Soorte resepte:

Boekresensie: Recce-resepte vir kos, die bos, die lewe

00 Recce flexibound.indd

Douw Steyn en Justin Vermaak

Tensy jy die afgelope tien jaar of so in ’n diep Rip van Winkel-slaap verkeer het, weet jy dat kosmaak die nuwe gholf is. Jy kan skaars jou agterent draai, of jy sien ’n nuwe kookboek of -program. En dis nie net vrouens nie, dink aan ouens soos Jamie Oliver, Gordon Ramsay, Nataniël – en natuurlik Jan Hendrik van der Westhuizen, Suid-Afrika se eerste Michelinster-sjef.

Dan word daar ’n boek soos Recce-resepte vir kos, die bos, die lewe gepubliseer en jy begin effens kopkrap. Kan Recces, soos informeel na Suid-Afrika se Spesiale Magte Operateurs verwys word, kosmaak? Want die meeste sjefs, met die uitsondering van Ramsay, wie se taalgebruik hom kwalifiseer om ’n sammajoor in die leër te wees, is nou nie juis soldaat-materiaal nie. Die vraag is dus, hoekom sal ’n mens in die eerste plek hierdie boek wil koop?

Wel, daar is twee baie goeie redes.

Die eerste rede is dat die resepte verbasend goed is, al laat die titel jou (verkeerdelik) vermoed dat dit net ’n klomp bully beef en dog biscuit variasies bevat. Want as jy self al kosgemaak het, sal jy weet dat kosmaak beteken dat jy moet kan planmaak. En wie kan beter planmaak as ’n Recce? Die hoofstukke het treffende titels soos “AS DIT SWEM”, “AS DIT VLIEG”, “AS DIT LOOP” en “AS DIT GROEI”. Daar is smaaklike resepte met puik fotografie van disse soos beesstert, skaapskenkelpotjie, gebakte beesrib, eisbein, hoender-schnitzel, road-runner kerrie (ja, jy’t reg geraai, dis ’n hoendergereg), volstruis-carpaccio en gebraaide kreef.

Die tweede rede is dat dit ’n menslike, fassinerende, geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte is. Op bladsy 113 vertel hulle byvoorbeeld hoe “Bone” Boonzaaier, wat die volle gebruik van sy regterarm verloor het na ’n skietwond, vanuit die basis gesorg het dat operateurs warm gebakte biefstuk per helikopter gekry het tydens aanvullings, selfs al was hulle 300 km diep in die bos ontplooi!

Dit gee jou ’n blik op die tot-nou-toe geheime lewens- en werksomstandighede van hierdie elite-eenheid se soldate. Ook komieklike situasies soos toe hulle in 1976 teësinnig vir Pik Botha en sy ministeriële gevolg moes onthaal en besef het dat hulle die besoekers eerder dronk moes maak as om uit te lewer aan die katastrofiese gevolge van ’n aangeklamde basis-sjef.

Wie sal in die boek belangstel? Wel, basies enigiemand wat diensplig in die SAW gedoen het en selfs met ’n tikkie nostalgie terugkyk na “die beste twee jaar van my lewe wat ek nooit weer wil herhaal nie”. Ook hulle vroue en kinders. En almal wat hou van voetslaan, kampeer en 4×4-reise – en in ’n stadium langtand begin raak vir braaivleis 12 aande in ’n ry. Hierdie is meer as ’n vermaaklike kookboek. Dis ’n historiese dokument wat hoort op die rak van enigeen wat hoegenaamd in die grensoorlog – en lekker eet – belangstel. Dis nie net ’n lekkerleesboek met foto’s van legendariese Recces en stories oor hulle opleiding en geheime operasies nie, dis ook die ideale Kersgeskenk vir die mans in jou lewe.

Soos die outeurs in die inleiding skryf: “Om hierdie boek ten volle te geniet, stel ons voor dat jy eers ’n glasie wyn gaan skink en ’n gemaklike stoel nadertrek… Of as bier jou inspireer, gaan gryp ’n yskoue een uit die yskas. En as koffie jou ding is, moet die liewe vader jou maar help. Mag die boek jou inspireer en jonk van gees hou.”

Daar is nog baie ander soortgelyke geheime in hierdie boek. Maar as ek hulle uitlap, sal ek jou moet doodmaak.

Resensie deur Jaco Kirsten

Uitgewer: Jonathan Ball Uitgewers
Prys: R340-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Koop die boek: Takealot, Graffiti Boeke, Exclusive Books

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.