ons Big Bus London-kaartjies, kan ons nie net die stad vanaf die Teems aanskou nie, maar ook die ligkuns wat deel van die stad se jaarlikse Kersfeesliggie-fees is geniet.

Ná vele foto’s op die koue dek, klim ons naby The Shard af vir drankies. Dié indrukwekkende wolkekrabber, wat lyk asof ʼn reuse–glassplinter vanuit die ruimte in die grond geval het, het die hoogste uitkykplatform in Brittanje op 244 m hoog en jy kan daar heel bo gaan eet of drankies drink. Die gebou is 309,6 m hoog, maar die laaste paar meter is ontoeganklik vir mense.

Ons klim eers op vlak-34 af vir drankies by Sky Lounge, maar wil darem graag die stad van die 72ste vlak sien en gaan geniet die yskoue luggie en asemrowende uitsig oor die stad daar.

In ʼn Time Out-artikel oor die stad se beste goedkoop eetplekke, vang Southampton Arms in Gospel Oak my oog. Al verklaar die webwerf hulle is, sover hul kennis strek die enigste toegewyde ale-huis in London wat net bier en ciders van klein, onafhanklike brouery verkoop, kan dit jou nie voorberei op die lekkertes wat binne wag nie. Ek hoor by mense op die bus saam met ons dat dit as een van die beste kroeë in Noord-Londen beskou word.

Die kroeg voer jou terug na vergange dae en die swart klavier, waarvan die verf al plek-plek afdop van baie speel, laat voel ʼn mens sommer onmiddellik tuis. Hier is geen airs nie!

Die geroosterde varktoebroodjie is heerlik saam met ʼn yskoue bier.

Selfs ʼn kuiertjie by John Lewis of Selfridges het sy eie lekkernye wat op die dak by die eetplekkie wag. ʼn Mens raak later heel hans met teedrinkery en verbeel jou jy is Brits. (Foto: Clifford Roberts)

As my foon wys ons het nou 20 000 treë in die koue gegee en my voete beaam dit moeg en effe seer, val ons by die naaste tak van ʼn WH Smith-boekwinkel in. Hier kan jy op ʼn lekker rusbank aan koffie en iets soets knaag, terwyl jou voete se lewe terugkom en jy jou siel met die mooiste boeke en tydskrifte voed. My gunsteling een was by Trafalgar Square. Die restaurant is op die boonste vloer en jy kan lekker by die maanvormige vensters uitkyk na hoe die stad buite op die besige plein verbygaan. Daar is toue by The British Museum, ander kaartjiehouers vir die Big Bus London staan onder rooi tekens en wag vir die volgende bus en mense sit op die plein op standbeeld-voete en eet toebroodjies, drink koffie of gesels met vriende oor hul fone.

Een oggend vroeg is ons op die bus na Ikea Wembly vir die bekende Ikea-frikadelle met sous en kapokaartappels met jou oorvol trollie neffens jou tafel. Die frikadelle is eg Sweeds en op aandrang van die Ikea-stigter, Ingvar Kamprad, as deel van die Ikea-ervaring gemaak. Hy was glo bang dat inkopiegangers sal honger word as hulle sy reuse–winkels besoek en het ook salm en geroosterde beesvleis op die spyskaarte gesit. Nou is dié frikadelle amper “verpligtend” vir enige besoek aan enige van sy winkels regoor die wêreld. Ek hou nog van die kapokaartappels, maar my geliefde sê dis beter met lekker dik skyfies.

My lekkerste herinnering aan dié onlangse besoek is by The Black Lion-pub in Kilburn. Nie noodwendig omdat dit die beste kulinêre ervaring was nie, maar omdat die pub amper half voor ons “ingespring” het toe ons lywe verkluim was en die donkerte ons net te vinnig oorval het. Die vuurtjie het gesellig geknetter en by die tafel neffens ons het mense gesit en skaak speel en gelukkig dra ek ʼn pak kaarte in my handsak. ʼn Vinnige “droogword en een biertjie”, word toe heelaand se kuier met ons skoene wat droogbak in die rooi gloed van die vlammetjies en vriende wat sommer daar oor die kaartspel gemaak word.

Die klein peuselhappies is geurig en heerlik en ons smul aan Tandoori-hoendervlerkies met tuisgemaakte pynappelblatjang; Ragda-aartappelkoekies met gekerriede kekerertjies, jogurt, kruisement en tamaryn; geskroeide eiervrug met feta, gerookte amandels en granaatpitte; en die lekkerste soetpatatskyfies wat met rysmeel en brandrissie besprinkel is.

Tydens die paar uur wat ons op die lughawe moes wag om huis toe te kom, gly my oë oor die foto’s op my slimfoon van ons besoek aan Brittanje en ek moet lag toe ek sien die meeste foto’s is van kos, wyn en varsgebakte bagels, eerder as van besienswaardighede! Martha se woorde is toe nie waar nie!

Kitsfeite:

  • Die busse met verskillende roetes, wat oor een, twee of drie dae strek, is die beste manier om die stad te leer ken. Jy klim op en af soveel maal as wat jy wil en maak notas oor die plekke waarna jy wil teruggaan. Bespreek jou kaartjie aan boord Big Bus Tours London by www.bigbustours.com
  • Ons het heerlik by Page8 op Trafalgarplein gebly. Dis nie net lekker sentraal nie, die ontbyte is heerlik, baie vullend en laat jou maag vir ʼn hele paar uur stilbly. Bespreek by [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.