Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Aartappelgebak

Aartappelgebak (Foto: Verskaf)

Staan jy ook gereeld soos ek voor die rak met sakke aartappels en wonder watter een om te koop? Want dit is nie asof jy deur net na die aartappel te kyk en te voel, gaan weet of dit melerig of wasagtig is nie.

Annelien Pienaar, voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist, het navorsing gedoen oor algemene aartappel-kultivars in Suid-Afrika en ’n eenvoudige vergelyking opgetrek om makliker besluite te neem as jy aankope doen.

Aartappels Suid-Afrika is ’n organisasie wat kyk na standaarde en nuwe tendense in die aartappelbedryf. Hulle verkoop nie self aartappels nie, maar ek het deur hul inligting gewerk en die volgende opgestel: daar is drie kategorieë vir aartappels geïdentifiseer en daarvolgens kan aankope met gemak in die winkels gedoen word.

Indien sakke nie duidelik gemerk is nie, kan jy die verskaffer se besonderhede op die verpakking opvolg en so navraag doen oor die aartappel-kultivar.

Aartappels se voedingswaarde is legio en dit bevat onder meer proteïne, vitamiene en minerale en saam met ander bestanddele kan dit ’n volledige ete word.

In my huis skil ek omtrent nooit ’n aartappel nie behalwe as ek kapokaartappels maak. Maar selfs in hierdie geval kook ek eers die aartappel in sy jassie gaar en trek dan die skilletjie af.

Die rede waarom ek nie aartappels skil nie, is bloot die feit dat die meeste van die voedsaamheid in die skil lê. Daarom het my familie leer gebakte aartappels en aartappelskyfies eet met die skil en al.

Kategorieë
1. Wasagtige aartappels
• Kultivar: Mondial, Fabula en BP13
• Hierdie aartappels het ’n baie lae styselinhoud, maar is hoog in vog. Dus is dit geskik vir die kook van aartappels vir skyfies, aartappelslaai en aartappelkoekies (hashbrowns/rosti) en verloor dit nie sy vorm in die kookproses nie. Dié soort aartappels word vir die massavoedselverwerkingsbedryf, onder andere kitskos, geproduseer. As jy die regte soort “slaptjips” wil maak, is dit die aartappel om te kies.

  1. 2. Wasagtige en melerige aartappels
    Kultivar: BP1, VDP, Fianna, Valor, Sifra of beter bekend as Bianca
    • Hierdie aartappel is ’n kombinasie van goeie stysel- en voginhoud en is uiters veeldoelig en ook die meeste van die tyd op winkelrakke beskikbaar. Dit is dus geskik vir enige resep.
  2. Melerige aartappels
    • Kultivar: Caren, Darius en Avalanche
    • Hierdie aartappel bevat meer stysel as vog en is perfek vir die maak van kapokaartappels of brosgebakte aartappels met ʼn sagte binnekant.

Aartappelgebak

Bestanddele

  • 750 g gerasperde aartappel, rou
  • 250 g sampioene, fyn gekap
  • 250 g spekvleis, gaar, fyn gekap
  • 250 ml maaskaas
  • 2 ekstragroot eiers
  • 60 ml koekmeel
  • 5 ml knoffel, fyn gedruk
  • 15 ml gerookte paprika
  • 5 ml roosmaryn, gedroog
  • 5 ml sout
  • 5 ml swart peper, vars gemaal
  • 1 k cheddarkaas, gerasper

Metode

  1. Voorverhit oond tot 180 °C en smeer ’n oondvaste skottel van 20 cm x 30 cm met botter uit.
  2. Meng al die bestanddele saam behalwe die kaas. Skep in die oondvaste skottel, sprinkel kaas oor en bak vir 45 minute.

Wenk: Hierdie mengsel maak ook heerlike kolwyntjies en bak vir dieselfde tyd en by dieselfde temperatuur. Of vir kampkos maak dit heerlike aartappelkoekies oor die kole.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.