Soorte resepte:

Britte kry nou rooibos-lattés by Starbucks

Die nuwe Rooibos Latte (Foto: Verskaf)

Die wêreld se grootste ketting-koffiewinkel, Starbucks, het twee rooibos-drankies op sy spyskaart in Brittanje bygevoeg.

Starbucks het ʼn rooibostee-latté en ʼn rooibostee-latté met appelgeur by sy spyskaart gevoeg. Die drankies word beskryf as elegant en gemaak deur ʼn nuwe metode wat maksimum geur uit die tee onttrek. Brittanje het een van die wêreld se grootste markte vir tee, en die rooibostee-drankies is nou in 950 winkels oor die hele Brittanje beskikbaar.

Adele du Toit, woordvoerder van SA Rooibos, het gesê dit is baie opwindend dat rooibos so ʼn prominente rol in Starbucks in Brittanje se spyskaart speel.

“In ʼn streek waar 60 miljard koppies tee jaarliks gedrink word, met meer as 1 200 variasies om van te kies, is dit ʼn groot eer vir rooibos om deur die Britte verwelkom te word,” het Du Toit gesê.

Afgesien van rooibos se gesondheidsvoordele, danksy die hoë vlak van antioksidante, is dit volgens Du Toit een van Suid-Afrika se mees veelsydige produkte.

Argieffoto

“Daar is baie innovering met rooibostee aan die gang. Rooibos-cappuccino’s en rooibos-lattés is onder meer aan die voorpunt hiervan. Vir die jonger generasie is ʼn standaardkoppie tee nie meer genoeg nie. Millennials wil tee van ʼn hoër gehalte, met baie verskillende opsies en geure, hê om van te kies.”

“Verbruikers wil nou gehaltetee drink wanneer hulle die ketel aanskakel. Geurige tee en spesialiteitstee word beskou as ʼn lekkerny en verbruikers is bereid om meer te betaal vir hulle koppie tee,” het Du Toit gesê.

Suid-Afrika voer tans rooibostee uit na meer as 30 lande, waaronder Brittanje, Duitsland, Nederland en Amerika. Rooibostee word slegs in die Cederberg-gebied in die Wes-Kaap gekweek, en is waarskynlik een van Suid-Afrika se topuitvoerprodukte. Die internasionale belangstelling in rooibostee sal die vraag na dié plaaslike produk laat toeneem wat weer plaaslike ekonomiese groei sal stimuleer.

Starbucks in Suid-Afrika sal ook in die volgende paar maande ʼn nuwe reeks rooibostee-drankies op sy spyskaart byvoeg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bok ·

Nou BETAAL ons jarelane Rooibostee drinkers vir die uitvoere.

JaNee ·

Rooibos is al ‘n hele tyd by Starbucks in die VSA beskikbaar.

John ·

En geen belasting ge-in vir die rooibostee-drinkery nie. Ons val net die heeltyd oor ons voete om almal te please en die tee word al duurder en word later net in die buteland verbou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.