Hoekom is hout die eerste keuse vir snyplanke? Hoekom nie glas of plastiek nie? Watter soort hout is geskik vir my kombuis en ook veilig?
Annelien Pienaar, voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist, beantwoord al hierdie vrae en gee ook wenke oor hoe om jou snyplank te versorg.
“Goedkoop is duur koop” is my siening as sjef en voedselkonsultant. In die voedselbedryf werk ons met kleurgekodeerde snyplanke. Die kleure is om te help onderskei tussen watter mag net vir groente, vis, hoender, rooivleis, suiwel, brood ensovoorts gebruik word.
Ongelukkig is dié snyborde van plastiek gemaak, maar dit is nodig om onderskeid te tref. Hoe sou mense in ʼn kombuis kon onderskei tussen houtborde?
Plastiek
Al word BPA-vrye materiaal gebruik, bly plastiek steeds poreus en kan dit mettertyd teelaarde word vir mikrobiese groei. Dit beteken om net met seep en water te skrop gaan nie patogene mikrobes (skadelike kieme) vernietig nie. Jy sal iets soos ʼn ontsmettingsmiddel met ʼn jodium basis moet gebruik om mikrobes dood te maak of selfs ʼn sterk chloor basis. Vir my en my gesin is plastiek-snyplanke nie ʼn opsie as dit by gesondheid kom nie.
Glas
Glas is hard en maak jou messe stomp. Dit is uiters belangrik om jou messe die beste behandeling moontlik te gee deur dit die beste oppervlakte te gee om op te sny. Glas is nie geskik as ʼn snyplank nie.
Hout
Borde gemaak van kiaat (teak) het meeste van die eienskappe van ’n goeie snyplank wat maklik is om te onderhou. Jou messe se lemme sal langer skerp bly en die hout seël weer self.
Ek het op my reise deur die wêreld oral kiaat-snyborde teëgekom en moet bieg, die Suid-Afrikaanse en Rhodesiese kiaat is maar net die beste.
Bamboes-snyplanke is effens dunner maar hou ook die pas vol sonder om kieme te huisves of jou lemme stomp te maak.
Deur die behandeling van die hout met olie verseker dit dat die hout geen ongewenste elemente in die bord absorbeer nie. Daarom is ’n goeie versorgingsroetine vir jou snyplank die beste belegging.
Versorging van jou houtsnyplanke
- Indien jy ʼn nuwe snyplank het, is dit baie belangrik om dit goed te olie, maar wees versigtig dat jy nie te veel olie gee nie, die hout moet die olie absorbeer en alle oortollige olie moet die volgende dag afgevee word.
- Droog die plank goed af ná elke was en laat dit dan regop staan om droog te word. Maak seker die kant wat rustend is staan nie in ʼn poel water nie. Dié kant van die plank kan muf en dit is nie gewens nie. Sodra die plank droog is, kan dit met ʼn olie behandel word.
- Olyfolie is een van die oliesoorte wat ek gebruik as ek nie meer “vloeibare paraffien” oor het nie. Vloeibare paraffien kan by enige apteek aangekoop word en is ook medisinaal van aard, dus glad nie giftig nie. Jy kan selfs al jou houtlepels en bakke in die kombuis daarmee smeer. Smeer die bord en werk die olie goed in. Laat die bord weer oornag staan en vee die ekstra vloeistof die volgende dag af.
- Wanneer die bord vir enige vorm van proteïen en suiwel gebruik word, spoel dit deeglik af, sprinkel met medium growwe gejodeerde sout en koeksoda, neem ʼn suurlemoen en sny in die helfte. Verhit die suurlemoen in die mikrogolf vir 1 minuut (op dié manier kry jy meer sap uit die suurlemoen). Druk dan die een helfte van die suurlemoen se sap uit oor die bord en gebruik die ander helfte soos ’n sponsie met die gesnyde kant na onder. Skrop dan so die bord aan albei kante. Spoel die bord goed af, droog af, staan regop, laat droog, olie die volgende dag, laat staan regop oornag, vee ekstra olie af en bêre.
Onthou wanneer jy ’n snyplank aankoop om een te koop wat ten minste 3 tot 5 cm dik is. Hoe dikker die plank hoe skraler die kans vir skeeftrek. Maak seker die plank staan stewig as jy werk deur ʼn vadoek onder die bord te sit sodat jy meer beheer het oor jou snywerk. Daar is niks so steurend soos ʼn bord wat gly as jy ʼn aartappel sny nie.
Snyplanke waarmee ek al baie tevrede was en bekostigbaar is, is uit kiaat, ysterhout, bamboes en beukehout.
Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om hierdie berig in PDF-formaat te ontvang.
Ek stry nie met Annelien se raad nie, maar ek verstaan nie. My Ma het vir meer as 50 jaar op twee planke gewerk. Dis net afgespoel en droog laat word. Niemand het ooit siek geword nie. Olie is NOOIT naby die planke gebring nie. Ek het vandag nog een van die borde en gebruik steeds op selfde manier.