Soorte resepte:

Boekresensie: Klein kook en geniet

Die Klein kook en geniet deur S.J.A. de Villiers en Eunice van der Berg word deur Human & Rousseau uitgegee.

Hierdie eg Suid-Afrikaanse kookboek word met trots voorgeskryf vir alle ouderdomme en maak jou in ’n japtrap touwys in die basiese kuns van kosmaak. Al is ek nou nie juis meer ’n beginnerkosmaker of -bakker nie, het ek steeds baie waarde geput uit die gewilde Kook en geniet se kleinsus getiteld Klein kook en geniet. Die grootformaat sagtebandboek van 160 bladsye is tjokkenblok vol pragtige volkleurfoto’s deur Myburgh du Plessis en 55 spesiaal uitgesoekte en deeglik getoetste wenresepte deur Eunice van der Berg.

“Hierdie boek sal jou leer hoe maklik en lekker dit is om kos te maak.” Dis reeds dié belofte wat my weer na Klein kook en geniet laat kyk het. “Die resepte is so geskryf dat dit jou sal leer kook en bak. Die metodes word almal met foto’s verduidelik. Hierdie metodes word ook in ander kookboeke gebruik. Leer dus eers om hierdie metodes te volg, en jy sal uit enige ander resepteboek kan kosmaak!” En sowaar, ek is beïndruk; dié prettige kookboek is net een groot plesier van voor tot agter!

Die instruksies is maklik om te volg, en danksy die stap-vir-stap foto’s sien jy ook sommer hoe word dinge op die regte manier gedoen. Die eerste 26 bladsye word gewy aan kombuisetiket. Jy word byvoorbeeld vermaan om te alle tye veiligheidsbewus te wees en ook om ná die tyd op te ruim. Daar is ’n interessante Ken jou kosse-afdeling waar jy daaraan herinner word dat hoewel dit lekker is om te eet, jy ook gesond moet eet. Nie net word jy meer wys oor oondtemperature en leer onder meer hoe om korrek af te meet en ’n tafel te dek nie, maar jy leer ken ook die name van kombuisgereedskap. Sekere woorde wat kokke geredelik gebruik en wat in feitlik alle kookboeke voorkom, word geïllustreer en omskryf. Dit is woorde soos soteer, vlok, room, stowe, ens.

Van Klein kook en geniet se hoofstuktitels is: Dranke; Ontbyt; Maaltydgeregte; Slaai, groente en rys; Poedings; Skons, pannekoek en broodjies; en Koekies, koek en lekkers. Ek noem hier onder as voorbeeld drie resepte uit elke hoofstuk:

  • Dranke (piesangmelkdrank, sjokolademelkskommel, en partytjiekoeldrank)
  • Ontbyt (appel-jogurtontbyt, Franse braaibrood, en gebraaide kaasbroodjies)
  • Maaltydgeregte (krummelhoenderborsies, tunakasserol, en frikkadelvormpies)
  • Slaai, groente en rys (gekookte groenboontjies en ander groente, gebakte aartappels, en oondtjips)
  • Poedings (koekstruif, gebakte sagopoeding, en gebakte krummelappelpoeding)
  • Skons, pannekoek en broodjies (kaasskons, semelmuffins, en fyn toebroodjies)
  • Koekies, koek en lekkers (grondboontjiebotterkoekies, bros vlakoekies, en suurlemoenblokkies)

My gunstelinggeregte in Klein kook en geniet is natuurlik die verruklike neut-karamels op bladsy 150, die kleurvolle uitpakslaaie op bladsye 78 tot 81, die macaroni-en-kaas resepte op bladsye 52 tot 54, en roereier en kaas op bladsy 40.

Jy kan jou maar reghou vir baie ure se pret in die kombuis wanneer jy Klein kook en geniet sou inspan om jouself of jou kinders te leer oor kosmaak en bak. Dié kookboek staan nie ’n tree terug vir meer gevorderde resepteboeke net omdat dit gemik is op die onervare kok nie. Dit is prettig, maklik en leersaam.

S.J.A. de Villiers was ’n huishoudkundige by die destydse departement van landbou. Sy het op Stellenbosch gewoon en is in 2010 in die ouderdom van 91 jaar oorlede. Eunice van der Berg is die dogter van S.J.A. de Villiers, die skrywer van Kook en Geniet.

Skaf jou kopie van Klein kook en geniet hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Ek het jare terug vir my dogter, toe sy nog op laerskool was ‘n Klein kook en geniet gekooo. En ons het lekker uit hom kos gemaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.