Soorte resepte:

Boekresensie: Kosbaar

Kosbaar: Skep herinneringe met ’n feesmaal deur Elmarie Berry word uitgegee deur Penguin Random House SA. Lindy Kriek is die fotograaf, Beverley Dodd die uitgewer en Aimee Carelse die besturende redakteur.

Ek het nou maar eenmaal ’n swakheid vir kookboeke, en deesdae s’n is mos kunswerke in die kleine. Daar word geweldig baie moeite gedoen met die stilering, fotografie en ontwerp, die keuse van resepte en natuurlik die bykomende staaltjies en vertellinge wat die leser vasgenael hou. Kosbaar, die debuutkosboek van die bekende kos-en-wynblogger, Elmarie Berry, kan kers vashou by die beste.

Ek het my behóórlik verlustig in dié pragpublikasie. Die kamera is ook baie lief vir Berry, ’n beeldskone donkerkop, en daar is pragtige foto’s van dié skrywer, kosstilis en fotograaf tussendeur die ryk, atmosfeerryke kosfoto’s. “My hartsbegeerte is om vir jou ’n mooi boek te gee, ’n boek wat jou siel gaan voed, om uit te sien daarna om in jou kombuis saam met jou hartsmense herinneringe te maak, om te weet jou pad is ’n spesiale pad wat vir jou uitgelê is – jy moet dit net aangryp en stap,” skryf Berry op bladsy 4.

Kosbaar, met ’n sagtebandomslag, beslaan 176 bladsye en nege hoofstukke. Die beskrywende hoofstuktitels is “My trousseau-geskenk aan jou”, Koningskos oor die kole”, “Samesyn – almal is welkom”, “Kos & wyn skep ’n simfonie”, “Moenie jouself vergeet nie”, “Wees dankbaar en deel”, “My reisontdekkings gee inspirasie”, “Nuwe seisoene beteken groei” en “Die laaste maal”. Daar is ook ’n interessante inleiding en voorwoord asook ’n volledige resepte-indeks. Berry dra die boek onder meer op “aan my wonderlike man, Thian, en kinders, Bjorn en Kayla, wat my ondersteun en onvoorwaardelik liefhet sodat ek my passie kan uitleef”.

In die inleiding vertel Berry meer oor haarself: “Ek is ’n Bloemfonteinse meisie, gebore en getoë. Kos is van kleins af in my bloed en die kombuis my troon. My kosblootstelling is ’n goeie mengsel van Libanese en boerekos. Ouma Cedar Haddad was volbloed Libanees en haar kos eg Suid-Afrikaans met ’n sterk Libanese invloed (4). Sy het op 15 reeds koskursusse begin doen en ná skool het drie jaar in ‘fine dining’-restaurante haar die fynere kunsies van die Franse kookkuns geleer.

Dit is egter haar getuienis oor hoe die Here haar en haar gesin deur ’n baie moeilike tyd gedra het, wat my laat regop sit het. Dit is altyd so inspirerend wanneer suksesvolle mense aan Hom die eer gee vir wat hulle in hulle lewe bereik. Carmen Niehaus skryf in die voorwoord: “… dis nie net sommer net so ’n kosboek nie: Dis ’n besonderse verhaal van om in absolute geloofsvertroue te handel, om haar kruik te vul met haar olyfolie en te gaan uitdeel – haar spesiale gawe om te kan kosmaak; nie net lekker nie, maar ook mooi (7).

Hier is ’n paar van die allerheerlike resepte wat in Kosbaar verskyn: Outydse fudge, Nostalgiese melktert, Gebakte souskluitjies, Lasagne-pot, Rooibosteehoender, Gebakte beesstert met olywe en lemoen, Romerige salmpasta, Vars brandrissiesous, Sjokolade-espressokoek, Kaasballetjies uit Mauritius, Eend in Toskaanse rooiwynsous, Franse uietertjies, Neuterige koffiekoek met tiemie, Libanese hoenderkerrie met mezze en Bobotie met neute en kaneel.

Berry is ook mede-eienaar van Samesyn, wat kosfotografie op linne, tafeldoeke, servette, teelappies, kussings en komberse druk.

Skaf gerus jou kopie van Kosbaar hier aan. Dit is ook by toonaangewende boekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.