Soorte resepte:

Braaidag: Maroela-lesers deel braaiwenke

(Foto: Verskaf/BIC)

Met Braaidag om die draai (Vrydag 24 September) het Maroela Media sy lesers gevra om ʼn paar handige braaiwenke in te stuur. Hier is ʼn paar:

  • As teedrinker is dit maklik om teesakkies eenkant te bêre en dan in paraffien te doop en te laat staan om droog te word. Dit is ʼn goeie vuuraansteker en brand lekker. ~ Ella de Meyer
  • Om taai vleissnitte, wat dikwels bietjie goedkoper is, ekonomies aan te wend en steeds heerlik te eet, marineer ek dit oornag in ʼn mengsel van karringmelk, speserye en vars kruie. Ek braai of oondbraai dit dan sonder die marinade en voeg minimaal speserye by, omdat die marinade die vleis reeds sag gemaak en gegeur het. ~ Jeanette Ras
  • As jy beesvleis braai, soos biefstuk, neem ʼn ryp veselperske, rol hom, sny hom oop en drup die sap op die biefstuk terwyl jy braai. Dit gee ʼn heerlike smaak aan die vleis. ~ Michelle Lessing
  • Wanneer ons snoek braai, word ʼn sous gemaak en oor die snoek gesmeer gedurende verskillende fases van die braai. Die sous word gemaak van mayonnaise, gesmelte botter, suurlemoensap en vars, fyngemaakte knoffel. Dit is heerlik en hou die vis klam en geurig. Geen appelkooskonfyt op snoek vir my nie. ~ Kitty Beukes
  • As jou vuur nie lekker wil brand nie en dit lyk of die hout sukkel om vlam te vat, gooi ʼn ruim skeut suiker oor die hout. Die suiker verhoog die temperatuur van die vuur en enige vog verdamp vinnig. ~ Sari Schoeman
  • Maak jou braaibroodjies met enigiets op wat jy wil. Die geheim is: Draai dit toe in waspapier, soos ʼn skooltoebroodjie. Braai dit in ʼn toeknyprooster of bo-op ʼn oop rooster. Die broodjies brand nie en word mooi bruin. Onthou, die waskant van die papier moet na buite wys. Ek het dié wenk 50 jaar gelede by my skoonpa gekry en dit werk nog altyd vir my – geen swartgebrande broodjies nie! ~ Rina Barnard
  • Ek het ʼn oulike ding geleer in Madeira by die Portugese: Kry vir jou vars kruie en sodra die vleis op die kole is, gooi die vars kruie op die kole. Omdat dit vars kruie is, rook dit dadelik en trek die kruie se geur onmiddellik in die vleis in. Dit is verfrissend lekker. ~ André Diederichs
  • Die braaier in ons huishouding het altyd ʼn humoristiese voorskoot aan waarby die braaitang deel uitmaak van die uitrusting. Moet nooit die braaibroodjies vergeet nie, want dit is jou enigste kans in die lewe om jou brood aan albei kante gebotter te kry. ~ Sanette Ralph

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Suiker brand en verhoog nie die temperatuur nie. Daarom steek dit die hout aan die brand en gee ‘n langer vlam onder die hout. Moenie suiker mors nie, dis te duur. Vuuraanstekers werk netso goed hiervoor.

Opmerklik dat hierdie wenke hoofsaaklik van vroue afkom, in die tradisionele “mans” onderwerp. Dis lekker dat vroue hulle regmatige plek opeis langs die braaivleis vure!

Nog ‘n wenk, meng roomkaas met vars gekapte of verpulpte knoffel en smeer aan die binnekant van jou braai broodjie in plaas van botter.

Vleis teen kamer temperatuur braai vinniger en verloor minder vog.

Rina, ek gaan jou wenk beslis probeer, sommer vannaand al!

Eend Bessinger ·

Vinnige marinade: 1/4 koppie asyn, 3/4 koppie olie of water, speserye en sout na smaak. En moenie vergeet om die vleis verskeie kere te prik nie, anders trek die speserye nie diep genoeg in nie. Goed vir vleis of vis, maar vis moenie langer as 30 minute gemarineer word nie anders begin dit “kook”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.