Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Vetkoek

Vetkoek

Die voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist, Annelien Pienaar, sê vetkoek herinner haar altyd aan baie kinders om ʼn tafel.

“Ons het die hele plaas vol gespeel, selfs oor die grensdrade heen. Dan het my middelste sussie die gewoonte gehad om al wat leef en beef, saam te sleep om te kom kuier. Soms het die maats vir dae aaneen gespeel! Ons spot nou nog oor die een kind wat gepraat het van ‘jou ma se vetkoek’.

“Vandag in my eie huis word ‘jou ma se vetkoek’ voortgesit as die maters kom kuier.

“Wat vir my altyd lekker is, is as die kinders net een slapie sou kuier en dan kom die vraag elke dag vir vyf dae: ‘Tannie, mag ek nog een slapie slaap, sal tannie my ma bel?’ Komende van 16 jaar oue manne met die sagte baarde!”

Hier is my ma se resep!

Vir ’n hol vetkoek stel ek voor om so 100 ml water ekstra by te voeg in die beslag. Die deeg moet slap wees. Sny die deeg deur dit met die mes af te druk en nie te sny nie. So verseël die kante en stoom kan nie ontsnap nie. Indien jy ’n deegvetkoek verkies, hou by die resep soos aangedui. Lekker bak!

Lewer 20 medium vetkoeke

Bestanddele

  • 1 kg koekmeel of witbroodmeel
  • 1 sakkie kitsgis (10-14 g)
  • 1 e suiker
  • 1 t sout
  • 100 ml melk
  • 1 e botter of margarien
  • 500 ml lou water
  • 1,25 l sonneblomolie vir diepvetbraai

Metode

  1. Sif koekmeel met sout en suiker saam. Voeg dan die gis by die meelmengsel en roer goed deur.
  2. Voeg die melk, botter en water by die meelmengsel en knie tot ’n sagte deeg vir 10 minute.
  3. Laat die deeg vir 30 minute rus om dubbel die volume te rys. Knie die deeg af en rol plat uit, ongeveer 3 cm dik. Nou kan jy vormpies druk of net in vierkante sny. Los die deeg weer so 10 minute terwyl die olie warm word.
  4. Bak die vetkoeke tot ligbruin aan weerskante. Sit voor met kerriemaalvleis!

Wenk: Ek laat die kinders klein balletjies maak of vlegseltjies van die oorskietdeeg; sodra dit uit die olie kom, gooi ek dit in koeksisterstroop en rol in klapper. Amper soos die Lokma van die Turke!

Besoek Annelien Pienaar se webwerf en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

FM ·

Ek lief daai

Kan ek nog een slapie bly?

Sal Tannie my ma skakel en vra?

Die pad na elke kind se hart loop deur daai magie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.